HomeAgri NewsBek-en-klouseer vereis nuwe benadering

Bek-en-klouseer vereis nuwe benadering

Estimated reading time: 5 minutes

Bek-en-klouseer (BEK) is nou besig om nie net die ekonomiese volhoubaarheid van die rooivleisbedryf te bedreig nie, maar hou ook wesenlike gevaar vir voedselsekuriteit in die land in, volgens dr Dirk Verwoerd, hoofvoerkraalveearts van Karan Beef. Die uitbreking van BEK in Karan Beef se voerkraal by Heidelberg plaas die land by ’n kruispad waar deeglik besin moet word oor hoe hierdie siekte die beste beheer kan word. Dit is baie duidelik dat huidige maatreëls nie doeltreffend is nie.

Op Vrydag 30 Mei, is die hoofvoerkraal van Karan Beef naby Heidelberg onder kwarantyn geplaas toe BEK in die voerkraal geïdentifiseer is. Dit beteken dat daar sederdien geen beweging van enige beeste na of van hierdie voerkaal met 120 000 beeste kon plaasvind nie.

Die Heidelberg-voerkraal is egter nie Karan Beef se enigste fasiliteit nie. Daar is ook ’n voerkraal van 20 000 beeste by Nigel, met ’n groot aantal veldkampe waarin 20 000 kalwers vir die voerkraal voorberei word. Dan is daar ’n voerkraal by Albert Falls naby Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal van 30 000 beeste, tesame met twee kwarantyn-fasiliteite van 20 000 beeste. Verder is daar tien ander satellietstasies regoor die land met kapasiteit van ongeveer 5 000 beeste elk wat as kwarantynstasies bedryf word. Nie een van hierdie fasiliteite word tans deur die verbod geraak nie.

Die situasie in die Heidelberg-voerkraal, volgens dr Verwoerd, het nie net ’n enorme impak op Karan Beef self nie, maar strek oor die totale rooivleiswaardeketting in die land. Dit raak alle primêre produsente, ongeag kommersieel of kommunaal, regdeur tot by die eindverbruiker.  

Livestock leaders call on government to declare foot-and-mouth disease a disaster. Read more here.

Eerste maatreëls

Die eerste aksies nadat die siekte in die voerkraal geïdentifiseer is, sê hy, was om elke bees met kliniese tekens na die verste punt van die voerkraal uit te skuif, weg van die res van die bevolking. Die doel was om verdere verspreiding te voorkom deur al die siek diere op ’n ‘eiland’ saam te bring wat omring is deur leë krale en graskampe.

“Hierdie is ’n voortdurende proses. Daar tans is ongeveer 2% van die 120 000 beeste op hierdie ‘eiland’ wat kliniese tekens van die siekte toon. Hierdie syfer sal definitief nog groter word. Daar is honderde krale waaruit nie ’n enkele bees verwyder moes word nie, terwyl die ander gevalle redelik versprei oor die res van die voerkraal was. Ons kon ook nie ’n patroon idenitifiseer ten opsigte van die oorsprong van siek diere of die aantal dae op voer nie.”

Hy sê dit beteken dat hulle nie tans presies seker is waar die eerste aangetaste bees vandaan gekom het nie. Daardie dier het ten spyte van baie streng kwarantyn van 28 dae, tesame met gereelde deeglike ondersoeke deur verskillende mense, tog deurgeglip. Hulle is steeds besig om die oorsprong te ontrafel. 

Pad vorentoe

Ten spyte van hierdie geweldige terugslag is Karan Beef steeds in bedryf. Vir die oomblik is die abattoir op Balfour egter ook gesluit, maar sodra al die protokolle van ontsmetting voltooi is, behoort dit weer oopgestel te word vir slagtings.

“Ek dink dis belangrik,” maan hy, “om in hierdie volgende twee weke nie desperaat te raak en ondeurdagte besluite te neem nie. Die eerste twee weke van enige uitbreking van hierdie aard is krities. Daarna moet ’n mens ook baie berekend optree en nie paniekgedrewe besluite neem nie. Gelukkig is hierdie nie ’n siekte wat mense se gesondheid affekteer nie. Die verbruiker word wel geraak deur die onstabiliteit in pryse wat dit tot gevolg kan hê.”   

Strategie

Die volgende strategiese doelwit om die situasie te bestuur, sê hy, is om dringend entstof te bekom en om al die beeste in die Heidelberg-voerkraal te ent. Hierdie is ’n proses wat in noue samewerking met die staat geskied, beide die provinsiale en nasionale staatsveeartsstrukture. 

“Daarmee saam is daar spesifieke observasieperiodes om seker te maak dat daar geen verdere aktiewe virusverpreiding of -vermenigvuldiging plaasvind nie. Met die inentingsprogram word die virus letterlik gesmoor en dit keer sodoende dat daar sekondêre uitbrekings op ander plekke plaasvind. Dit is egter so dat daar tans baie uitbrekings in die land is. Aan die Oos-Rand is daar ten minste vyf aktiewe uitbrekings onder kommunale en kommersiële beeste.”

Dit is nie moeilik om die rede te verklaar nie want dit is daardie tyd van die jaar dat daar baie speenkalf-veilings plaasvind en baie beeste regoor die land rondgeskuif word. Verder is daar in hierdie tyd ook baie Moslim-rituele waar groot getalle slagtings plaasvind, wat ook beteken dat baie lewendige diere rondgeskuif word. Al hierdie faktore speel ’n rol en kompliseer die klassieke beheermaatreëls.

“Ons as veeartse beskou hierdie as ’n kruispad wat ons in die beheer van die siekte bereik het. Daar moet dringend ’n nuwe rigting ingeslaan word. Dit is tyd dat daar herbesin word oor die aanwending van entstowwe om hierdie siekte hok te slaan. Die BEK-tegniese advieskomitee onder die vaandel van die Nasionale Dieregesondheidsforum (wat intussen ontbind het), het reeds drie jaar gelede ’n nuwe strategie op die tafel gesit tydens verskeie vergaderings met voormalige Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD), maar dit is destyds nie ernstig opgeneem nie. Dit is waarom die land tans in hierdie situasie sit. BEK raak die ganse rooivleisbedryf en bedreig ook voedselsekuriteit in die land.” – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Must Read

RSG Landbou: 5 Mei 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor winsgewende beesboerdery, nuwe funksies wat by die Rooivleisbedryfsdienste se naspeurbaarheidsplatform gevoeg is en speenkalfgesondheid. Winsgewende...