Monday, December 8, 2025

‘n Wilde storie oor bokboerdery-sukses

Estimated reading time: 7 minutes

  • Savanna-bokke en wild is dalk nie die mees voor-die-hand-liggende boerderykombinasie nie, maar dit ís doeltreffend. Praat maar met Anton Barnard van die Barnard & Seuns Savannastoet naby Thabazimbi.
  • Die Savanna-kudde bestaan uit sowat 300 bokke en Anton vind dat dié aantal bokke heel gemaklik bestuur kan word.
  • Wildboerdery is beperk tot ‘n seisoenale, jaarlikse inkomste.
  • ‘n Boerbok-tipe kan egter heeljaar geslag of opgeveil word en dus deurentyd ‘n inkomste lewer.
  • ‘n Baie belangrike funksie van die bokke is dat hulle bosindringing help beheer.

Savanna-bokke en wild is dalk nie die mees voor-die-hand-liggende boerderykombinasie nie, maar dit ís doeltreffend. Praat maar met Anton Barnard van die Barnard & Seuns Savannastoet naby Thabazimbi. En ja, die wild en bokke loop deurmekaar. Bokke word net in aparte kampies gehou wanneer die teelgroepe geskei word.

“Wild en bokke gebruik verskillende ekologiese sisteme,” verduidelik Anton sy nie-konvensionele benadering. Terwyl blaarvreters soos njalas en bosbokke byvoorbeeld albei sal meeding om op dieselfde hoogte te wei, is buffels grasvreters, wat beteken hulle ding nie met die blaarvreters mee om weiding nie. “Netso kan bokke saam met wild in dieselfde ekosisteem leef.” Koedoes vreet ook blare, maar op ‘n hoër hoogte as bokke. En kameelperde vreet nóg hoër. Daar is vir elkeen ‘n plek.

Buiten die Savannas en die wildsbokke, weet hulle van ‘n luiperdwyfie wat op die plaas woon. Daarom word die Savanna-bokke saans in kampies beveilig. “Ons het ook al geleer uit rooikat- en jakkalsskade.”

Ander boere mag dink dis moeilik om bokke in ‘n kamp te hou, maar dít is die minste van Anton se bekommernisse. ’n Elektriese draad hou hulle binne. Parasietbeheer is ‘n veel groter uitdaging.
 

Bokke laat die boeke klop

Buiten vir hul ekologiese waarde het die bokboerdery ook ekonomiese waarde ontsluit. Die totale boerdery is oor meer as 700ha versprei. Die Savanna-kudde bestaan uit sowat 300 bokke en Anton vind dat dié aantal bokke heel gemaklik bestuur kan word. Die diere loop egter nie in ‘n enkele kudde nie en daar is twee dekseisoene op die plaas: een tussen April en Mei wat tot lentegeboortes lei en die ander wat in November begin met ‘n herfslamtyd.

Sommige van die diere word as stoetvee verkoop, terwyl ander wat nie aan die fenotipiese kriteria voldoen nie, as kommersiële diere van die hand gesit word.

“Bokboerdery het ons gehelp om ons grond tot sy ekonomiese reg te laat kom.” Om die gewig van dié stelling te verstaan, moet ‘n mens ‘n tree terug gee. Anton het wes van Thabazimbi grootgeword en nadat hy hom as arbeidspesialis bekwaam het, het hy na dié geweste teruggekeer en in 1999 ‘n besigheid op die dorp begin. In 2003 het hy en ‘n groep besigheidsmanne ’n stuk grond gekoop met die idee om ‘n eko-ontwikkeling te begin. Na ‘n ontbondelingsproses het hy die huidige plaas oorgeneem en later grond bygekoop en met die wildboerdery voortgegaan.

“Dit was in die tyd van die wildbedryf se opwaartse kurwe,” sê Anton. “Ons het vroeg-vroeg begin om met eksotiese wild soos swart rooibokke te boer.” Dit was voor dié tipe diere redelik algemeen beskikbaar was. Nodeloos om te sê, die boerdery het geblom.

Die eksotiese wildbedryf het egter ’n paar jaar gelede drasties verander en die Barnards kon nie dié inploffing vryspring nie. “Tot in daardie stadium was dinge maklik, want ‘n mens het nie nodig gehad om aan diverse inkomstebronne te dink nie,” sê Anton. Dis hier waar bokboerdery toe sy kniebuiging maak.

Bok se kind pas aan

Wildboerdery is beperk tot ‘n seisoenale, jaarlikse inkomste, ongeag of die boerdery op die jag- of teelbedryf geskoei is. Diere word in die winter gejag of op veilings verkoop. ‘n Boerbok-tipe kan egter heeljaar geslag of opgeveil word en dus deurentyd ‘n inkomste lewer. Aanvanklik het hulle nie ‘n rasvoorkeur gehad nie en enige soort bok aangekoop.

Thabazimbi is bekend as harde hartwaterwêreld en dit was om te sorg dat die bokke so gou as moontlik aanpas en weerstandig raak. “Die hartwatervariëteit in ons omgewing is een van die strafste wat daar is,” verduidelik Anton om die omvang van die uitdaging te benadruk. “Die Savanna-ras het naderhand vir ons uitgestaan in hierdie omstandighede.”

