Die voorkoms en beheer van pompom in Suid-Afrika

232

Pompom (Campuloclinium macrocephalum) het sy oorsprong in Suid- en Sentraal-Amerika en is in die 1960’s die eerste keer in Durban aangeteken, waarna dit vir bykans 30 jaar latent gebly het. Dié indringerplant is egter baie aanpasbaar en kom tans wydverspreid in Gauteng, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal voor, met enkele besmettings wat in die George-omgewing van die Wes-Kaap aangemeld is.

In teenstelling met inheemse plantspesies, waar populasiegrootte op ’n natuurlike wyse deur geassosieerde insekte en plantpatogene gereguleer word, het uitheemse plante geen natuurlike vyande nie. Daarbenewens beskik menige uitheemse plantspesies oor ’n reeks planteienskappe wat aan hulle ’n indringerstatus kan verleen.

Pompom produseer sowat 800 miljoen sade per hektaar, wat tot digthede van soveel as 270 000 volwasse plante per hektaar kan lei. Verder stel die groeipunt, wat net onder die grondoppervlak aangetref word, die plant in staat om wintertoestande, wat met veldbrande en ryp gepaard gaan, te oorleef.

Vatbare gebiede

Hoewel die plant ook met versteurde toestande soos ou lande, voorbrande, treinspore, paaie en dies meer geassosieer word, is dit geensins ’n pionierplant nie en beskik dit oor die vermoë om selfs klimaatklimaksgebiede binne te dring.

Die grasveldbioom spog nie net met ’n ryk biodoversiteit nie, maar is ook die tweede grootste bioom in Suid-Afrika en beslaan sowat 29% van die landoppervlak. Terselfdertyd is dit ook een van die mees bedreigde biome, waarvan sowat 30% permanent getransformeer is en slegs 2% tans onder bewaring is.

pompom
Pompomroes met onmiskenbare rooibruin spikkels op die blare. (Foto: AJ McConnachie)

Ongewenste en swak bestuurspraktyke verlaag die bioom se natuurlike buigsaamheid teen indringerspesies, wat onder andere tot strukturele veranderinge in die samestelling daarvan kan lei. Dit kan groot finansiële verliese vir veral produsente en kleinboere wat van natuurlike weiding afhanklik is, beteken.

Meganiese beheer

Beheermetodes vir pompom sluit meganiese, chemiese en biologiese beheer in. Die fisiese uithaal van plante en die afsny van blomknoppe is arbeidsintensief, en gevolglik beperk tot opslagplante of klein besmettings, waar doeltreffende fisiese beheer moontlik is.

Indien die plant uitgehaal word, is dit belangrik om daarop te let dat die ondergrondse groeipunt verwyder moet word om hergroei te voorkom. Hergroei van die vingeragtige, vlesige wortels is nie moontlik nie en dié dele hoef dus nie verwyder te word nie. Om saadverspreiding te voorkom, moet blomknoppe liefs gesny word wanneer die blomhofies nog pienk is.

Ongelukkig moet hierdie proses deurlopend herhaal word in die groeiseisoen, omdat die plant reageer deur nog blomstele te produseer. Afgesnyde materiaal kan in sterk plastieksakke in die son gelos word om te vrot, of die inhoud kan verbrand word.

Chemiese beheer

Met die korrekte toediening van goedgekeurde spuitstof, kan pompom-digtheid met sowat 80% verlaag word, indien toediening vir vyf tot sewe jaar volgehou word. Aktiewe bestanddele geregistreer vir die beheer van pompom sluit metsulfuron-metiel, picloram en fluroxypyr/picloram in. Dit is uiters belangrik dat slégs geregistreerde middels gebruik word.

Vir opgedateerde inligting oor geregistreerde handelsname kan die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gekontak word. Croplife SA se webtuiste, www.croplife.co.za bevat ook waardevolle inligting in dié verband.

pompom
Pompom-roesskade en nekrose. (Foto: AJ McConnachie)

Kolbespuiting sal ongewenste skade aan omliggende plantegroei beperk, terwyl picloram-bevattende middels liefs nie in vleilande, dreineringsareas, langs riviere ensomeer gebruik moet word nie. Dit is omdat uitloging in ondergrondse waterbronne ’n lang halfleeftyd kan veroorsaak, wat skade aan nie-teikenplante, sowel as landbougewasse onder besproeiing, verhoog.

Die aanwesigheid van pompomroes (Pucciniaeupatorii), wat vir blaarnekrose in pompom verantwoordelik is, kan ook die doeltreffendheid van onkruiddoders verlaag, omdat translokasie binne die plant beperk word. Die roes piek gewoonlik rondom Februarie, wat die venstertydperk vir die toediening van onkruiddoder aansienlik verkort.

Kenmerkende rooibruin spikkels is aanvanklik net op ouer, laagliggende blare sigbaar, vanwaar dit die hele plant besmet. Dit is raadsaam om die groeivorm van jong pompomplante te leer ken, sodat onkruidbeheer op die aktiewe groeistadium kan fokus om optimale doeltreffendheid te verseker.

Biologiese beheer

Biologiese beheer van indringerplante behels die gebruik van natuurlike vyande wat insekte en patogene insluit. Dit is belangrik om te onthou dat insekte en patogene in ekwilibrium met die gasheerplant bestaan en uitwissing dus slegs in enkele gevalle die resultaat sal wees.

pompom
Hergroei van pompom verdwerg deur blaaspootjie. Klein, rooi, onvolwasse L tractabilis-insekte is sigbaar. (Foto: A King)

Die pompom-blaaspootjie, Liothrips tractabilis, is ’n insek wat sagte, nuwe plantmateriaal beskadig en sodoende die plant se groei en blomvorming beïnvloed. Gevolglik word gemiddelde saadproduksie en kiemkragtigheid met 56 en 33% onderskeidelik verlaag.

Die rol van die blaaspootjie-insek is dus om groot besmettings in te perk en die saadbank stelselmatig uit te put in ’n poging om die pompombesmetting na ’n meer aanvaarbare, bestuurbare vlak te bring. Die pompom-blaaspootjie word gratis aan die publiek verskaf, sodat grondeienaars hul eie massateelstasies kan ontwikkel, vanwaar hulle self die insekte verder kan versprei – hetsy op hul eie grond of naburige eiendomme.

Biologiese beheer is nie ’n kitsoplossing nie, maar eerder ’n beheeropsie wat met ander bestaande metodes gekombineer kan word.

pompom
L tractabilis se galagtige skade aan groeipunte. (Foto: A King)

Die publiek kan grootliks tot die beheer van pompom bydra deur nie van die blomme te pluk nie, nuwe besmettings by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) aan te meld (alienplants@sanbi.org.za) en medeburgers bewus te maak van die gevaar wat pompom vir biodiversiteit en landbou inhou. – Liamé van der Westhuizen, LNR-Plantgesondheid en -beskerming

Lees jou veld en bestuur jou boerdery daarvolgens.

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan Liamé van der Westhuizen by VDWesthuizenL@arc.agric.za.