Lekaanvulling: Bepaal jou doelwitte vir elke seisoen

1500
lekaanvulling, mineraalaanvulling
Op natuurlike weidings bly die doelwit met ’n aanvullingsprogram die spesifieke produksiemikpunt wat die diere op die weiding moet bereik.

Lekaanvulling is ‘n wetenskap wat jou veeboerdery se winsmarge kan verbeter, mits jy dit reg doen. Met die jaarlikse oorgang van winter na somer, en weer van somer na winter, verander die lekbehoeftes van vee. Die deel van die land waarin ’n mens boer bepaal hoe hierdie verandering lyk, maar breedweg kom dit daarop neer dat vee op verskillende tye verkillende lekaanvulling benodig: In die winter ’n proteïenaanvulling benodig en in die somer ’n mineraalaanvulling, met fosfor aan die voorpunt hiervan.

As ’n mens mooi oplet, sal jou vee vir jou sê presies wanneer en hoe hul behoeftes begin verander, sê dr Johan Meaker, ’n bekende afgetrede navorser, in ’n vorige uitgawe van Veeplaas.

Seisoenale oorgangslekke

Hoewel reënval die grootste invloed op die groei van gras het, speel hitte-eenhede en dagliglengte ook ’n belangrike rol. Gevolglik weet baie boere dat, afhangend van faktore soos vog, omgewing en die effek van kampe, gras so vroeg as die einde van Julie of begin Augustus begin groei – gewoonlik eerste in die vleie en aanvanklik baie stadig.

As jy nie voldoende ruvoer het nie, sal enige vorm van lekaanvulling van min waarde wees.

Dit is eers teen die middel tot einde van November dat gras oral optimaal groei. Iewers tussenin hierdie datums is die beste tyd vir die gebruik van oorgangslekke, gewoonlik vir ’n tydperk van ongeveer ses weke.

“Dit is in hierdie oorgangstyd dat ons somer- en winterlek in gelyke hoeveelhede meng, totdat die omstandighede sodanig verander, dat die diere ten volle op somerlekke kan gaan. Dieselfde geld aan die einde van die somer, wanneer die diere se behoefte aan proteïen groter word.

“Met die gereelde uitsit van lekke, begin die diere teen einde September of begin Oktober groen gras soek. Hoewel min groen gras dan al beskikbaar is, verlaag hul inname van proteïengevulde winterlekke drasties. Só sê die diere vir ’n mens dat hulle nou meer minerale benodig. Die oomblik wanneer jy dan meer minerale in die lek sit, neem die inname weer merkbaar toe. Fyn waarneming is dus die sleutel tot die doeltreffende oorgang van winter- na somerlekke en omgekeerd,” sê dr Meaker.

Sy resep vir hierdie oorgangstyd is die ou bekende Dundeelek as winterlek, tesame met ’n somerlek. Hy meng die twee in gelyke hoeveelhede totdat die reënval vir genoeg groen gras sorg.

Lekaanvulling vir teelkoeie

In die produksiejaar van ’n teelkoei is daar ’n beslissende tydperk van ongeveer 100 dae wat bepaal of besetting sal plaasvind al dan nie, het wyle Hendrik van Pletzen ook destyds in Veeplaas geskryf. Hierdie 100 dae is die laaste 30 dae van dragtigheid en die eerste sowat 70 dae van laktasie.

In hierdie tyd vind twee groot gebeurtenisse plaas – eerstens word ’n kalf gebore en tweedens vind bevrugting plaas, wat die begin van die volgende kalfsiklus is. Die voedingsbehoefte van die koei in terme van gehalte en hoeveelheid weiding in dié tyd, is nagenoeg net soveel as wat sy in die res van die produksiejaar benodig.

Eerstekalfkoeie, wat self nog moet groei om volwassenheid te bereik, se voedingsbehoeftes is nóg hoër in hierdie 100 dae. Die hoë voedingsbehoefte is ’n gegewe, maar die voervloeibeplanning en weidingvoorsiening in hierdie tydperk is dikwels onvoldoende.

Die herstelvermoë van koeie wat in ’n swak kondisie kalf is baie stadig en verskeie navorsers wys op die swak herbesetting van maer koeie. Die teendeel is ook waar en koeie in ’n goeie kondisie tydens kalftyd beskik oor meer reserwes, herstel vinniger na kalwing en kom vinniger weer op hitte.

Produksielekke

Die teikenkondisiepunt tydens kalwing moet 3 tot 3,5 (op ’n skaal van 1 tot 5) wees en die gebruik van produksielekke kan bydra om hierdie mikpunt te bereik. Produksielekke is duur omdat die inname daarvan ongeveer drie maal soveel as dié van onderhoudslekke is. Daarom moet die tydperk van gebruik so kort as moontlik wees, sonder om doeltreffendheid in te boet. Die verlies aan inkomste weens ’n koei wat oorslaan is egter baie meer as dié van ’n produksielek wat strategies gebruik word.



