Friday, December 2, 2022
HomeMagazinesVeeboerdery in die Oos-Kaapse Hooglande: Hiér word berge versit!

Veeboerdery in die Oos-Kaapse Hooglande: Hiér word berge versit!

Estimated reading time: 0 minutes

  • Ronald Small boer ekstensief met Rooi Angusbeeste en Merinoskape op Clefthill in die Bokspruit-distrik.
  • Om ’n veeboerdery in dié deel van die land te laat werk, sê Ronald, moet ’n produsent nie bang wees om sy moue op te rol en hard te werk nie.
  • Gereelde ysige toestande in die Bokspruit-distrik noodsaak veeboere om hul skeer- en lamtye baie goed te beplan, en wegholbrande aan die einde van die winter en die begin van ’n droë lente, hou produsente op hul tone.
  • Wins is gelyk aan inkomste minus uitgawes, sê Ronald, en kommersiële produsente is prysnemers van hul produkte.

Die landskap en pad na Rhodes is ’n droom vir vierwiel-entoesiaste, en Veeplaas het daar by die Small-familie besoek afgelê op Cleft Hill, die woonplaas van Ronnie Small. Ons wou meer uitvind oor die landboupraktyke wat hulle as veeprodusente in ’n bergagtige gebied aan die dag lê.

Ronnie se seun, Ronald, het in 2011 by die boerdery aangesluit, en hoewel Ronnie steeds by die boerdery betrokke is, is Ronald in beheer van sake. ’n Goeie familie-ondersteuningsnetwerk is vir beide van hulle baie belangrik, omdat plase in die omgewing ver uitmekaar geleë is. Pa en seun glo dit is ook belangrik om ’n passie vir boerdery te hê, en goeie beplanning en bestuur maak ’n groot deel daarvan uit.

Ronald stel graag nuwe idees op die proef en is tans besig om ’n kommersiële lewendehawe-bestuursprogram (Stockbook), met die fokus op akkurate rekordhouding, op die Internet te loods. Terselfdertyd sê hy dat hy nog eintlik te jonk is om advies uit te deel. “Persoonlik stel ek graag nuwe idees op die proef, wat my help om nie te stagneer nie,” sê hy. “Ek glo die aanwending van tegnologie dra by tot deursigtigheid om weldeurdagte besluite te neem.”

Lees meer oor ‘n meer natuurlike benadering tot veeboerdery hier.

’n Uitdagende veelandskap

Die grootste gedeelte van die boerdery is in die Bokspruit-distrik geleë. Ronald boer ekstensief met Rooi Angusbeeste en Merinoskape, waarvan die meerderheid hamels is wat die hoërliggende gedeeltes bewei. Die jaar-oue lammers en ooie bewei die laerliggende kampe vir die grootste gedeelte van die jaar.

Pa Ronnie het in 1999 lande vir permanente beweiding aangeplant, en behalwe vir die veld lam die ooie ook op die droëlande met aanvullende energieblokke daarop. Ronald verduidelik dat die ooie gewoonlik vanaf middel September begin lam, waarna die koeie volg om teen die einde van Oktober in die berge te begin kalf.

Om ’n veeboerdery in dié deel van die land te laat werk, sê hy, moet ’n produsent nie bang wees om sy moue op te rol en hard te werk nie. “Beide mens en dier moet gehard wees om hier te oorleef. Krisisbestuur is gereeld aan die orde van die dag, aangesien verskeie onbeplande faktore met jou hele dag se beplanning kan inmeng.”

Van die uitdagings wat produsente in die omgewing ervaar, sluit paaie in wat nie onderhou word nie, en nie geskik is vir gewone voertuie nie. Behalwe vir die skade wat dit aan die voertuie veroorsaak, kan dit ook die spreekwoordelike stok in die wiel steek vir produsente wat hul skape en beeste oor lang afstande moet bemark.

Gereelde ysige toestande noodsaak veeboere om hul skeer- en lamtye baie goed te beplan, en wegholbrande aan die einde van die winter en die begin van ’n droë lente, hou produsente op hul tone. Omdat plase ver van mekaar geleë is, word sekuriteit vir persoonlike veiligheid en die voorkoming van veediefstal geprioritiseer. Deurlopende predasiebeheer is ook nodig om veeverliese te beperk.

