Bevestig: Bek-en-klouseer in die Noord-Kaap

Estimated reading time: 4 minutes

Die Noord-Kaap se eerste geval van bek-en-klouseer (BEK) is hierdie week op ’n plaas in die Kuruman-gebied bevestig.  

In ’n persverklaring het die premier van die Noord-Kaap, dr Zamani Suaul, gesê die plaaslike owerhede het reeds die eerste besending entstowwe ontvang en dit gaan in die Kuruman-omgewing versprei word.

Twee weke gelede was daar reeds woelinge in Hartswater en selfs Kimberley, toe gevalle van BEK in die Taung- en Magogong-omgewing bevestig is. Dit lê op die grens tussen Noordwes en die Noord-Kaap. Hierdie week is ’n geval by Kuruman aangemeld en het positief getoets.

LUR vir landbou tree dadelik op

Die nuwe LUR vir landbou in die Noord-Kaap, Lebogang Motlhaping, het kort ná die bekendmaking van die Kuruman-geval ‘n vergadering belê waartydens met die Noord-Kaapse Departement van Landbou, Omgewingsake, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en georganiseerde landbou-organisasies soos die Rooivleisprodusente-organisasie in die Noord-Kaap (RPO Noord-Kaap), gesprek gevoer is oor moontlike optredes oor hoe verdere uitbrekings bekamp kan word.

Yolande Botha, bedryfsbeampte van RPO Noord-Kaap, het die vergadering bygewoon en sê verskeie aksies is bespreek, insluitend kommunikasie met boere en ander rolspelers oor hoe om die siekte te beheer en waar dit aangemeld moet word. Daar is ook na befondsing gekyk en die LUR sal ondersoek instel na besnoeiings by ander projekte sodat die beheer van BEK gefinansier kan word.

“Hulpbronne wat nodig is om die siekte te beheer, is ook bespreek. Die Departement van Landbou het byvoorbeeld nie genoeg veeartse en voertuie om ’n grootskaalse beheerstrategie toe te pas nie, maar die Departement van Landelike Ontwikkeling het onderneem om voertuie beskikbaar te stel. Op hierdie manier het elke rolspeler bygedra waar hy kan,” vertel sy.

Noord-Kaapse polisie tree op

Die voorsitter van die RPO Noord-Kaap, Brand du Toit, sê die organisasie het, in samewerking met staatsdepartemente en ander bedryfsrolspelers, ’n geruime tyd gelede al gebeurlikheidsplanne vir soortgelyke gevalle opgestel. Met die aanmelding van die eerste BEK-geval in Magogong, is planne dadelik in werking gestel.

Die boere, polisie en verkeersdepartement in die omgewing van Hartswater, Magogong en Warrenton het onmiddellik opgetree. Die dag na die eerste aanmelding is ’n padblokkade in die Magogong-area (Noordwes) opgerig. Teen laatoggend was 12 vragmotors met diere wat die grens na die Noord-Kaap wou oorsteek, al voorgekeer. Die voertuie moes almal omdraai en kon nie die provinsie binnekom nie.

Die RPO Noord-Kaap het boere in die Hartswater-, Warrenton- en Kuruman-areas gevra om meer paraat te wees vir verdagte voertuie wat vee vervoer. Volgens Du Toit het die boere tot op hede baie goeie samewerking gegee.

Almal werk saam

Talle veilingshuise het hul samewerking aangedui en ingestem om veilings in die omgewing soos Vryburg, Hartswater, Warrenton en Kimberley tot verdere kennisgewing te staak.

Frederik van Zyl, ondervoorsitter van die RPO Noord-Kaap, sê stoetveilings kan voortgaan, mits die nodige biosekuriteitsmaatreëls nagekom word.

Verskeie landbou-unies in die Noord-Kaap het reeds gevra dat hul distriksgrense gesluit word om te verseker dat geen diere die gebiede binnekom nie. Du Toit sê die saak is ondersoek, maar dit sal aansienlike polisiëring verg en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Noord-Kaap se mannekrag is nie voldoende hiervoor nie.

Du Toit het ’n beroep op alle boere gedoen om die polisie te ondersteun deur op die uitkyk te wees vir verdagte voertuie wat moontlik vee kan vervoer. As almal saamwerk, sê hy, kan ’n verkil gemaak word.

Verkryging van entstowwe

Du Toit waarsku boere ook om nie in die strik trap om onwettige privaatentstowwe in te voer nie. Ongetoetste entstof kan ’n boer ernstige skade berokken en bloot die situasie vererger. Sy raad is om eerder saam met die staat te werk, nie haasspronge te maak nie, en die provinsie skoon te hou deur nie vee uit ander provinsies aan te koop of te verskuif nie.

Botswana ook BEK-positief

Intussen het Botswana se Departement van Landbou bekendgemaak dat die eerste bevestigde gevalle van BEK ook daar aangeteken is. Motlhaping het bevestig dat die tydige lewering van entstowwe uit Botswana, sowel as die hoeveelhede wat gelewer moet word, nie deur die uitbreking daar beïnvloed sal word nie. Suid-Afrika sal steeds sy entstowwe ontvang. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Dinamika en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse lusernhooibedryf: Produsentepryse (Deel 4)

Estimated reading time: 7 minutes Vorige artikels in hierdie reeks het gefokus op aspekte soos...

Mosdene Borans make their mark

Estimated reading time: 7 minutes When the bid closed on R2 million for the Boran...

FMD in dairies: Centrifuging fact from fiction

Estimated reading time: 6 minutes Where FMD is present, milk must be pasteurised before sale....

Om te boer in ’n wêreld sonder diesel

Estimated reading time: 4 minutes Suid-Afrika se top skaapprodusent, Richard Armstrong, het onlangs in die...