Estimated reading time: 5 minutes
Die Simbra-beestelersgenootskap van Suidelike Afrika se onlangse elite-veiling by die AfriDome in Parys, het nasionale rekordpryse opgelewer, terwyl goeie gemiddelde pryse vir veral verse behaal is. Dit was die genootskap se eerste elite-veiling van sy soort, met ‘n 100%-verkoopsyfer wat vir die totale aanbod van nege bulle en 42 verse behaal is.
Kobus Bester, rasdirekteur van die genootskap, sê die veiling het alle verwagtinge oortref en ten volle in sy doel geslaag om topgenetika aan die mark beskikbaar te stel, sonder om op kwantiteit te fokus. Hy benadruk ook dat al die diere wat aangebied is, streng gekeur was, veral die bulle wat ‘n punt van minstens 80% moes behaal het om ingesluit te word. Die bulle is struktureel korrek en voldoen ten volle aan die ras se fenotipiese standaarde.
Daarmee saam, sê Marius Potgieter, president van die genootskap, is die goeie gemiddelde pryse ‘n weerspieëling van die gehalte van die bulle en verse wat aangebied is. Die genootskap beoog om op hierdie sukses voort te bou. Ian Grobbelaar, stoetvee-afslaer van Vleissentraal wat die veiling aangebied het, sê die Simbra-genootskap kan met reg trots wees op hierdie puik aanbieding wat werklik die beste van die beste ingesluit het. Diere wat andersins nooit aan die mark beskikbaar gestel sou word nie, is aangebied en die hoë standaard wat gehandhaaf is, het bewys dat goeie genetika sy prys werd is.
Hy sê die veiling is ook sterk ondersteun deur beide stoet- en kommersiële produsente. Die semenaanbod op die veiling het ook goeie pryse behaal, met die duurste semen wat teen R3 000 per strooitjie verkoop is.
Nasionale rekordpryse vir verse
Lot 35, Reggeraai Dipsie (REG22529B) van Carl Rautenbach se Reggeraai Simbras by Vredefort, het ‘n nuwe Simbra nasionale rekordprys van R155 000 vir ‘n dragtige vers behaal. Hierdie vyf-en-‘n-half maande oue dragtige vers, met uitstaande lengte, kapasiteit en vroulikheid, is deur Emile Groenewald van Klipoog Simbras by Frankfort gekoop. ‘n Totaal van 24 dragtige verse is teen ‘n gemiddelde prys van R74 620 per vers van die hand gesit.
Lot 28, Duo ME 23128 van Eugene Marias van Duo Simbras by Dewetsdorp, het ‘n Simbra nasionale rekordprys van R70 000 vir ‘n oop vers behaal. Hierdie poenskopvers is deur James en Janco Prinsloo van Jamica Simbras by Volksrust in Mpumalanga gekoop. Daarmee saam het Lot 50, Vleisberg Phoenix (VBG 2386C) van Kobus Bester se Vleisberg Simbras by Ventersdorp, ook die nasionale rekordprys van R70 000 vir ‘n oop vers behaal. Die vers, bekend vir haar uitstaande kapasiteit en vroulikheid, is deur Tito Vorster van Delft Simbras by Piet Retief gekoop.
‘n Totaal van 17 oop verse is teen ‘n gemiddelde prys van R40 500 per vers verkoop. Boonop is twee verse met kalwers onderskeidelik teen ‘n gemiddelde prys van R47 500 per paar verkoop. Volgens Potgieter is hierdie rekordpryse ‘n duidelike aanduiding van die vertroue wat stoettelers in mekaar en in die gehalte van hul diere het. Hy meen sonder hierdie onderlinge vertroue, sal dit moeilik wees om aan kommersiële telers ‘n sterk, mededingende produk te lewer. “Die hoë pryse, wys dat Simbra-stoettelers oortuig is van die genetiese waarde van hul diere en dit stuur ‘n sterk boodskap aan kommersiële telers dat Simbra-stoettelers se huis in orde is. “
Nickerball en Magic vat die kroon
Lot 3, Bleka Nickerball (BE 2057), is een van twee bulle wat die hoogste prys van R425 000 op die veiling behaal het. Die verkopers was die Trifecta Groep wat bestaan uit Kobus Bester, Kobie Dooman en Willie Lubbe van Brasim Simbra by Carletonville, asook Carl Rautenbach van Reggeraai Simbras. Die bul is deur Emile Groenewald van Klipoog Simbras gekoop. Die tweede bul, wat dieselfde rekordprys van R425 000 behaal het, was Lot 8, Jacmar Magic (JM 2016) van Jaco Maré se JacMar Simbras by Klerksdorp. Die kopers was Jaco en Muller van der Westhuizen van die 2 Broers Boerdery in Parys. Die nege bulle wat aangebied is, is teen ‘n gemiddeld van R295 000 per bul verkoop.
