Estimated reading time: 4 minutes
Planne om die Vaalputs-kernafvalstortingsterrein in die Namakwaland uit te brei maak produsente in dié omgewing bekommerd. Só sê Jan Palm, voorsitter van die TLU SA Noord-Kaap.
Lae- en mediumvlak-kernafval word reeds vir die afgelope 39 jaar by Vaalputs gestoor. Dié fasiliteit is op ’n plaas, sowat 100km suid-suidoos van Springbok, geleë. Dit het egter nou bekend geword dat die fasiliteit blykbaar uitgebrei gaan word sodat hoëvlak-kernafval ook daar gestoor kan word. In die toekoms sal die aanleg glo ook ten volle deur die Nasionale Instituut vir die Bestuur van Radioaktiewe Afval (NRWDI) bestuur sal word.

Die gevaarligte flikker vir boere
Palm vertel dat produsente in die Springbok omgewing ’n baie goeie plaasveiligheidstelsel het en die eerste gevaarligte het begin flikker toe daar al hoe meer verslae van produsente af deurgekom het dat daar in die afgelope paar maande baie meer radioaktiewe afval na Vaalputs toe aangery word as voorheen.
“Dit pla ons dat daar besluite geneem word wat ons toekoms en voedselsekuriteit kan bedreig, maar ons mag geen insette lewer nie. Die Namakwaland is landbouwêreld en ons is baie besorg oor ons waterbronne, maar ons kon tot dusver nog geen versekering kry dat die waterbronne beskerm sal word nie. Die antwoorde wat ons kry, is dat Vaalputs afgeleë en yl bevolk is – skynbaar is dit genoeg rede om meer kernafval hier te stoor. Tot dusver kon ons geen impakstudies sien of die versekering kry dat landboubronne soos die ondergrondse waternetwerke beskerm gaan word nie,” sê Palm.
Berging van kernafval
Vaalputs is deur die vorige bedeling gebou met die doel om lae- en mediumvlak-kernafval te stoor. Dit sluit kleredrag van werkers in asook die afval wat NRWDI tans van Suid-Afrikaanse Kernenergie-korporasie (Necsa) en Koeberg ontvang, soos boumateriaal, filters, en chemiese afval.
Hierdie afval word in houers verpak wat weer in 10 meter diep slote geberg en toegegooi word met gekompakteerde grond en natuurlike klei wat in die omgewing voorkom.

Boere se kommer
“As dit ’n sinvolle verbetering en opgradering van die aanleg gaan wees wat geen kontaminasie aan die waternetwerk gaan veroorsaak nie, het ons nie ’n probleem daarmee nie. Ons is egter bekommerd oor voedselveiligheid en volhoubare produksie in die Namakwaland. Enige besoedeling van grond, lug, of veral waterbronne kan ’n direkte bedreiging vir die veiligheid en aanvaarding van voedselprodukte uit hierdie streek inhou” sê Palm.
Hy verwys ook daarna dat die Namakwaland ’n unieke ekostelsel met hoë biodiversiteit het en dat die uitbreiding van die fasiliteit langdurige omgewingskade aan die streek kan berokken.
Produsente is veral ontevrede oor die gebrek aan deursigtigheid en openbare deelname. “Grondeienaars, landbouverenigings, en gemeenskappe moet behoorlik geraadpleeg word met duidelike insae in risiko-evaluasies, beplanningsdokumente, en alternatiewe opsies,” sê Palm. As so ’n projek nie behoorlik aangepak word nie, kan dit baie meer as net voedselsekuriteit benadeel, voeg hy by. Eiendomswaardes kan val en werksgeleenthede kan verminder. Toerisme, een van die trekpleisters van die Namakawaland, kan vernietig word en dit kan die ekonomiese groei in die streek ook kniehalter.
NRWDI is nie bekommerd nie
In ’n onlangse artikel in die vaktydskrif ReSource, oor die toekoms van die Vaalputs-kernafvalstortingsterrein het Riedewaan Barakdien, NRWDI se uitvoerend hoof, bevestig dat Vaalputs opgradeer gaan word om hoëvlak-kernafval te stoor. Volgens hom word die houers waarin die kernafval gestoor word nog altyd sorgvuldig versorg en hy het die versekering gegee dat dit in die toekoms ook die geval gaan wees.
Vaalputs is egter slegs gerat om laevlak-kernafval te berg. Volgens die NRWDI se webtuiste is dit krities dat kernafval op só ’n manier gestoor word dat die afval van mens en omgewing afgesonder is vir tydperke wat verband hou met die leeftyd van die kernafval.
Tans kan slegs laevlak-kernafval (LLW) wat aan die Vaalputs-afvalaanvaardingskriteria voldoen en deur die Nasionale Kernreguleerder (NKR) goedgekeur is, by Vaalputs aanvaar word.
Bronne op NRWDI se webtuiste bevestig ook dat Vaalputs nie gelisensieer is om hoëvlak-kernafval te stoor nie, maar dit gaan glo binnekort verander. In die afgelope vier dekades het Suid-Afrika sowat 1 000 ton hoëvlak-kernafval hanteer. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Ondanks herhaalde pogings om met Riedewaan Barakdien, uitvoerende hoof van NRWDI, kontak te maak, was hy teen druktyd nie bereikbaar nie. Sodra kommentaar ontvang word sal dit by die artikel bygewerk word.

