Estimated reading time: 8 minutes
- Die studiebevindinge dui daarop dat belanghebbendes in die rooivleiswaardeketting uiteenlopende risiko’s in hul sake ervaar.
- Die risikokategorieë wat die grootste invloed op rolspelers in die plaaslike rooivleiswaardeketting het, is klimaatsverandering en omgewingsfaktore, dieregesondheid, insetkoste, ekonomiese druk en handelskwessies.
- Die regering speel ‘n sleutelrol in die skepping van ‘n proaktiewe omgewing en die beskikbaarstelling van hulpmiddels wat die rooivleiswaardeketting ondersteun om risiko’s te bestuur.
- Die rooivleisbedryf behoort ’n gekoördineerde risikobestuursbenadering te volg deur middel van veelparty platforms.
- Voortslepende risiko’s soos siekte-uitbrekings, kapasiteitsbeperkings en ‘n gebrek aan opvolgbeplanning bevestig dat intervensies tans onvoldoende is.
Die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf funksioneer in ’n omgewing wat geken word aan risiko’s. Dit behels ’n mengelmoes van operasionele, klimaatverwante, finansiële en sistemiese gevare regdeur die waardeketting, wat die stabiliteit en langtermyn volhoubaarheid daarvan bedreig. Hierdie risiko’s is onderling verbind en ondergrawe gesamentlik die sektor se volhoubaarheid.
’n Beduidende bron van ontwrigting is die gereelde uitbreek van dieresiektes, veral bek-en-klouseer (BEK), wat ondanks regeringsbeheer knaend kop uitsteek. Die feit dat verskeie provinsies en gebiede as siektebeheergebiede verklaar is, maar plaaslike uitbrekings steeds voorkom, onderstreep die voortgesette tekortkominge in Suid-Afrika se biosekuriteitstelsels en siektewaarnemingsvermoë.
Klimaatsverandering vererger hierdie biologiese risiko’s weens langdurige droogtes, wisselvallige reënval, uiterste temperature en gereelde oorstromings wat enorme druk op produksiefaktore en dieregesondheid plaas. Hierdie omgewingsversteurings ontwrig produksietoestande en verhoog sistemiese kwesbaarheid regdeur die waardeketting.
Swak landelike infrastruktuur, soos die agteruitgang van paaie, vererger die impak van klimaats- en biologiese risiko’s deurdat dit marktoegang beperk en die koste verbonde aan deelname aan die hoofstroom waardeketting verhoog. Gevolglik verlangsaam dit die beweging van noodsaaklike insette, vee en uitsette regoor die waardeketting.
Verbandhoudende aspekte
Risiko’s in die rooivleisbedryf is nie tot plaasvlak beperk nie en affekteer ook die res van die waardeketting. Die verwerkings- en logistieke bedrywe is veral kwesbaar vir kragonderbrekings, vervoerprobleme en veiligheids- en gehaltekwessies. Die markkonsentrasie in die verwerkings- en kleinhandelsektore beperk mededinging en bemoeilik marktoegang, veral vir kleiner produsente. Verbruikersverwante aspekte soos nie-konsekwente produkgehalte, voedselveiligheidskwessies en onvoldoende deursigtigheid kan die openbare vertroue skok en die plaaslike en internasionale vraag na Suid-Afrikaanse rooivleis nadelig beïnvloed.
Terselfdertyd onderdruk hoë insetkoste, prysonsekerheid en krimpende marges winsgewendheid en ontmoedig beleggings. Die sektor is ook uit ‘n volhoubaarheidsoogpunt onder druk en ervaar toenemende uitdagings wat betref verantwoordelike omgewingsbestuur, dierewelsyn en die nakoming van nuwe standaarde ten opsigte van koolstofvrystellings, watergebruik en grondbestuur.
Hierdie druk word vererger deur ‘n tekort aan menslike kapitaal en instellings wat nie hul pligte kan nakom nie. ’n Tekort aan vaardighede, ontoereikende voorligtingsdienste en beperkte toegang tot finansiering plaas ‘n demper op innovasie en verswak die sektor se aanpasbaarheidsvermoë. Gefragmenteerde beleid en regulatoriese onsekerheid veroorsaak ‘n gebrek aan sakevertroue en belemmer belangrike hervorming.
Landelike misdaad, waaronder veediefstal en predasie, dra by tot die algehele onsekerheid en forseer produsente om aansienlike sekuriteitsuitgawes aan te gaan of ernstige ekonomiese verliese te ly. Die voortdurende tekort aan deursigtigheid en nakomingstelsels beperk die bedryf se toegang tot hoë-waarde uitvoermarkte en verswak in die proses Suid-Afrika se mededingende posisie, terwyl dit belegging ontmoedig.
Dit is teen hierdie agtergrond dat ’n gestruktureerde risikobepaling van die Suid-Afrikaanse rooivleiswaardeketting uitgevoer is.
Risiko-assessering
Die doel van hierdie navorsing was om die belangrikste risiko’s in die Suid-Afrikaanse rooivleiswaardeketting op grond van belanghebbendes se persepsies te evalueer. Gestruktureerde vraelyste is gebruik om inligting van 119 waardekettingrolspelers regoor die land in te samel. ’n Kwalitatiewe risiko-assessering is uitgevoer en respondente is versoek om risiko’s te identifiseer wat hul sakebedrywighede beïnvloed.
