Die veiligheid van plattelandse en plaasgemeenskappe bly ‘n aktuele onderwerp en ‘n fokuspunt vir georganiseerde landbou-organisasies. Agri SA het ’n paar maande gelede die AgriCulture SA.io databank bekendgestel waar boere insidente soos misdaad, dieresiektes en ander verwante voorvalle kan aanmeld. Die eerste openbare terugvoer oor die tydperk Januarie tot April 2026 is onlangs vrygestel.
Hoewel hierdie data nie die volledige prentjie ten opsigte van plattelandse veiligheid weerspieël nie, dien dit as ’n waardevolle aanduiding dat die platform nog in ’n ontwikkelingsfase is. Agri SA is vol vertroue dat hierdie databasis maand na maand sal uitbrei en in sy doelwitte sal slaag.
Doel van die platform
Die doel van die platform is om landelike misdaadtendense te dokumenteer, beter hulpbrontoekenning vir veiligheidsdienste sal motiveer en sal bydra tot ‘n geloofwaardige bewysbasis vir beleidsbetrokkenheid.
Gedurende die eerste vier maande van die jaar is 138 voorvalle op die platform aangemeld. Verslae is ontvang vanuit ses van Suid-Afrika se nege provinsies: die Oos-Kaap, Wes-Kaap, Limpopo, Noord-Kaap, Vrystaat en KwaZulu-Natal. Die drie provinsies wat geen aanmeldings gedurende hierdie tydperk gelewer het nie, is Gauteng, Mpumalanga en Noordwes.
Rondloperdiere behels die grootste kategorie van aangemelde voorvalle, gevolg deur volgehoue bek-en-klouseer verwante rapportering in Limpopo en die Oos-Kaap. Indien gevalle van rondloperdiere buite rekening gelaat word, is diefstal en kabeldiefstal die algemeenste misdrywe wat aangemeld is.
Misdaad in die Kaapse gebiede
Oos-Kaap: Die Oos-Kaap is die provinsie wat die meeste misdaadsake aangemeld het. Die meerderheid hiervan behels vrylopende beeste wat ernstige padveiligheidsrisiko’s inhou, veral in die Komga-gebied. Verskeie gevalle van verdagte aktiwiteite is ook in die Enoch Mgijima (Henderson)-gebied van die Chris Hani-distrik aangeteken. Dit sluit waarnemings in van voertuie wat moontlik betrokke is by dwelmhandel, asook voorvalle van skade aan wildshekke.
Wes-Kaap: In die Wes-Kaap is hoofsaaklik sake van diefstal, huisbraak, kabeldiefstal en veediefstal aangemeld.
Noord-Kaap: Ses misdaadsake is vanuit die Noord-Kaap gerapporteer, hoofsaaklik uit die John Taolo Gaetsewe-distrik en die Frances Baard-gebied. Hierdie insidente sluit diefstal van boorgatpompe en voertuie, kabeldiefstal, asook onwettige betreding van privaatgrond met skade aan elektrisiteitsheinings in.
Een voertuigdiefstalsaak is suksesvol opgelos, met die verdagte wat naby Black Rock in hegtenis geneem is danksy samewerking tussen naburige sekuriteitsnetwerke en die SAPD. ’n Herhalende saak van maandelikse boorgatpompdiefstal, wat telkens deur dieselfde boer aangemeld is, het egter nog nie tot die opening van ’n formele saak gelei nie. Dit dui op ernstige leemtes binne die SAPD.
Hierdie verslag verteenwoordig slegs ’n klein gedeelte van die werklike misdaad wat reg oor al nege provinsies plaasvind. Lede van georganiseerde landbou word sterk aangemoedig om betrokke te raak by die platform en alle voorvalle konsekwent aan te meld. Dit sal die SAPD toelaat om ’n beter oorsig van misdaadbrandpunte te verkry.
Persone wat betrokke wil raak, kan Jason Kümm van Agri SA skakel by 079 497 6278. – Koos du Pisanie, Plaas Media