Tuesday, January 13, 2026

Hoe klimaatsverandering weidings beïnvloed

Estimated reading time: 4 minutes

  • Klimaatsverandering is ‘n realiteit in vandag se boerdery-omgewing en het wesenlike gevolge vir die manier waarop geboer word.
  • Volgens die Europese Kommissie se World Atlas of Desertification is meer as 75% van die aarde se grondoppervlak reeds gedegradeer.
  • Meer as 24 miljard ton vrugbare grond verdwyn jaarliks weens verwoestyning.
  • ‘n Toename in grondtemperature kan mikrobe-ontbinding versnel wat koolstof vrylaat en stoorkapasiteit verlaag.
  • Goeie veldbestuur kan die impak van klimaatsverandering versag.

Klimaatsverandering is ‘n realiteit in vandag se boerdery-omgewing en het wesenlike gevolge vir die manier waarop geboer word. Klimaatsverandering word gesien as ‘n stelselmatige verandering in weerpatrone, plaaslik en wêreldwyd.

Weiding is ‘n kosbare kommoditeit en bly die veebedryf se hoofbron van veevoer en ruvoer. Verwoestyning is egter al ‘n deel van die Afrika-landskap en regoor die vasteland gaan al hoe meer weidingsgrond verlore as gevolg van klimaatsverandering, oorbeweiding, onkundige ontbossing, en swak veldbestuur. Volgens die Europese Kommissie se World Atlas of Desertification is meer as 75% van die aarde se grondoppervlak reeds gedegradeer. Die meeste hiervan is as gevolg van klimaatsverskynsels soos droogtes of brande.

Die Verenigde Nasies se Drylands Population Assessment II toon dat twee derdes van die Afrika-vasteland en 75% van sy droëlande vir landboudoeleindes gebruik word. Meer as 24 miljard ton vrugbare grond verdwyn jaarliks weens verwoestyning, met enorme gevolge vir die omgewing en vir boerdery, wat wissel van voedselonsekerheid tot ‘n verlies aan biodiversiteit en watertekorte weens akwifers wat opdroog.

Impak van klimaatsverandering

Klimaatsverandering het betrekking op die vrystelling van CO2 en ander kweekhuisgasse (KHG) wat tot ‘n stelselmatige toename in temperature lei, soos wat gasse in die atmosfeer opbou. Studies het getoon dat ‘n verandering in temperature en reënval tot ‘n verandering in veldsamestelling (Buhrmann et al., 2016) kan lei. Hierdie is egter nie die enigste rede waarom weidingsamestelling en drakapasiteit verander nie.

Hassan et al. (2022) het bevind dat grasse negatief beïnvloed word deur klimaatsverandering waar temperature gestyg het. Selfs ‘n paar grade Celsius het tot droogtetoestande gelei. Die studie toon ook dat indringerspesies die ergste getref is, terwyl grasse wat inheems en natuurlik in ‘n streek voorkom, meer weerstandig was in die veranderingsimulasies.

Lawal et al. (2019) skryf dat waar plante weens droogte vrek, die temperatuur uiteraard nie meer deur daardie plante geabsorbeer kan word nie maar in die atmosfeer agterlaat word, wat die situasie vererger.

Arena et al. (2023) het bevind dat die graslandbioom wat aan die Nama-Karoo grens, besig is om in die Karoo in te beweeg en die plek van bossieveld waarvoor die Karoo bekend is, oor te neem. Die hoofredes hiervoor was ‘n toename in reënval in die gebied en ‘n afname in skaapgetalle oor dieselfde tydperk. Hoewel ‘n toename in grasveld ‘n hoër drakrag beteken, is die risiko vir brande groter, terwyl gras meer reaktief ten opsigte van droogte is as wat die tipiese Karoo-dwergbossies is.

Veldkondisie en koolstofsekwestrasie

Jamie Paulse-Ross, ‘n weidingsnavorser verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê veld se kondisie speel ‘n groot rol in die sekwestrasie van koolstof in veral graslandgebiede. ”Hoe beter die veld se kondisie, hoe beter die vermoë daarvan om koolstof in die plantbiomassa en grond-organiese materiaal te stoor.” Goeie veld het dikwels digte, diverse en goed-gevestigde plantegroei wat meer bogrondse biomassa beteken en dus meer CO2 deur middel van fotosintese kan opneem. Plantbiomassa verminder egter as gevolg van oorbeweiding en kaal areas, wat lei tot die vermindering van koolstofpotensiaal.

Veld wat in ‘n goeie kondisie is bevat meerjarige grasse wat geneig is om ‘n dieper meer gevestigde wortelstelsel te hê as indringerspesies en eenjarige grasse. Hierdie dieper en sterker wortelstelsels dra beter by tot die organiese koolstof in die grond.

Wanneer dit kom by klimaatsverandering is dit egter ‘n ander saak, sê sy. Hoër temperature kan groei in sekere areas versnel terwyl temperatuurtoenames in ander areas meer druk op die plantegroei plaas, veral in semi-droë gebiede. ‘n Toename in grondtemperature kan mikrobe-ontbinding versnel wat koolstof vrylaat en stoorkapasiteit verlaag. Wisselvallige reënval in die vorm van vloede, droogte en sporadiese reënbuie kan ook groei verhinder deur ‘n afname in wortelbiomassa asook erosie.

Dr Louis du Pisani, ‘n weidingskenner wat klimaatslim boerderybeginsels bevorder, beklemtoon die feit dat goeie veldbestuur ver kan gaan om die impak van klimaatsverandering teen te staan of ten minste te versag. In ‘n onlangse artikel in The Guardian, sê ‘n Britse landbouprodusent boere moet besef hulle kan nie meer soos hulle pa’s en oupas boer nie. Verskeie Europese lande gaan tans gebuk onder erge droogte, wegholbrande en uiterste temperature. Alle aanduidings is dat daardie lande hierdie seisoen gewasverliese van tot 64% verwag kan word.

Prof Cobus Oberholster van die UV se Besigheidskool, skryf dat klimaatsverandering produsente forseer om van nuwe tegnologie en metodes gebruik te maak. Die antwoord lê inderdaad in tegnologie, slim bestuur en goed-aangepaste spesies – van die gras tot die diere wat dit moet bewei. Dis weliswaar nie ‘n goedkoop oefening nie en dit neem lank om die vrugte van so ‘n benadering te pluk. Klimaatsverandering is egter hier om te bly en veeprodusente wat nog nie hul weidingspraktyke aangepas het nie, gaan aan die verloorkant speel. – Hàno Higgs, Departement Landbou-Ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Vir verwysings en meer inligting, stuur ‘n e-pos na HiggsH@ufs.ac.za

Popular stories