Die gebruik van enige produksielek behoort dus eerstens aan spesifieke mikpunte gekoppel te wees, beklemtoon die bekende dierevoedingspesialis van Kaonne Investments, dr Hinner Köster. Vrae wat byvoorbeeld gevra moet word sluit in: Is jou mikpunt met ’n produksielek om groei by speenkalwers van 500g of 1 000g per dag te bereik? Wil jy lakterende koeie ondersteun deur hul kondisie te herwin of ten minste tot die volgende kalftyd te behou, sodat hulle vinnig weer beset kan raak? Of wil jy goeie melkproduksievlakke stimuleer vir die produksie van swaarder speenkalwers?

Elkeen van hierdie mikpunte, sê hy, stel verskillende vereistes vir ’n produksielek. “Die kombinasies en vlakke van energie en proteïentipes kan dus aansienlik verskil, maar die hoeveelheid lek ingeneem per dier per dag sal ook verskil. In sommige gevalle sal 800g produksielek per dier per dag voldoende wees, maar in ander gevalle sal dit 1,5 tot 2kg per dag moet wees. Hierdie verskille moet goed bestuur word om die maksimum voordeel uit enige tipe produksielek te kry.”

Onderhouds- vs. produksielek

Dit is belangrik, beklemtoon dr Köster, dat ’n mens duidelik onderskeid tussen die beginsels en mikpunte wat vir ’n onderhoudslek en ’n produksielek geld, moet tref.

“ ’n Primêre rol van ’n produksie-aanvullingsprogram is steeds om die benutting van die ruvoer se voedingstowwe wat die dier inneem, te help stimuleer. Dit doen die produksielek op dieselfde wyse as ’n onderhoudslek, deurdat die korrekte voedingstowwe daarin die mikrobes in die dier se spysverteringstelsel stimuleer sodat die ruvoer se veselkomponent (energiefraksie) verteer kan word en genoeg voedingstowwe uit die ruvoer benut word om aan veral die onderhoudsfunksie asook ’n deel van die groeifunksie (afhangend van die ruvoergehalte) van die dier te voldoen.

“Lekaanvullings ryk in rumendegradeerbare proteïen, soos oliekoek, en nieproteïenstikstof (NPN)-bronne, soos ureum en ammoniumsulfaat, sal grasbenutting en gevolglik veeprestasie op veral winterweidings verbeter. NPN-bronne is goedkoper en tot ’n sekere innamevlak net so in staat om die vertering en inname van gras te stimuleer as lekaanvullings wat op natuurlike proteïen gebaseer is. Sodra daardie vlak egter bereik word, is addisionele natuurlike proteïen nodig om maksimum prestasie te behaal.”

’n Produksielek, verduidelik hy verder, bevat dan addisionele energie op grond van die benadering dat die gras net sóveel energie kan verskaf om ’n spesifieke produksiemikpunt te bereik. Indien die energievereistes van jong, groeiende of lakterende vleisbeeste, veral eerstekalfverse, dus die hoeveelheid energie oorskry wat die gras gee, sal ekstra energie in ’n tipiese ‘produksie-aanvulling’ voorsien moet word. Dit kan óf beter gehalte gras (moontlik aangeplante weiding) óf ’n proteïen-/graangebaseerde lekaanvulling wees.

Graan sal die verbetering van die gras se inname en vertering minder beïnvloed, veral in die winter, maar sal prestasie wel direk verbeter, aangesien dit die tekorte in die ruvoer aanvul wanneer hoër produksiemikpunte vereis word.



Klik hier om te hoor wat Ulrich Muller van Voermol te sê het oor produksielekke.

Somer- vs. winterproduksielekke

“Daar is natuurlik ook ’n beduidende verskil tussen winter- en somerproduksielekke. In die somer is energie eerder die beperkende faktor, so die klem op aanvulling hier val baie sterker op energie-aanvulling. In die winter is die benadering om eers op die proteïenbyvoeging te konsentreer en dan die energie daarmee te balanseer.

Winter- en somerproduksielekke verskil aansienlik. In die somer val die klem op energie-aanvulling en in die winter op proteïene.

“By somerproduksielekke word daar by die proteïenfraksie ook meer klem op rumendeurvloeiproteïen gelê, omdat die natuurlike proteïen in die gras voldoende rumendegradeerbare proteïen vir mikrobewerking in die rumen voorsien. Enige ekstra proteïene saam met die energie om hoër produksie met somerproduksielekke te bereik, sal dus hoofsaaklik in die vorm van rumendeurvloeiproteïen wees.

“Laastens, as jy nie voldoende ruvoer het nie, sal enige vorm van lekaanvulling van min waarde wees. Dit bly baie belangrik dat die een of ander vorm van ruvoer beskikbaar moet wees of aangekoop word,” sluit dr Köster af. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Vir meer inligting en bronverwysings, kontak die outeur by izak@plaasmedia.co.za.