Telers en topdiere word vereer
Die genootskap het van die geleentheid gebruik gemaak om sy raads- en telersvergaderings te hou, gevolg deur die tradisionele elite Simbra-kuiergeleentheid waartydens verskeie toekennings aan uitstaande telers oorhandig is. Wenners en naaswenners van die onderskeie toekennings was:
BREEDPLAN: Volledigheid van prestasie
4-ster sertifikaatwenners
- Joel en Linley Lutge (Joshlin Simbras, Komga Oos-Kaap).
- Willie Lubbe en Kobie Doman (Brasim Simbra, Carletonville).
- Charles Urib (Hatagob Simbras, Namibië).
4.5-ster sertifikaatwenners
- Arné Grobbelaar (Glen-Aggay Simbras, Amsterdam, Mpumalanga).
- Diethelm Metzger (Kamab Simbra, Windhoek).
- Werner en Dagmar Wilckens (Ondeka Simbra, Namibië).
Teler met die meeste kalwers in ‘n jaar geregistreer:
Jacques Swart van Malemba Boerdery by Louwna, Noordwes.
Vaar met die meeste kalwers onder drie jaar
- LZ1734 – huidige eienaar, Schalk Erasmus (Blouberg Simbras, Warden).
- VBG1536C – huidige eienaar, Thys en Pieter Meyer (Zimeyer Simbras, Lindley).
- JM1925 – huidige eienaar, Riaan van Zyl (Rotswand Simbras, Winburg).
Teler met die meeste skrotummetings vir manlike diere onder twee jaar
Kategorie 1
- Charles Urib (Hatagob Simbras, Namibië).
- Reynier Rautenbach (Matteo Simbras, De Wetsdorp).
- Ernst du Plessis (Decatur Simbras, Krugersdorp).
Kategorie 2
- Willie Lubbe en Kobie Doman (Brasim Simbra, Carletonville).
- Eugene Marais (Duo Simbras, De Wetsdorp).
- Werner Wilckens (Ondeka Simbra, Namibië).
Teler met die meeste netto voerinname-opnames vir diere onder vier jaar
- Thys en Pieter Meyer (Zimeyer Simbras).
- Diethelm Metzger (Kamab Simbras).
- Lourens Muller (GerLou Simbras).
Die bes-bemarkte veiling tussen 1 September en 31 Julie 2025 het aan die Sirkel S Groep gegaan. Die veiling is op 22 Julie 2025 aangebied. Die Sirkel S Groep bestaan uit Divan Dreyer (Klipoog Simbras), Lourens Muller (Gerlou Simbras), Rick Dell (R2K Simbras, Ficksburg), Emile Groenewald (Klipoog Simbras), Richard Venema (Venema Simbras, Magaliesburg) en Gerrit Viljoen (Silwerrandjie Simbras, Heilbron).
Die Negatief 10-klubtoekenning het aan Werner en Dagmar Wilckens van Ondeka Simbra gegaan. Die hoogs-geprysde vroulike dier wat tussen 1 September 2024 en 31 Julie 2025 op ‘n veiling verkoop is, was die dragtige vers, DM21598. Diethelm Metzger se Kamab Simbra was die verkoper en Sidney Martin van Namibië die koper. Die hoogs-geprysde bul wat tussen 1 September 2024 en 31 Julie 2025 op ‘n veiling verkoop is was die bul, JM19155, van Jaco Maré van Jacmar Simbras. Johan Snyman van Welgedacht Simbra by Pretoria was die koper. – Christal-Lize Muller, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak Kobus Bester by 083 303 4422 of e-pos kobus@simbra.org.






