Wednesday, September 11, 2024
HomeAgri NewsGriekwastad-skou 2024: ‘n Landbouskou van formaat

Griekwastad-skou 2024: ‘n Landbouskou van formaat

Estimated reading time: 5 minutes

Die Griekwastad-skou, wat van 14 tot 15 Maart 2024 plaasgevind het, was ‘n fenomenale sukses. Met ‘n rekordgetal uitstallers en inskrywings, is dit duidelik dat die skou jaarliks nuwe hoogtes bereik. Die toewyding van die skoukomitee het verseker dat elke jaar se skou nog beter is as die vorige, en hulle kan met reg trots wees op hul prestasies.

Die skou het vanjaar die Noord-Kaapse Boerbok- en Savanna-kampioenskappe aangebied. Anja Meintjes, sekretaresse van die skoukomitee, het aangedui dat daar planne is om die Boerbok- en Dorper-kampioenskappe af te wissel. Die Dorperskou veral is die ideale voorloper vir die Bloemfontein-skou.

‘n Besondere toevoeging tot die skou was die Persie-skaapkompetisie, waar swartkop-, rooikop- en skilder-Persies hul staal gewys het. Die interrasbeeskompetisie het beesprodusente die geleentheid gebied om hul diere teen die hoogste standaarde te meet.

Rekordgetal inskrywings vir Boerbokke

Die Boerbok-kampioenskappe het ‘n rekordgetal inskrywings gelok, wat dit een van die grootste Boerbok-kampioenskappe maak wat nog by die Griekwastad-skou aangebied is. Volgens Meintjes is dit een van die grootste Boerbok-kampioenskappe wat nog by Griekwastad-skou aangebied is.

Lukas Burger van Griekwastad het uitgeblink deur beide die reserwe- en juniorkampioenramme te vertoon. Die reserwe-juniorkampioen-ooi het ook uit sy kraal gekom. Die juniorkampioen-ooi was dié van Hein Booysen van Kuruman.

In die senior afdeling het Burger die reserwe- sowel as die seniorkampioen-ram vertoon en die seniorkampioen-ooi kom ook uit sy stoet, met Connie Coetzee van CNC Boerdery in Prieska wat die reserwe-seniorkampioen-ooi ingeskryf het.

Burger het die grootkampioen-ooi vertoon en die reserwe-grootkampioen-ooi kom uit die stoet van Booysen. Burger het ook met die louere weggestap toe die grootkampioen-ram sowel as die reserwe-grootkampioen-ram gekroon is.

Savanna-bokke sorg vir verrassings

Die Suid-Afrikaanse Savanna-kampioenskappe het vir ‘n verrassing gesorg toe Maize Valley Boerdery van Hoopstad byna al die pryse ingepalm het. Eienaars Ju-Mari Pretorius en Andrew Roberts het die kompetisie oorheers, met uitstekende prestasies in beide die junior en senior afdelings. Hulle het uiteindelik ook die reserwekampioen-ram en die grootkampioen-ram sowel as die reserwe-grootkampioen-ooi en die grootkampioen-ooi vertoon. 

Persies van Willowmore presteer

Tydens die Persie-skaapkompetisie het Dirk Lötter van Willowmore die reserwe-grootkampioen-ram sowel as die grootkampioen-ram vertoon.

Lötter het ook die grootkampioen-ooi vertoon en Gielie Oberholzer van Postmasburg, het met die reserwe-grootkampioen-ooi gespog.

Interrasbeeskompetisie

Griekwastad-skou is een van die min plattelandse skoue in die Noord-Kaap wat tradisioneel skaapwêreld is, maar ook met ’n interrasbeeskompetisie kan spog.

Hierdie kompetisie het ‘n unieke geleentheid gebied vir beesprodusente om hul diere teen ander rasse te meet. Beoordelaars Schalk Erlank en Marinda Otto het die moeilike taak gehad om die beste uit vyf mededingende rasse te kies. Uiteindelik is Riekie de Witt se Simmentaler-bul as die grootkampioen-bul gekroon, met Johannes Jordaan se Simbra-bul wat die reserwe-grootkampioen-bul titel ontvang het.

Klik hier om meer van Jansenville-skou te lees.

