Estimated reading time: 4 minutes
Effektiewe en praktiese voerkraalbestuur met die doel om winsgewendheid te maksimeer is opnuut beklemtoon by Rumivation Nutrition se eerste Beesvoerkraal-ekspo. Die ekspo het op 21 Februarie buite Potchefstroom plaasgevind.
Volgens Annelie van Deventer, herkouer-voedingkundige by Rumivation Nutrition en organiseerder van hierdie geleentheid, is die doel om belanghebbendes in die bedryf en voerkraalprodusente bymekaar te bring, suksesvol bereik. Verskeie bedryfskundiges het insiggewende aanbiedings oor onderwerpe soos kuilvoer, die voermengproses, gesondheidsvoorkoming en mikotoksiene gelewer. Ekonomiese vooruitsigte rakende kommoditeitspryse is ook uitgelig.
Kuilvoerverliese kan produsente pootjie
Richardt Venter, direkteur van AgSci Agroservice en Budissa Bagger-agent, het in sy aanbieding gesê die gemiddelde kuilvoerverlies in Suid-Afrika is ongeveer 15%, maar dit kan van 5 tot meer as 30% wissel. Hierdie verliese hang van die sisteem af wat gebruik word. Dit sluit bunkers, hope, kuilvoer/silosakke of bale in. Hy het verder gesê dit hang ook van die spoed van inkuiling af. “Hoe stadiger die proses is, hoe meer bederf-organismes groei en hoe swakker is die kuilvoergehalte.”
Venter het produsente aangemoedig om nie té haastig te wees om kuilvoer te sny nie. Daar is verskeie redes daarvoor soos plante wat nog té jonk en nat is. Stysel is ook nog nie ontwikkel nie, en die opbrengs is nog laag, terwyl fermentasieverliese dan hoër en die algehele risiko té hoog is.
Lees meer oor die riglyne vir voerkraalkonstruksie hier.
Verbeter op die voermengproses
Wiaan Faber, bestuurder van Kemin se herkouerbesigheidseenheid, het die waarde van die voermengproses beklemtoon en gefokus op areas waar daar ruimte vir verbetering is. Hy het gesê dat dit eerstens belangrik is om aandag te skenk aan die voor-voermengproses, veral met die doel om rou materiaal doeltreffend te bestuur en ’n goeie gehalte voerrantsoen vir diere te verseker.
Die bestanddele wat in ’n rantsoen gebruik word, moet dus van goeie gehalte wees voor die mengproses, en dit moet behoorlik verwerk en geberg word om verliese te voorkom. Die korrekte menger speel ook ’n belangrike rol in die mengproses, onderhoud moet gereeld gedoen word en die korrekte volgorde van voere moet by die mengproses gevolg word.
Nadat die voer gemeng is, is dit belangrik om dit so effektief moontlik by die voerkrip te kry. Daar moet aandag gegee word aan die regte voermengsel, gehalte, korrekte hoeveelheid op die regte tyd en die regte manier om dit in die voerkrip te plaas.
Mikotoksiene is ’n werklikheid
Janik Bekker, ontwikkelingsbestuurder van voerkrale by Vitam, het op die invloed van mikotoksiene gefokus. Hy het verduidelik dat daar meer as 400 verskillende mikotoksiene is, maar dat slegs ’n paar van hulle soos deoksinivalenool (DON), fumonisien (FUM) en searalenoon (ZEO) ‘n groot invloed op die landboubedryf het.
Bekker het benadruk dat dit ’n algemene verskynsel is dat veevoere deur mikotoksiene besmet word. Selfs teen lae besmettingsvlakke kan die toksiene diere en produksie benadeel en tot groot ekonomiese verliese lei. Daarom is dit van kritieke belang vir produsente om ’n mikotoksienbinder in ’n voerrantsoen te gebruik om sodoende hul diere daarteen te beskerm.
Klem op siektevoorkoming en vooruitsigte vir die bedryf
Dr DeWet Barnard van MSD Animal Health het in sy aanbieding beklemtoon dat die voorkoming van siektes meer ekonomies is as die behandeling daarvan. Hy het aangevoer dat daar wêreldwyd druk is om die gebruik van antibiotika in vleisproduserende diere te verminder.
“Die beste manier om dit te doen is deur siektevoorkoming soos entings, behandeling en parasietbeheer. As jy geld belê in ’n goeie voorkomende gesondheidsprogram, sal jy minder antibiotika gebruik.”
Dit beteken dat daar minder antibiotika potensieel in vleis kan beland, met ’n verminderde risiko vir antibiotika-weerstand wat na mense kan oordra.
Dr Johnny van der Merwe, landbou-ekonoom en besturende direkteur van AMT, het in sy aanbieding aangedui dat die prys van witmielies na verwagting kan styg , wat op sy beurt die prys van hominy chop kan laat toeneem. Die land beweeg ook nou in ’n speentydperk in en met droë en warm weersomstandighede kan dit die speenkalfprys laat daal, wat goeie nuus vir voerkraalprodusente is. – Christal-Lize Muller, Plaas Media