HomeAgri NewsRPO Noord-Kaap-produsente vra beter bemarking en produksie-omgewing

RPO Noord-Kaap-produsente vra beter bemarking en produksie-omgewing

Estimated reading time: 5 minutes

Tydens die RPO Noord-Kaap se jaarlikse kongres het talle produsente uitgelig dat veediefstal, die SKA-teleskoop, en die handhawing van dieregesondheid heelwat kopsere op grondvlak tot gevolg het.

Een saak wat egter soos ’n paal bo water gestaan het, was die bemarking van rooivleis. Heelwat boere het hul bekommernis uitgespreek dat rooivleis nie na behore bemark word nie.

Bemark rooivleis beter

Volgens die herkose voorsitter van RPO Noord-Kaap, Brand du Toit, gebruik Suid-Afrikaners al hoe minder rooivleis weens finansiële redes. Hy sê dat die gemiddelde Suid-Afrikaner verlede jaar slegs 3kg skaapvleis en 24kg beesvleis gebruik het.

Charl Saunderson, voormalige visevoorsitter van die RPO Noord-Kaap, sê dit is iets wat die RPO Noord-Kaap lankal bekommer. Hy is veral bekommerd dat daar ’n dag gaan kom waar mense nie meer gaan weet hoe om rooivleis voor te berei nie. Hy het dit met kaviaar vergelyk en gesê die meeste gewone Suid-Afrikaners weet nie hoe om kaviaar voor te berei nie omdat hulle dit nooit gebruik nie.

“Ons wil nie met rooivleis hierdie pad loop nie, derhalwe is dit nodig dat ons as produsente en ander rolspelers in die waardeketting hande moet vat en ’n uitnemende bemarkingsplan op die tafel moet sit om rooivleis, veral skaapvleis, weer deel van ons kulturele erfenis te maak. Die RPO sal ’n leidende rol in hierdie projek moet speel om dit volhoubaar te maak.” Saunderson het die RPO Noord-Kaap as die een RPO in die land uitgewys wat reeds met planne vir beter bemarking van rooivleis begin het en hulle is reeds in die uitvoerbaarheidstadium van hierdie planne.

Die bestuur van die RPO Noord-Kaap het vanjaar reeds ingespring om ’n “Wys jou Vleis”-fees aan te bied. Die fees het verskeie projekte soos die Lamb Champs-kompetisie ingesluit, asook ’n Jong Kok-kompetisie waar skoolleerlinge hul slag met rooivleis moes wys. Saunderson sê met hierdie Jong Kok-kompetisie het die deelnemers snitte gekry wat volgens die slaghuis stadige verkopers is. “Ons het vir die feesgangers bewys dat daardie stadige verkopers en uiteraard die goedkoper dele van die skaap, heerlik voorberei kan word en bekostigbaar kan wees vir almal.

Volgens hom sal ’n bemarkingsplan nie net van die RPO moet kom nie. RPO Noord-Kaap wil dit verder neem en ook met die Nasionale RPO konsulteer, en sodoende poog om alle rolspelers in die waardeketting se insette in ag te neem. Die persepsie dat skaapvleis onbekostigbaar is, is omdat verbruikers nie ingelig is nie en nie weet wat om vir die slagter te vra nie. Hy sê al die rolspelers moet hande vat, en saam die waarde en lekkerte van rooivleis bemark.

Veediefstal bespreek

Talle Noord-Kaapse produsente voel dit is nie die moeite werd om veediefstalsake by die polisie aan te meld nie, want daar gebeur niks verder nie. Joe Scholtz, voorsitter van die landelike veiligheid en veediefstal-komitee by Agri Noord-Kaap, ondervoorsitter van nasionale veiligheid by Agri SA, en ondervoorsitter van die nasionale veediefstal-eenheid by die RPO, het by die geleentheid gesê veediefstal – veral op die hoofroetes – neem toe en dat sindikate al hoe meer na vore kom om op groot skaal te steel.

Die probleem wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) op die platteland het, is dat daar nie genoeg polisiemanne is om al die sake te hanteer nie en by sommige polisiestasies is die mannekrag so min dat stasies in die nag moet sluit omdat daar niemand is om dit te beman nie.