De Witt het ook die grootkampioen vroulike dier tydens hierdie kompetisie vertoon. Die reserwe-grootkampioen vroulike dier was die Branguskoei van Zirkie Jansen van Griekwastad. Die skoukomitee het reeds weer aangedui dat hulle groot planne het vir volgende jaar se Griekwastad-skou. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Noord-Kaap Boerbok-kampioenskappe
By die Noord-Kaap Boerbok-kampioenskappe het Lukas Burger verskeie prestasies behaal. Burger het, onder andere, met die louere weggestap toe die grootkampioen-ram sowel as die reserwe-grootkampioen-ram gekroon is. Van links na regs is Hermien Burke, Dawid Louw, beoordelaar, Abraham Burger, Lukas Burger, Riekie de Witt en Gert van Wyk, beoordelaar.
Tydens die Noord-Kaap Savanna-kampioenskap het Ju-Mari Pretorius en Andrew Roberts van Maize Valley Boerdery die seniorkampioen ram vertoon. Die hanteerder is Anton Thys.
Tydens die Noord-Kaap Savanna-kampioenskap het Ju-Mari Pretorius en Andrew Roberts van Maize Valley Boerdery die seniorkampioen-ram vertoon. Die hanteerder is Anton Thys.
Die reserwe juniorkampioen ram, sowel as die juniorkampioen ram van die Noord-Kaap Savanna Kampioenskappe op die Griekwastad-skou, is deur Maize Valley Boerdery van Andrew Roberts en Ju-Mari Pretrorius van Hoopstad vertoon. Op die foto is Ju-Mari en die twee hanteerders is Juandré Fouche en Keke Chanechane.
Die reserwe-juniorkampioen-ram, sowel as die juniorkampioen-ram van die Noord-Kaap Savanna-Kampioenskappe op die Griekwastad-skou, is deur Maize Valley Boerdery van Andrew Roberts en Ju-Mari Pretrorius van Hoopstad vertoon. Op die foto is Ju-Mari en die twee hanteerders is Juandré Fouche en Keke Chanechane.
Tydens die Persie-skaapkompetisie het Dirk Lötter van Willowmore die reserwe-grootkampioen ram sowel as die grootkampioen ram vertoon. Sy pa, Kobus Lötter, (regs), het die pryse namens hom ontvang. Dirkie Liebenberg van die Persieskaap-telersgenootskap was die beoordelaar. Die hanteerders is Edwill Manual en Petrus Olyn
Tydens die Persie-skaapkompetisie het Dirk Lötter van Willowmore die reserwe-grootkampioen-ram sowel as die grootkampioen-ram vertoon. Sy pa, Kobus Lötter, (regs), het die pryse namens hom ontvang. Dirkie Liebenberg van die Persieskaap-telersgenootskap was die beoordelaar. Die hanteerders is Edwill Manual en Petrus Olyn.
Riekie de Witt se Simmentaler-bul as die grootkampioen bul gekroon tydens die interrasbeeskompetisie op die Griekwastad-skou.
Riekie de Witt se Simmentaler-bul as die grootkampioen-bul gekroon tydens die interrasbeeskompetisie op die Griekwastad-skou. De Witt het ook die grootkampioen vroulike dier tydens hierdie kompetisie vertoon.
Tydens Griekwastad-skou se interrasbeeskompetisie is Johannes Jordaan se Simbra-bul as reserwe-grootkampioen bul gekroon. Van links is Schalk Erlank wat as hoof beoordelaar opgetree het, Jacques Steenkamp wat die geleentheid aangebied het, Johannes Jordaan en Marinda Otto, beoordelaar.
Tydens Griekwastad-skou se interrasbeeskompetisie is Johannes Jordaan se Simbra-bul as reserwe-grootkampioen-bul gekroon. Van links is Schalk Erlank wat as hoofbeoordelaar opgetree het, Jacques Steenkamp wat die geleentheid aangebied het, Johannes Jordaan en Marinda Otto, beoordelaar.

Must Read

RSG Landbou: 9 September 2024 – geborg deur BKB

Die provinsiale regering in die Noord-Kaap het in 2019 ‘n ontwikkelingsplan bekendgestel. Agri Noord-Kaap is tans by 23 projekte betrokke en Dirk Krapohl het...