Saturday, December 13, 2025

Stormberg Dohne’s: Gemiddeld is nie goed genoeg nie

Estimated reading time: 7 minutes

  • Die Blignauts se storie het in 2006 op die stukkie soetveldaarde begin, nadat Chris se pa, Pieter Koekemoer, die plaas gekoop het.
  • Vandag bestaan die boerdery uit ’n kruisbeesvertakking, die Dohne Merino-vertakking, ’n vliegduifboerdery en verskeie lande met spilpunte.
  • Veeseleksie is ’n belangrike ekonomiese faktor op die plaas.
  • Intussen is 36 ekstra damme op die plaas gebou om voorsiening te maak vir watertekorte tydens droogtes.
  • Hulle maak gebruik van sonkrag.

Op Lushof duskant Burgersdorp word nie net met skape, beeste en vliegduiwe geboer nie, maar ook met genetika. Die Blignauts se storie het in 2006 op die stukkie soetveldaarde begin, nadat Chris se pa, Pieter Koekemoer, die plaas gekoop het. Hulle het Gauteng vir die Stormberge verruil waar hulle aanvanklik met SA Vleismerino’s geboer het en mettertyd na Dohne Merino’s oorgeskakel het.

Vandag bestaan die boerdery uit ’n kruisbeesvertakking wat op speenkalfproduksie en afronding fokus, die Dohne Merino-vertakking waar genetika-verbetering die botoon voer, ’n vliegduifboerdery en verskeie lande met spilpunte.

Chris se vliegduiwe bied nie net afleiding van die alledaagse nie, maar ook ’n goeie inkomste.

“Die belangrikste faset van ’n boerdery is dat ’n mens lief moet wees vir jou diere,” sê Chris tydens Veeplaas se besoek aan die plaas. “As jy byvoorbeeld met stoetramme boer, moet jy eerstens ’n liefde vir jou ramme hê voordat jy aan die geldmaak-aspek daarvan dink. Wanneer ek my ramme op ’n veiling sit, gaan dit vir my oor die tentoonstelling van my diere wat ook my karakter as produsent weerspieël.”

Seleksie vir gehalte

Veeseleksie is ’n belangrike ekonomiese faktor op die plaas. Daarom boer hulle nie met ‘passasiers’ wat nie hul deel op die plaas doen nie. “Jy kan tien teen een meer geld maak met 100 topooie as met 200 gemiddelde diere. Ek glo die term ‘waardetoevoeging’ gaan iets word waarsonder produsente nie langer kan boer nie. Die dae van vee verkoop aan agente en tevrede wees met die pryse wat ons kry, sal ook iewers tot ’n einde moet kom.”

Volgens Chris is deursigtigheid en genetika van die belangrikste maatstawwe wat die Dohne Merino-ras gesog onder Suid-Afrikaanse skaapprodusente maak. “Die Dohne Merino se genetika is sedert die vroeë 1980’s op dieselfde BLUP-stelsel geskoei as die melkwaardestelsel, waar verskillende meriete in ag geneem word. Die kans is dus baie goed dat ’n Dohne Merino-ram met goeie algemene meriete, goed sal teel.

“Ons oorweeg eienskappe soos die dogters wat goed teel en gekorreleer word aan die pa. Daar is regtig baie data beskikbaar vir kommersiële produsente om ’n ram te koop wat by hul omstandighede sal inpas. Byvoorbeeld, as jou skape se wol te sterk is en jy wil dit fyner hê, kan jy vir jou ’n ram uitkies wat oor die eienskappe beskik.”

Bly by en bly voor

Chris glo ’n mens moet bybly met jou vee en teling. In hierdie opsig is tegnologie ’n groot hulpmiddel. “Ons het ongeveer vier jaar terug radiofrekwensie-identifikasie (RFID)-tegnologie aanvaar om elke dier op die plaas op ’n databasis te registreer. Die administratiewe aspek daarvan is deel van die lekkerte van ’n boerdery. Dit is lekker om daarmee te werk. Genomika is bitter interessant en ek glo dit gaan nog baie nuwe data in die nabye toekoms ontbloot.”