Respondente is ook gevra om elke geïdentifiseerde risiko op grond van drie sleutelelemente te beoordeel: impak (omvang van gevolge), moontlikheid (waarskynlikheid van die situasie), en snelheid (spoed waarteen ‘n situasie realiseer). Elke element is op ’n vyfpuntskaal beoordeel, met 1 wat ’n lae vlak aandui en 5 ’n baie hoë vlak.
Die antwoorde is ontleed om die beduidendste risiko’s vir belanghebbendes in die waardeketting te bepaal. Die finale puntetelling is op grond van die volgende formule bepaal: (waarskynlikheid + snelheid) × impak = risikotelling.
Risiko’s in die rooivleiswaardeketting
Die studiebevindinge dui daarop dat belanghebbendes in die rooivleiswaardeketting uiteenlopende risiko’s in hul sake ervaar. Hierdie risiko’s val oor die algemeen in die volgende kategorieë: politieke en regulatoriese onsekerheid, dieregesondheidsrisiko’s, impak van klimaatsverandering, ekonomiese druk, infrastruktuurtekortkominge, misdaad- en veiligheidskwessies, arbeidstekorte, versteurings in die voorsieningsketting, en die veranderende dinamika in die verbruikersmark.
Die risiko’s is in vyf klasse gekategoriseer: baie laag, laag, medium, hoog en baie hoog. Risiko’s met hoë snelheidstellings het vinnige en ontwrigtende gevolge, wat hulle dus boaan die risikolys plaas.
Tabel 1: Analise van risiko’s in die waardeketting.
| Risiko | Impak | Moont-likheid | Snelheid | Risiko-telling | Risiko-klas |
| Swak infrastruktuur | 4 | 3 | 2 | 22 | Laag |
| Arbeidskwessies | 4 | 4 | 2 | 23 | Laag |
| Misdaad en sekuriteitsaangeleenthede | 4 | 3 | 3 | 25 | Medium |
| Beleidsonsekerheid en swak toepassing | 3 | 4 | 3 | 21 | Medium |
| Onvoldoende vaardighede en bestuursvermoë | 3 | 4 | 3 | 21 | Medium |
| Dieregesondheid (siektes, entstowwe) | 4 | 4 | 4 | 34 | Hoog |
| Klimaatsverandering en omgewingsfaktore | 4 | 4 | 4 | 31 | Hoog |
| Ontwrigtings in handel en uitvoerkanale | 4 | 4 | 4 | 31 | Hoog |
| Ekonomiese druk | 4 | 4 | 4 | 29 | Hoog |
| Hoë insetkoste (pryse, elektrisiteit, water) | 4 | 4 | 4 | 34 | Hoog |
Tabel 1 toon dat die risiko’s wat met infrastruktuur- en arbeidskwessies verband hou, oor die algemeen aan die laer kant van die risikospektrum val, terwyl risiko’s wat met politiek, instellings, misdaad en kapasiteitsontwikkeling verband hou, ’n matige invloed op belanghebbendes het.
Die risikokategorieë wat die grootste invloed op rolspelers in die plaaslike rooivleiswaardeketting het, is klimaatsverandering en omgewingsfaktore, dieregesondheid, insetkoste, ekonomiese druk en handelskwessies.
Figuur 1 illustreer ’n duidelike onderskeid tussen die risikokategorieë en beklemtoon dieregesondheid, beperkte vaardighede en bestuursvermoë, asook hoë insetkoste as die risiko’s wat die meeste uitstaan. Hierdie risiko’s verskyn boaan die grafiek, wat hul snelheid, impak en hoë risikotellings weerspieël – veral dieregesondheid staan uit as ‘n groot bron van kommer.
Hierdie besonder hoë tellings, wat deur eksponensiële skalering verhoog word, dui daarop dat hierdie risiko’s nie net snelwerkend is nie, maar ook die potensiaal het om bedrywighede ernstig te ontwrig. Dit beklemtoon die noodsaaklikheid van ‘n belegging in siektebeheer, vaardigheidsontwikkeling en insetveerkragtigheid.
Figuur 1: Waarskynlikheid en impak van sleutelrisiko’s in die Suid-Afrikaanse rooivleissektor.

Daarenteen kan risiko’s soos misdaad, handelsonderbrekings en ekonomiese druk in ’n tweede groep gekategoriseer word. Hoewel steeds beduidend, toon hulle ’n matiger snelheid en impak, asook relatiewe laer tellings. Ten spyte van hul deurlopende invloed op bedryfstabiliteit, dui die tellings moontlik op ’n laer vlak van dringendheid onder rolspelers. Die gaping tussen werklike risikoblootstelling en waargenome dringendheid beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan om ‘n groter bewustheid en beter kommunikasie rakende hierdie risiko’s te skep.