Die rol van goeie weidingsbestuur

Ronald is van mening dat weldeurdagte weidingsbestuur die sleutel tot suksesvolle ekstensiewe boerdery is. “Die kombinasie van beskikbare weiding vereis dat ons deurlopend moet beplan wanneer en waar sekere kampe bewei kan word,” sê hy.

“Nog ’n faktor is dat die gehalte van ons gras gewoonlik afhang van waar ons onsself bevind in die vierjaarlikse brandsiklus wat die meeste produsente hier toepas. Ons het byvoorbeeld koue, suidelike winterkampe waar die water vries en die sneeu nie gou smelt nie, en warm noordelike winterkampe wat gou droog word. Die groeiseisoen vir plante is kort en daarom benodig ons reeds spaarkampe vir die lente, selfs nog voordat die herfs sy opwagting gemaak het.”

Die skape en beeste word natuurlik gepaar. Die bulle en ramme word tot en met dektyd apart van die koeie en ooie gehou. Groot sorg word getref om die gesondheid van die ramme en bulle te verseker vir die dekseisoen. Ronald glo enigiemand wat met beeste boer, sal weet dat ’n klomp bulle soms uitdagings bied wanneer hulle onder mekaar baklei en beseer raak, of hanteer moet word.

Lees meer hoe om pompom uit jou weiding te hou hier.

Winsgewende skaapproduksie

Hulle streef voortdurend daarna om lammers winsgewend groot te maak en terselfdertyd nie onnodige uitgawes op voer aan te gaan nie. “Die meeste lammers maak ons as hamels groot, en sodoende spandeer ons eintlik min op lamvoeding. Die B-trop ooie wat ietwat later as die res van die ooie lam, se lammers word gewoonlik in April gespeen en aan kruipvoeding gewoond gemaak. Ons maak hulle groot tot tussen 25 en 30kg en bemark hulle dan as stoorlammers.”

Die lammers wat gespeen is, asook die jaaroud lammers, kry regdeur die winter lekaanvullings om gewigstoename en goeie wolproduksie te verseker.

Wins is gelyk aan inkomste minus uitgawes, sê Ronald, en kommersiële produsente is prysnemers van hul produkte. Hy neem dit egter nog ’n stappie verder met sy opmerking dat winsmarges onderhewig is aan streng insetkostebestuur, terwyl maksimum produksie deurlopend toegepas word.

“Dit laat toe vir die ontginning van skaalvoordele,” sê hy. “Ons probeer bespaar op uitgawes soos trekker-herstelwerk, brandstof en kunsmis, en om insetkoste vooraf te begroot. Daar is ’n vaste begroting vir die kudde, inaggenome dat dit kan verander na gelang van die seisoene. Ons verskans onsself ook teen die impak van inherente risiko deur middel van streng begrotingsbestuur.”

Lees meer oor arbeidbesparende skaapboertegnieke hier.

Aangepaste Angusbeeste

Wat die Rooi Angusse betref, het hulle die afgelope paar jaar baie aandag aan die kudde se verbetering spandeer. Hulle koop geregistreerde Angusbulle by ’n teler wie se diere goed in hul omgewing aangepas is. Die bulle word ook jaarliks getoets om hul vrugbaarheid te bepaal en enige ongerymdhede te identifiseer.

“Ons beeskudde is aangepas in ’n omgewing wat hoë eise aan ons diere stel. Omdat die beeste nie elke winter ekstra lek of byvoeding kry nie, kan ’n koei een kalfseisoen oorslaan. As dit opeenvolgend gebeur, word sy saam met die ouer koeie geslag om sodoende eenvormigheid en vrugbaarheid in ons kudde te bewerkstellig.”

Na afloop van die koeie se vyfde kalfseisoen, bly hulle ná speen, en as droë koeie, vir die res van die seisoen op natuurlike grasveld waar hulle kondisie mooi afgerond word. Ronald merk laastens op dat dit ’n pluspunt sal wees om ’n mark vir hierdie diere te vind, maar dat dit vir nou voorkom asof die premie nie werklik tot voordeel van produsente strek nie, maar wel tot guns van kleinhandelaars. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Ronald Small by 079 654 8797 of ronald@dingle.co.za.

Must Read

RSG Landbou: 1 Desember 2022 – geborg deur Elanco Animal Health

Dr Louis Boag van Elanco Dieregesondheid is eerste aan die woord in Donderdag se aflewering van RSG Landbou. Hy gee raad met betrekking tot...