Veeplaas het onlangs by die plaas Avondale in die Queenstown-distrik besoek afgelê, waar Simon Sutton sy boerdery bedryf deur die wyse waarop wilde diere in die dae voordat heinings opgerig is vrylik kon rondbeweeg, na te boots.

Simon het in 2011 die leisels op Avondale oorgeneem en sodoende in die voetspore van sy oorlede pa en oupa gevolg. “My pa en oupa het albei ’n melkery op die plaas bestuur en in later jare het my pa ook ’n paar Beefmasterbulle met sy Branguskruiskoeie gekruis. Hy wou op vleisgehalte kapitaliseer en beeste teel wat beter sou vaar onder ons moeilike omstandighede.”

veeboerdery
Simon Sutton saam met sy vrou, Clerette, en hulle kinders, Daniel en Chalette.

Na baie oorweging en met die tekort aan water in die omgewing in gedagte, het Simon die melkery toegemaak en sy aandag op ’n Beefmasterkruis-onderneming gevestig.

’n Natuurlike manier tot veeboerdery

Tydens die droogte was dit ’n uitdaging om die diere op veld te voer, selfs nadat die veegetalle verminder is. Terselfdertyd het Simon se broer, Gary, wat met wild langs die Imvani-rivier boer, gesukkel om die inkomste te genereer wat hy nodig gehad het. Nadat hy ’n kursus aan die Savory Institute voltooi het, het hy aan Simon voorgestel dat hulle ’n ander, meer natuurlike benadering tot boerdery moet oorweeg.

Simon sê hulle het oor die afgelope drie jaar ’n totale skuif na ’n meer holistiese stelsel gemaak. “Wilde diere het aanvanklik onbeperk rondbeweeg op soek na nuwe weiding, en dit het die veld genoeg tyd gegee om te herstel. Dit is die kern van wat ons hier probeer bereik – om ons veld te verbeter deur die regte tipe diere te gebruik om voordeel uit die hoeveelheid gras op die plaas te trek.”

veeboerdery
Die veld op Avondale bestaan uit verskeie grasspesies. Hier is terpentyngras, rooigras, vleivingergras, vingergras, twee soorte Eragrostis asook verskillende kruietipes en onkruide sigbaar.

Die Sutton-broers, veral Gary, het ’n passie vir miskruiers. Die kewers dra basies die mis, wat dikwels parasieteiers bevat, diep in die grond in waar die lewensiklus van die wurms beëindig word.


Volg die skakel om meer te leer oor die verhouding tussen miskruiers en volhoubaarheid


“Ons weet almal dat ivermektien baie soorte parasietbesmettings behandel, maar ’n miskruier kom nie naby die mis van ’n dier wat daarmee behandel is nie,” verduidelik Simon. “Ons probeer om ons diere aansienlik minder te dip, al is ons in ’n rooiwateromgewing geleë. Die koeie het dus begin om immuniteit teen die bosluise op te bou.” Sedert Januarie het Simon slegs die helfte van die koeie in die kudde ingespuit.

Geen kortpaaie in veeboerdery nie

Alhoewel hy nog nie 100% holisties boer nie, sien Simon reeds die voordele van hulle nuwe benadering, soos nuwe grasvariëteite wat skynbaar uit nêrens opskiet. “Dit beklemtoon die feit dat ons op die regte pad is deur beeste in kleiner kampe saam te bondel, waar die gras vinnig gevreet word en kans kry om natuurlik te herstel. Op dieselfde manier, hoewel dit ’n bietjie langer neem om die gewenste resultate te kry, is ons besig om die wild te leer om die beeste te volg en hulle bewegings na te boots.”

Die grootste uitdaging tot dusver was die verandering in boerderypraktyke. “Om op hoogte van die nuutste tegnologie en ontwikkelings te bly, moet jy vergeet van die idee dat daar net een manier is van dinge doen. Ons keer nou terug na ’n denkwyse van baie jare gelede, toe die gras deur die beeste se stormloop-manier van wei vertrap is, en dít dan die ‘kos’ vir die volgende jaar se groei geword het. ’n Mens kan dit selfs as die volgende jaar se kunsmis beskou.”

Om in harmonie met die natuur te boer, is in Simon se ervaring ’n stadige maar lonende proses. Ongeveer 70% van Avondale is reeds in klein kampe onderverdeel, terwyl die res omgeskakel sal word wanneer dit finansieel lewensvatbaar is en sodra ’n paar waterkwessies aangespreek is.

’n Somerlek word gebruik om die kudde se kondisie te verbeter.

“Ons bestuur ons veld deur die beeste te gebruik om die gras in vleis te omskep. Aan die einde van die dag produseer ons ’n maksimum hoeveelheid vleis uit ons veld. Die hoefaksie wat die grond opgrawe en losmaak is wat ons soek om die veld te herstel – nie die aantal monde wat gevoer word nie.”

Nie-selektiewe beweiding

Hulle probeer nie-selektiewe weiding toe te pas deur die diere te verhoed om slegs die beste gras uit te soek. “ ’n Mens sal gewoonlik ’n klein kampie hê met baie diere wat dít wat voor hulle is, vreet. My doel is om soveel as 220 koeie in ’n 15ha-kamp te kry en hulle dan drie tot vier dae later na die volgende kamp te skuif. Dit is meer as dubbel die getal koeie wat my pa gedink het is moontlik.”

Benewens die gunstige vertrappingseffek, is die hoeveelheid urine en mis wat in elke kamp agtergelaat word, ook uiters voordelig. Die 40mm ondergrondse pypleiding wat Simon geïmplementeer het, voorsien baie van die kampe met skoon, vars water.

“Die rede waarom dit so ’n belangrike rol speel,” sê hy, “is omdat ’n koei in die somer gewoonlik ongeveer 70ℓ water per dag sal drink. Sowat 20 tot 30% daarvan beland terug in die grond as urine, wat ekstra vog verskaf. Dit is waarom ’n mens gereeld groen gras in die wintermaande sien groei. Nes die verskillende soorte gras wat hulself weer hervestig, is hierdie van die voordele wat ons geniet.”

Belangrike seleksiekriterium in veeboerdery

Volgens Simon is dit die tipe koei in ’n ras, nie ’n spesifieke ras nie, wat sukses bepaal. Wanneer hulle bulle selekteer, soek hulle gewoonlik na ’n dier met ’n effens kleiner raam. “Die rede is nie dat ons kleiner speenkalwers wil hê nie, maar om oorhoofs meer beesvleis te kry. As ons byvoorbeeld 300 koeie met ’n besettingsyfer van 90% voer, kan ons 270 kalwers kry wat 200kg weeg, in vergelyking met 200 groterraamdiere wat 180 kalwers lewer, wat 250kg weeg. Dit kom neer op ’n verskil van 9 000kg.”

Simon se raad aan produsente wat ’n meer natuurlike manier van boer oorweeg, is as volg: “Moenie bang wees om jou stelsel te verander nie. Verandering het dikwels finansiële implikasies, maar daar is maniere om verandering geleidelik te maak sodat die finansiële las minimaal is. Ons het die afgelope drie jaar geleidelik ons boerderypraktyke verander en geniet reeds groot voordele. Jy sal uiteindelik ook die finansiële vrugte pluk én jou veld bewaar.” – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Simon Sutton by 072 492 9564 of bonavon@eci.co.za.