Monday, August 31, 2026
Home Agri News Bevestig: Wes-Kaap nie meer bek-en-klouseervry

Bevestig: Wes-Kaap nie meer bek-en-klouseervry

461

Estimated reading time: 2 minutes

Die Wes-Kaapse Veeartsenykundige Dienste het gister ’n geval van bek-en-klouseer (BEK) op ’n plaas naby Gouda bevestig.

Die betrokke eiendom is onder kwarantyn geplaas, saam met twee ander eiendomme in die Velddrif- en Bredasdorp-gebiede vanwaar beeste glo na die plaas naby Gouda verskuif is. Alle eiendomme met gesplete hoefdiere binne ’n 10km-radius van die uitbreking is ook onder kwarantyn geplaas. Veeartsenykundige spanne voer deeglike inspeksies en toesig op hierdie plase uit.

Vervoermaatskappy onder verdenking

’n Ondersoek na die betrokke vervoermaatskappy is tans aan die gang, en alle eiendomme wat gedurende die afgelope 30 dae met hierdie maatskappy in aanraking was, sal opgespoor en ondersoek word.

BEK is ’n beheerde dieresiekte in Suid-Afrika. Alhoewel dit geen risiko vir mense inhou nie, is dit hoogs aansteeklik onder gesplete hoefdiere soos beeste, skape, bokke en varke. Die virus versprei maklik deur direkte kontak tussen diere of indirek deur besmette voertuie, toerusting, klere of voer.

Samewerking gevra

Om verdere verspreiding van die siekte te voorkom, doen die Wes-Kaapse Veeartsenykundige Dienste ’n dringende beroep op alle vee-eienaars om geen gesplete hoefdiere te verskuif terwyl die omvang van die uitbreking nog bepaal word nie. Enige beweging van vee in of binne die provinsie moet aangemeld word via https://tinyurl.com/AnimalMovementApp. Volgens die Wet op die Identifikasie van Diere, 2002 (Wet 6 van 2002) moet sodanige beweging vergesel word van:

  • ’n Eienaar se verklaring oor oorsprong en gesondheidstatus.
  • ’n Ontvanger se verklaring wat bevestig dat die diere vir minstens 28 dae na aankoms geïsoleer sal word.

Beide vorms is beskikbaar by: https://www.elsenburg.com/veterinary-services/animal-health-and-disease-control/.

Vir meer inligting oor BEK en die kontakbesonderhede van Veeartsenykundige Dienste se kantore in die Wes-Kaap, besoek: https://www.elsenburg.com/western-cape/frequently-asked-questions/faq-foot-and-mouth-disease/. – Persverklaring deur die Wes-Kaap Departement van Landbou

error: Content is protected!