Paaie: ’n Voortslepende krisis in die Noord-Kaap

Share This Post

Estimated reading time: 3 minutes

Vir etlike jare al is daar een punt wat konsekwent op elke landbouverenigingvergadering se agenda verskyn: paaie. Alhoewel die provinsie kan spog met uitstekende teerpaaie wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) onderhou word, is daar steeds sowat 27 000km se grondpaaie waarvoor die Departement van Paaie en Openbare Werke verantwoordelik is.

Padgebruikers kla egter dat hierdie paaie jaar na jaar verswak, en met vanjaar se oorvloedige reënval is die situasie erger as ooit tevore. Op 5 Mei het Agri Noord-Kaap (Agri NK) ’n versoek aan die premier van die provinsie gerig dat die paaiekwessie tot ’n ramp verklaar moet word.

Weersomstandighede noodsaak ingryping

Sedert hierdie versoek het die Nasionale Rampbestuursentrum die huidige weersomstandighede as ’n nasionale ramp verklaar, ’n stap wat Agri NK verwelkom. Volgens Willem Symington, president van die organisasie, noop die erge reënval, oorstromings, donderstorms, stormwinde en selfs sneeu in die Noord-Kaap alle regeringsvlakke om hande te vat en mense in nood by te staan.

Hy beklemtoon dat hulp egter nie tot humanitêre ondersteuning beperk moet wees nie, maar ook die instandhouding van kritieke infrastruktuur, soos paaie, moet insluit. Symington wys daarop dat dit nie net landbouers is wat die paaie gebruik om produkte na markte te vervoer of insette op plase te kry nie. Ander inwoners is net so afhanklik van hierdie infrastruktuur en ervaar gereeld grootskaalse voertuigskade as gevolg van die swak toestand van die paaie.

Agri NK het ook sy kommer uitgespreek oor die disfunksionaliteit van die departement wat vir paaie verantwoordelik is. Daar is volgens Symington ’n tekort aan personeel en toerusting, swak instandhouding van masjinerie en onvoldoende bestuur van beskikbare hulpbronne. In sommige gevalle sien vervoerkontrakteurs nie meer kans om landbougoedere by plase op of af te laai nie, aangesien die paaie eenvoudig onbruikbaar geraak het.

’n Beroep op volhoubare oplossings

Agri NK glo dat ’n rampverklaring die regering in staat sal stel om fondse en mannekrag beskikbaar te stel om geaffekteerde gemeenskappe te help. Die organisasie onderneem ook om self by te dra deur grondvlakstrukture te gebruik om skade-opnames te doen en ’n prioriteitslys op te stel van paaie wat dringend aandag verg.

“Die nasionale rampverklaring is ‘n welkome en nodige stap,” sê Symington. “Die verklaring op sigself sal egter nie die probleem oplos nie. Ons doen dus ‘n beroep op die provinsiale regering om vinnig op te tree en die vereiste aansoeke vir ’n rampverligtingsfonds in te dien.”

Agri NK doen ook ’n beroep op die Noord-Kaap provinsiale regering en munisipaliteite om:

  • Vinnige en omvattende skade-assesserings te doen.
  • Die paaie wat die meeste beskadig is, te prioritiseer.
  • Volhoubare padherstelstrategieë te ontwikkel en te implementeer.
  • Die nodige befondsingsaansoeke by die nasionale tesourie en die betrokke owerhede in te dien.
  • Te verseker dat herstelwerk uitgevoer word volgens toepaslike ingenieurs- en dreineringbeginsels.

Vir verdere navrae, skakel Willem Symington by 084 592 7474. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 18 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...