Tuesday, October 22, 2024
HomeMagazinesBloednier is voorkombaar

Bloednier is voorkombaar

Estimated reading time: 5 minutes

  • Bloednier is ’n ernstige siekte wat kleinveeprodusente duur kan kos en kom hoofsaaklik onder skape voor.
  • Bloednier word veroorsaak deur die bakterie Clostridium perfringens tipe D wat in die dermkanaal van herkouers voorkom.
  • Daar is verskeie faktore wat aanleiding kan gee tot bloednier soos ’n dermkanaal wat gaan staan of ‘n skielike verandering van voersamestelling.
  • Daar is eintlik geen behandeling vir diere wat aan dié siekte lei nie.
  • Die belangrikste simptoom wat die rooiligte moet laat flikker, is die skielike vrektes in die kudde.

Bloednier is ’n ernstige siekte wat kleinveeprodusente duur kan kos. Dit kom hoofsaaklik onder skape voor en tot ’n mindere mate onder bokke. Dit is al selfs by beeste gediagnoseer, maar nie tot so ’n groot mate nie.

Dr Murray Smith, ’n veearts van Riemland Dierehospitaal in Reitz, verduidelik dat bloednier as ’n bakteriese siekte geklassifiseer word. Dit word veroorsaak deur die bakterie Clostridium perfringens tipe D wat in die dermkanaal van herkouers voorkom.

Oorsake van bloednier

Dit is deel van die Clostridium-bakteriegroep wat ook ’n verskeidenheid van ander siektes veroorsaak soos lamsiekte, sponssiekte en rooiderm. Swaar wurmbesmettings kan ook bloednier veroorsaak.

Daar is verskeie faktore wat aanleiding kan gee tot bloednier soos ’n dermkanaal wat gaan staan, skielike verandering van voersamestelling, vinnige verandering van swak weiding na goeie weiding en diere wat hulself oorvreet, asook skielike blootstelling aan konsentrate en ontwurming.

’n Vinnige verandering in die weersomstandighede kan verlepte weiding veroorsaak, wat ook bloednier tot gevolg kan hê.

“Enigiets wat die normale omgewing van die dermkanaal versteur, soos ‘n oorinname van stysel (byvoorbeeld mielies) of na ontwurming, sal veroorsaak dat die klostridiale bakterieë wat normaalweg in die dermkanaal voorkom teen ’n geweldige tempo begin groei. Tydens hierdie proses word groot hoeveelhede gifstowwe afgeskei en dit is hierdie gifstof of toksien wat die groot probleem meebring. Dit veroorsaak ’n verskeidenheid van patologiese toestande in die skaap en bloednier is dus die gevolg van die toksien wat in die skaap se derms afgeskei word,” verduidelik hy.

Lees meer oor bloednier.

Behandeling van bloednier

Dr Smith sê daar is eintlik geen behandeling vir diere wat aan dié siekte lei nie. Dit gebeur so vinnig vandat die toksien afgeskei is tot die dier doodgaan, dat daar nie werklik ’n behandelingsmetode is nie. Dit kan enkele ure duur en al wat jy gaan aantref is skape wat dood in die veld lê. Volgens hom stel oorsese literatuur voor dat ’n antiserum ingespuit word, maar tot dusvêr is dit nie beskikbaar in Suid-Afrika nie. Die beste metode van behandeling is dus om voorkomend op te tree.

“Wat my betref is bloednier die mees onnodige siekte wat onder kleinvee kan voorkom. Dit is hoogs voorkombaar deur ooie ’n maand of ses weke voor die lammers gebore word, te ent. Nóg beter is ooie wat op ’n goeie inentingsprogram is. Hulle lammers word vir 12 tot 16 weke deur die biesmelk beskerm tot hulle weer ingeënt kan word. Deesdae is baie goeie entstowwe beskikbaar vir klostridiale siektes wat bloednier kan voorkom,” is dr Smith se raad.

Opvolgvoorkoming

Hy voeg by dat dit baie belangrik is dat die lammers wat ingeënt word ’n maand later weer ingeënt word, anders verloor hulle daardie primêre immuniteit wat hulle ontvang het.

Daar kom wel gevalle voor waar bloednier ’n kuddeprobleem kan wees. Sy raad is dat die skape dadelik na swakker weiding verskuif word. In die geval van voerkrale kan die koolhidrate in die voer verminder word.

“Iets wat ook kan help as daar bloednier in ’n trop skape uitgebreek het, is om blomswael by die lek te voeg. Dit sal help om te keer dat die Clostridium-bakterieë vermeerder en jou ’n kans gee tot die entstof begin werk. Daarmee saam moet die oormaat van smaaklike kos ook verminder word.”

Leer meer oor Corynebacterium absesse in kleinvee hier.

Simptome van bloednier

Omdat dit ’n siekte met ‘n vinnige verloop is wat tot vrektes lei, is daar nie baie tyd om te let na simptome nie. Die belangrikste simptoom wat die rooiligte moet laat flikker, is die skielike vrektes in die kudde. Die karkas blaas dikwels gou op en daar is wit of pienk skuim by die neus.

“Daar is egter ander siektes wat ook hierdie simptome toon. Daarom is dit belangrik dat indien daar baie vrektes in die kudde is, die veearts ingeroep word sodat hy ’n definitiewe diagnose kan maak.”

Nadoodse tekens waarna die veearts sal oplet is bloeding onder die vel (veral in die nek van die skaap), ’n jellieagtige vloeistof in die hartsak, bloeding op die hartspier en diafragma, derms wat leeg en vol wind is, longe wat geswel is en skuim in die lugpyp, niere wat pap en bloederig voorkom, en suiker in die dier se urine.

Dit is belangrik dat hierdie siekte so gou as moontlik geïdentifiseer word voordat dit hand oor kop toeneem en te veel skade vir die produsent meebring. Dr Smith beklemtoon dat dit ’n voorkombare siekte is en met ’n goeie gesondheidsplan vir die diere op jou plaas kan dié risiko uitgeskakel word. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Murray Smith by 058 863 3099.

Must Read

Tal-Tec celebrates 50 years of innovation

Estimated reading time: 4 minutes South African livestock equipment manufacturer, Tal-Tec, recently celebrated five decades of innovation in this Talbot family business located in Brits,...