Estimated reading time: 4 minutes
Die omvattende operasionele plan wat deur georganiseerde landbou, die Wes-Kaapse Departement van Landbou en die Direktoraat Veeartsenykunde saamgestel en geïmplementeer is om die verspreiding van bek-en-klouseer (BEK) in die Wes-Kaap te verhoed, werp vrugte af.
Die vinnige aksie van alle rolspelers het hopelik gekeer dat die siekte nie van die besmette plaas naby Gouda versprei het nie, sê dr Ansulize Pepler van die Staatsveearts-kantoor op Worcester. Die eerste uitslae van die BEK-toetse, wat binne die 10km-radius rondom die besmette voerkraal by Gouda gedoen is, word deurlopend ontvang. Sover is al die resultate negatief. “Dit is goeie nuus, hoewel daar nog baie toetsuitslae uitstaande is. Ons hoop dat die negatiewe hoofstuk in die Wes-Kaapse veebedryf gou afgehandel kan word”.
Op die Velddrif-plaas (een van die ander plase wat ook onder verdenking is) is 30 beeste se bloed getrek en ook gebek (ondersoek) vir letsels. Die serologie-uitslae was negatief. Op 24 November sal dit 28 dae wees nadat die moontlik besmette vragmotor op die plaas was. Op 27 November sal daar weer bloed getrek en gebek word vir letsels, waarna kwarantynopheffing vir die plaas oorweeg sal word, sê dr Pepler.
Tweede rondte in kwarantyngebied
Volgens dr Pepler is daar 28 plase in die kwarantyngebied (die 10 km-radius om die besmette voerkraal by Gouda) geïdentifiseer vir ondersoeke deur staatsamptenare. Die uitslae van die eerste rondte bloed wat getrek is begin nou inkom en sover is alles negatief. Nog ’n rondte bloed sal in die 10km-radius rondom die besmette voerkraal by Gouda getrek word.
“Die plan is om al die plase op 1 Desember te besoek, bloed te trek en die diere te bek. Die mikpunt is om alles voor Kersfees af te handel. Indien al die toetse negatief is, sal kwarantynopheffing vir die plase in die 10km-radius oorweeg word,” sê dr Pepler.
Volgens haar het die beeste in die besmette voerkraal by Gouda nie meer nuwe letsels nie. “Al die beeste in die voerkraal is teen BEK ingeënt. Hulle was verlede Vrydag (14 November) weer gebek en nie een van die diere het nuwe letsels gewys nie. Dit wys die entstof werk en dat daar nie ’n verdere verspreiding in die voerkraal-kudde plaasgevind het nie. Die diere sal 14 dae na 14 November weer gebek word en as die diere dan weer geen tekens van nuwe letsels toon nie, kan die voerkraal begin uitslag.” Dr Pepler sê die Direktoraat Veeartsenykunde op Elsenburg is besig om ’n abattoir te registreer wat die uitslagwerk van die BEK-diere kan doen.
Vragmotors ook afgesonder
Sy het bevestig dat die vragmotors, wat tydens die uitbreek op die voerkraal-plaas was, steeds op die plaas is. Dié vragmotors is ook onder kwarantyn en mag nie van die plaas verwyder word sonder toestemming van die staatsveearts nie. Die besmette plaas word gereeld besoek en een van die pligte is om seker te maak dat die vragmotors wat onder kwarantyn is, op die plaas bly.
Daar was kommer onder boere, omdat van die maatskappy se vragmotors in die Noord-Kaap en ook ander provinsies opgemerk is. “Boere hoef nie daaroor bekommerd te wees nie,” sê dr Pepler. “Die vragmotors wat buite was, bly buite en mag voortgaan met dienslewering wat hoofsaaklik die vervoer van skape is.”
Wes-Kaap se ratte geolie
Louis Wessels, regsbestuurder van Agri Wes-Kaap, sê al die rolspelers in die Wes-Kaap werk saam om nog ’n uitbreking te voorkom en om die skade van die BEK-uitbreking sover moontlik te beperk. “Die Wes-Kaap se landboubedryf is gelukkig om ’n Departement van Landbou en ’n veeartsenydiens te hê wat funksioneel is en hard saam met boere en ander rolspelers werk om die verspreiding van die siekte te keer.”
Die spoed waarmee ʼn omvattende operasionele plan in samewerking met die Wes-Kaapse Departement Landbou en die Direktoraat Veeartsenykunde saamgestel en geïmplementeer is, wys die waarde van ʼn goeie, gekoördineerde vennootskap tussen georganiseerde landbou en die regering, sê Wessels. Volgens hom gaan monitering en bewegingsbeheer voort en hy het alle spanlede wat oor naweke werk vir hul volgehoue ondersteuning bedank. “Kontrolepunte is op strategiese plekke opgerig en die publiek word deur middel van verskeie kanale oor die situasie ingelig. Vervoerders word daaraan herinner om alle vereiste dokumentasie byderhand te hê.”
Boere moet hul deel doen
Wessels het weer ʼn beroep op produsente gedoen om hul eie biosekuriteitsmaatreëls te hersien en te versterk, en om alle beweging van diere in of uit die kwarantyngebied aan te meld via die departement se vraelys wat by https://tinyurl.com/AnimalMovementApp beskikbaar is. Alle voertuie, klere en toerusting wat die gebied betree of verlaat moet deeglik skoongemaak en ontsmet word.
“Agri Wes-Kaap en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Wes-Kaap doen ʼn ernstige beroep op alle veeboere om streng biosekuriteitsmaatreëls op hul plase toe te pas en alle amptelike protokolle te volg. Hierdie samewerking bly noodsaaklik om die uitbreking effektief te beheer en uiteindelik uit te wis.”
Die twee organisasies het reeds ’n naspeurbaarheidsplatform in die Wes-Kaap geloods wat deur enige veeprodusent gebruik kan word om die naspeurbaarheid van hul diere te verseker. Die stelsel is gratis en integreerbaar met kuddebestuurstelsels. Produsente kan Agri Wes-Kaap se webtuiste besoek of die stelsel aflaai by https://awkaims.co.za/ sê Wessels. – Hugo Lochner, Plaas Media