Frederik van Zyl, ’n boer van Hartswater en ook die nuutverkose visevoorsitter van die RPO Noord-Kaap, sê hulle het ’n vergadering met die LUR vir Landbou in die Noord-Kaap gehou en hoewel daar nog te veel gevalle van veediefstal is, het die getalle begin daal. Hy het ook aan die beskikbare polisiemanne en rooivleisprodusente erkenning gegee vir die goeie werk wat hulle verrig.

Hy het verder genoem dat die howe ’n probleem het om sake afgehandel te kry. Dit is ’n rede waarom dit lyk asof veediefstalle nie opgelos word nie. Maar hierdie probleem word glo ook op hoë vlak hanteer.

SKA-teleskoop steeds ’n kopseer

Nog ’n probleem wat tydens die kongres na vore gekom het, is die jare lange stryd met die Square Kilometre Array (SKA)-projek in die Carnarvon-distrik. Sybrand Venter, ’n boer van Carnarvon het aan Veeplaas vertel dat kommunikasie en predasiebeheer van die grootste probleme is, en wat herhaaldelik genoem word maar die produsente se klagtes val oënskynlik op dowe ore.  

’n Gebrek aan selfoonseine is vir die boere ’n probleem, nie net om besigheid te doen nie, maar ook vir veiligheid. Venter sê hierdie probleem word telkemale op vergaderings geopper en daar was al selfs sprake om Starlink-kommunikasie te kry, maar SKA-beamptes druk dit glo elke keer dood.

Wat die produsente ook bekommer is wetgewing wat deurgedruk is sonder dat die landbouers in kennis gestel is. Hierdie wette is al in 2007 deurgevoer. Die landbou het eers tien jaar later daarvan gehoor.  Sybrand sê die probleem is dat die regering te eniger tyd plase kan onteien ter wille van die SKA-projek. Dit bekommer die produsente.

Omdat roofdierbeheer ’n al groter wordende probleem in die gebied word, het SKA ’n paar jaar gelede belowe om ’n heining om die SKA-gebied op te rig ten einde predatore binne die gebied te hou. Sybrand sê hierdie projek het darem al van die grond gekom. SKA voorsien die materiaal en die boere moet self die heining opsit. SKA het glo ook reeds gesorg dat die waters vir die predatore herstel word om te keer dat hulle na die naburige plase agter water aanloop.

Sprekers by die geleentheid

Die RPO Noord-Kaap het vanjaar weer ’n uitstekende kongres aangebied. Sprekers soos Dewald Olivier, uitvoerende hoof van die Rooivleisbedryfsdienste (RMIS), het oor die organisasie se projekte gesels en veral hul naspeurbaarheidsprojek. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz het oor die Suid-Afrikaanse landbou binne ’n veranderde handelsisteem gesels.

Kobus Bester, ’n direkteur van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) en rasdirekteur van Simbra Suider Afrika, het boere daarop gewys dat hulle beskerm nodig het – nie net teen geweldsmisdadigers nie, maar op talle ander gebiede. Hy het ook gesê dat hulle vir hulself ’n organisasie moet skep wat hierdie taak kan verrig.

Frik van Rooyen, eerste visevoorsitter van die Nasionale RPO, het op sy beurt gesels oor wat die RPO vir boere doen, maar ook wat boere vir die organisasie kan doen. – Koos du Pisanie, Plaas Media

LandbouRadio: 6 April 2026

In Maandag, 6 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met onkruidkenner, prof Charlie Reinhardt,...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR)...

LandbouRadio: 3 April 2026

In Vrydag, 3 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met 'n plaasvars landbounuusbulletin. ⁠Tydens die...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the...

Government and ARC gives update on FMD vaccine numbers

Estimated reading time: 3 minutes The Agricultural Research Council (ARC) confirmed on 1 April that it has released another 20 000...

26th AFSTA Congress: Empowering Africa’s future, one seed at a time

Estimated reading time: 6 minutes Seeds are not just agricultural inputs; they embody our future, the promise of a resilient...

Keep exploring...

Landboumarkte: April 2025 ’n goeie maand vir rooivleispryse

Estimated reading time: 2 minutes In die maand verslag vir April 2025 sien ons dat die rand aan die begin van die maand verswak het,...

Landboumarkte: Mei 2025 Die styging in skaapvleispryse begin taan

Estimated reading time: 3 minutes Gedurende Mei 2025 het ons gesien hoe die rand stelselmatig teenoor die Amerikaanse dollar versterk het en die maand afsluit...