Estimated reading time: 3 minutes
Met die aanbreek van die jagseisoen en ‘n tyd van die jaar waarin die meeste wild van een provinsie na ’n ander verskuif moet word, het redelike chaos in Noordwes ontstaan. Die rede was die oorskakeling vanaf die ou Nasionale Geïntegreerde Permit- en Magtigingstelsel (Nipas) na die nuwe CivicPAL-stelsel.
Dié stelsels hanteer alle permitte wat vereis word vir natuurbewaringsaksies en wat deur wildboere en professionele jagters nagekom moet word.
Onvoldoende oordragproses
Hoewel die ou NIPAS-stelsel reeds meer as ses maande gelede deur die CivicPAL-stelsel ‘vervang’ is, is die oordragproses nooit voltooi nie. Sonder enige formele aankondiging is daar eendag meegedeel dat die nuwe stelsel die volgende dag in werking sou tree, en almal moes skielik rondskarrel om betyds die regte dokumentasie te bekom.
Volgens Richard York, hoof uitvoerende beampte van Wildlife Ranching SA (WRSA), was daar talle tandekryprobleme met die nuwe stelsel. Dit was moeilik om aan te meld, die stelsel was volgens sommige rolspelers onstabiel, en ’n groot aantal administratiewe foute het voorgekom. Gebruikers moes ook nuwe, individuele profiele skep, terwyl historiese data nog nie vanaf die ou na die nuwe stelsel oorgedra is nie.
York sê ’n proses van dié omvang moes minstens 60 dae vooraf aan alle rolspelers gekommunikeer word om te verseker dat almal bewus is van die veranderinge en dat die stelsel behoorlik funksioneer.
WRSA het ’n brief aan die LUR van Noordwes se Departement Ontwikkeling, Omgewing, Natuurbewaring en Toerisme, Bitsa Lenkopane, gerig om hul misnoeë te kenne te gee. Die meeste probleme is egter intussen uitgestryk, sê York.
Ingewikkelde stelsels
Hy voeg egter by dat permitstelsels vir wildboere onnodig ingewikkeld is, aangesien elke provinsie sy eie stel reëls en permitvereistes het, dit terwyl die nasionale departement ‘n stel afsonderlike regulasies toepas. Om byvoorbeeld ’n bok van een provinsie na ’n ander te verskuif, moet ’n uitvoerpermit van die oorspronklike provinsie verkry word, sowel as ’n invoerpermit van die bestemmingsprovinsie.
Die minister van bosbou, visserye en omgewingsake, Willie Aucamp, het op 2 Mei vanjaar tydens die Groot Kalahari-veiling, boere se frustrasie oor die administratiewe rompslomp in die wildbedryf erken. Hy het gesê swak kommunikasie tussen die staat, provinsiale owerhede en die privaatsektor vererger die probleem. Sy departement beplan om veranderinge aan te bring. Hy het ook genoem dat daar aan ’n toepassing gewerk word om prosesse vir rolspelers in die bedryf te vereenvoudig.
Aucamp het egter geen aanduiding gegee van wanneer hierdie administratiewe probleem iets van die verlede gaan wees nie. Die wildbedryf lewer jaarliks ’n bydrae van R42 miljard tot die land se ekonomie, en dit sluit nié sekondêre bedrywe soos taksidermie en wildtoerisme in nie. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting skakel gerus met WRSA by 012 335 6994 stuur ’n boodskap na media@wrsa.co.za.