Infrastruktuurverwante risiko’s verskyn onderaan die grafiek weens ’n laer tempo en risikotelling. Alhoewel infrastruktuur ’n langtermyn uitdaging is, veral in plattelandse gebiede, kan die geleidelike aard daarvan tot onderprioritisering lei. Om risiko’s soos infrastruktuur en arbeidskwessies oor die hoof te sien, kan egter die langtermyn doeltreffendheid en mededingendheid van die waardeketting benadeel en die bedryf aan onvoorsiene eksterne skokke blootstel.
Aanbevelings
Soos reeds genoem, moet die Suid-Afrikaanse rooivleiswaardeketting met al sy onderliggende funksies ’n verskeidenheid van risiko’s bestuur. Hoewel hierdie risiko’s nie noodwendig die totale waardeketting van meet af ontwrig nie, het dit tog uitdagings op ‘n strategiese, operasionele en reputasievlak wat uiteindelik winsgewendheid kan ondermyn en die bedryf in gevaar stel.
Regeringsvlak
Die regering speel ‘n sleutelrol in die skepping van ‘n proaktiewe omgewing en die beskikbaarstelling van hulpmiddels wat die rooivleiswaardeketting ondersteun om risiko’s te bestuur. Sleutelprioriteite behels:
- Dieregesondheid en biosekuriteit: Ondersteuning aan die staat se veterinêre dienste en dieregesondheidsprogramme, en die streng toepassing van biosekerheidsmaatreëls.
- Beleid en belegging: Versekering van duidelike, stabiele en bemagtigende beleidsrigtings wat onderskraag word deur die staat se aktiewe belegging in veerkragtigheid ten opsigte van klimaatsverandering, landelike infrastruktuur en veiligheid.
- Kennis en innovasie: Uitgebreide ondersteuning ten opsigte van onderwys, navorsing en voorligtingsdienste om innovasie, voedselveiligheid en volhoubare produksie te ondersteun.
- Koördinering: Belyning van gekoördineerde optrede op alle regeringsvlakke om langtermyn volhoubaarheid en mededingendheid in die sektor te ondersteun.
Sektorale vlak
Die rooivleisbedryf behoort ’n gekoördineerde risikobestuursbenadering te volg deur middel van veelparty platforms wat die deel van inligting, gekoördineerde optrede en gesamentlike belegging in navorsing, infrastruktuur en opleiding sal verseker, sodat die bedryf op ‘n gereedheidsgrondslag is en dadelik op risiko’s kan reageer. Prioriteit moet gegee word aan:
- Die ontwikkeling van ‘n gesamentlike biosekuriteitsplan.
- Die standaardisering van volhoubaarheidspraktyke.
- Die opstel van noodplanne.
- Gesamentlike versoeke vir ondersteunende beleide en ‘n bemagtigende operasionele omgewing.
Groter samewerking reg oor die bedryf kan ‘n groot bydrae maak tot stabiliteit, diversifisering en veerkragtigheid, en sal die sektor se 2030-strategie bevorder.
Besigheidsvlak
Op die ondernemingsvlak behoort die waardeketting ‘n dubbele benadering te volg.
Voorkomende aksies: Opgeskerpte biosekuriteit, die verskansing van produksiehulpbronne, diversifisering van markte en voorsieningskettings, ‘n belegging in deursigtigheid en aanspreeklikheid, personeelopleiding en tegnologie. Finansiële maatreëls behoort beter kontantvloeibeplanning, die opbou van finansiële reserwes en die aanwending van risiko-hulpmiddele in te sluit.
Reaksievermoë: Noodplanne is nodig vir siekte-uitbrekings, droogtes, diefstal en kragonderbrekings. Mededingendheid en veerkragtigheid kan ook versterk word deur samewerking met bedryfsliggame, proaktiewe beleidsbetrokkenheid en opvolgbeplanning met die oog op sleutelvaardighede.
Die pad vorentoe
Die risiko’s wat hier bespreek is, moet aangespreek word indien die rooivleisbedryf sy volle potensiaal wil ontsluit en sy 2030-doelwitte wil bereik. Veerkragtigheid en volhoubaarheid sal terselfdertyd verbeter. Dit vereis egter gekoördineerde optrede deur verskeie rolspelers, ‘n taak wat dikwels uitdagend kan wees. Daarmee saam moet meer fokus geplaas word op vertroue, deursigtigheid, integriteit en samewerking regoor die rooivleiswaardeketting.
Voortslepende risiko’s soos siekte-uitbrekings, kapasiteitsbeperkings en ‘n gebrek aan opvolgbeplanning bevestig dat intervensies tans onvoldoende is. ‘n Kopskuif is nodig – pleks daarvan om op reaktiewe of gefragmenteerde pogings staat te maak, benodig die sektor ‘n meer geïntegreerde, gekoördineerde en toekomsgerigte strategie wat sistemiese en eksistensiële risiko’s vir besighede en waardekettings in die rooivleissektor sal aanspreek. – Dr Danie Jordaan, Sibongile Dlamini, Thabile Tsabedze, Andrea du Toit en Wesly Mokomele
Vir verwysings en meer inligting, stuur ‘n e-pos aan dr Danie Jordaan by danie.jordaan@up.ac.za of skakel 083 785 2857.