Aangesien die bokke in krale slaap bestaan die bykomende gevaar van toenemende parasietdruk. “Ons weeg elke twee weke, doen Famacha- en selfs miseiertellings, en hou die bokke se oë en neuse dop vir enige vreemde uitskeidings.” Hy voeg by dat hulle ook altyd waaksaam is vir uitbrekings van vuilbek – veral in die somermaande en wanneer lammers besig is om te soog.

Die bokke vreet meestal veld, maar byvoeding word ook gegee waar die natuurlike weiding tekort skiet.

Die Savannas het besonder goed aangepas in die Bosveld en het op die plaas gedy. Om die waarheid te sê, hulle het só goed aangepas, dat dit vir die Barnards ‘n verdere geleentheid geskep het om eksterne parasietbeheer regoor die plaas toe te pas. Die bokke word nie in ‘n dipbad gedompel nie, maar loop daagliks deur ‘n voetbad. Dit is genoeg om bosluise ‘n redelike nekslag toe te dien, omdat die dipmiddel bosluise dood en/of steriel laat.

Die voetbaddens lei ook tot ‘n afname in bosluisgetalle op wild. Die dipmiddel wat hulle gebruik – Bayticol – is boonop ook doeltreffend om vlieë onder beheer te hou. “Vliegbeheer is veral belangrik by krale, waar ‘n groter konsentrasie diere in ‘n kleiner area voorkom.”

Bokke laat bosse ‘pop’

‘n Baie belangrike funksie van die bokke is dat hulle bosindringing help beheer. Hoewel dit nie ‘n reuse-probleem op die plaas was nie, was daar heelwat sekelbos wat bestuur moes word. “Ek hou maar meer van ‘n natuurlike intervensie. Nie dat chemiese ingryping verkeerd is nie – die bokke pas net beter by my persoonlike bestuurstyl in,” sê Anton.

Die bokke het die indringerbosse net genoeg weggevreet, sodat die son weer kon deurkom en die natuurlike veld ‘n kans op herstel gee. Dit het wel nie al die sekelbos verwyder nie, aangesien Anton nie kans gesien het om sy bokke só uit te honger dat hulle al die sekelbos doodvreet nie. Die diere is immers aangeskaf as teelmateriaal – nie bossiekappers nie en doeltreffende ontbossing gaan uiteindelik oor ‘n goeie veldbestuursprogram, eerder as om ‘n enkele oplossing tot die probleem te probeer vind.

Die verskillende spesies op die plaas vul mekaar aan. Waar die bokke die linkerkant van hierdie pad saam met die wild bewei het, het hulle só skoongemaak dat daar geleentheid is vir veldherstel, omdat die son kon deurbreek.

Die Barnards het juis vroeër vanjaar die nuus gehaal toe hulle ’n Savanna-ram vir R340 000 en ’n jongooi vir R85 000 van Maize Valley Farms gekoop het. Die ram, Victory, is die 2023 Wêreldkampioen-Savanna-ram en is fenotipies en genotipies presies wat ’n mens in ’n Savanna-ram wil hê. “Ons het hom gekoop sodat hy ons kudde kan verbeter,” sê Anton. Die ooi, Shelley, beskik ook oor besonderse fenotipiese eienskappe en ek glo dít is wat ons kudde benodig om by ons genetiese doelwitte uit te kom.”

Groot groeigeleenthede wink

Bokvleis bied wêreldwyd en in Suid-Afrika unieke groeigeleenthede danksy veranderende verbruikersvoorkeure, gesondheidsbewustheid en druk om volhoubaar te produseer. Internasionaal neem die vraag na alternatiewe proteïenbronne toe, veral dié wat ‘n laer vetinhoud, hoër voedingswaarde en ’n kleiner omgewingsvoetspoor het (aldus die Verenigde Nasies se Voedsel en Landbou-organisasie). Bokvleis voldoen aan al hierdie vereistes: Dit is ryk aan yster en proteïene, bevat min cholesterol, en bokke is aanpasbaar by verskeie klimaatstoestande, wat hulle ideaal maak vir ekstensiewe boerdery.

Die Nasionale Landboubemarkingsraad se data toon dat bokvleis in Suid-Afrika tradisioneel deel van sekere kulturele en landelike gemeenskappe is, maar dit begin nou ook ’n plek in stedelike en gesofistikeerde markte kry. Boonop is Suid-Afrika reeds ’n belangrike uitvoerder van bokvleis en teelmateriaal na markte soos die Midde-Ooste, Asië en sekere Europese lande, waar daar ’n gevestigde vraag bestaan. – Susan Marais, Plaas Media (Foto’s: Deidré Louw)

Vir meer inligting, kontak Anton Barnard by 082 579 2556.

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas...

Oilseeds Focus December 2025 

The December issue of Oilseeds Focus explores South Africa’s fertiliser use, smart cultivar choices for profitable...

Stockfarm December hits the shelves

The December 2025 edition of Stockfarm shines the spotlight on the resilience and adaptability...

Trust and muffins lead the way

Estimated reading time: 4 minutes In any business, communicating in silos is the main cause...