Hulle maak ook gebruik van BKB se DSS-stelsel op hul beeste en op die kommersiële en stoetooie. “Hierdie ontledings en data maak dit vir my moontlik om presies te sien watter ooie by watter ram se genetiese profiel sal pas. Die data wat ons uit die stelsel kry, stel my byvoorbeeld in staat om te sien watter diere onder genetiese druk kan presteer.”

Die Stormberg Dohne Merino-stoet het vanjaar vir die eerste keer aan die nasionale veiling deelgeneem en onder andere ‘n ram met goeie balans aan Twee Neefs verkoop. Voor, van links, is Steyn Steenekamp van Twee Neefs, koper, Klara Blignaut, Miah Koekemoer en CJ Blignaut. Agter, van links, is Gawie Van Zyl van Twee Neefs, koper, Eliah Grobler, SP Grobler, Greyling Grobler, Lizanne Grobler, Chris, Jessica en Elsje Blignaut, en Pieter en Jarika Koekemoer.

Oor hul Dohne Merino-stoet wat twee jaar gelede geregistreer is, sê Chris dat hulle nie ramprodusente is nie en ook nie ’n produksieveiling hou waar hulle getalle jaag om ’n ramveiling aan te bied nie. “Ons is ooiprodusente en wil op ons plaas die beste ooie teel wat onder ons natuurlike toestande en bestuurstelsel die beste resultate lewer. Danksy tegnologie kon ek in die laaste paar jaar my jaargewigte en 100-dae speengewigte heelwat verbeter. Ek kon weereens my top 20% ooie uithaal en hulle by die beste ram wat ek kon kry, sit.

Ooie is geldmakers

“Die ooie is vir ons belangriker as die ramme omdat hulle die geldmakers op die plaas is. Ons doen vol DSS op ons kommersiële en stoetooie. Dit beteken dat, wanneer ons van die kommersiële ooie as fondasie-ooie by die stoet intrek, ons reeds data vir elke ooi het – wanneer sy byvoorbeeld gebore is, wie haar pa en ma is, en haar wolontleding. Dit help my om ’n ingeligte besluit te neem daaroor of ’n kommersiële ooi by die stoet hoort of nie.”

Wanneer ’n mens met ’n stoet begin, moet jy jou skape vir baie aspekte laat toets, soos wol se veseldikte, speenpersentasie, ensovoorts. Chris sê hierdie tipe data stel ’n produsent in staat om sy plaas ekonomies te benut. “Danksy tegnologie en SA Stamboek se insette, dink ek dit is makliker om vandag met ’n stoet te begin as jare gelede. Die administratiewe sy van ’n stoet word vandag heeltemal anders benader as toe dit met die hand geskryf is.

“ ‘n Stoet se insetkoste is ook nie so buitensporig hoog nie. ’n Mens kan byvoorbeeld begin deur ou stoetooie wat vir nog drie of vier seisoene lammers kan lewer, by ’n stoetboer te koop. Daar is kommersiële produsente wat verskeie jare al AA-ramme gebruik en kommersiële ooikuddes tot F2- en F3-kuddes opbou.

“Dit is natuurlik baie belangrik om bogemiddelde ramme wat gewoonlik AA-ramme is, te gebruik wat ’n kommersiële ooi se lam in sommige gevalle dadelik tot ’n F3 kan laat klim. Jy moet jou diere baie streng klas. Dit neem alles tyd – geen stoet kom oornag op die been nie. En selfs al koop jy goeie gehalte ooie, moet hulle steeds eers op jou plaas aanpas voordat jy met hulle kan begin teel.”

Die boerdery bestaan uit verskeie vertakkings en die skaapkomponent is die kleinste daarvan, maar ook die interessantste.

Gewasse vir waardetoevoeging

Intussen is 36 ekstra damme op die plaas gebou om voorsiening te maak vir watertekorte tydens droogtes. “Ons beplan om vorentoe gewasse te plant wat genomies met min water kan presteer. Ons het verlede jaar besproeiing opgesit en toets nou verskillende gewasse op die lande. Korog het verlede jaar baie goed by ons gewerk en ons het dus vanjaar weer daarvan geplant.

“Ons het al hawer geplant, en wil ook lusern vir eie gebruik op die plaas plant. Daar bestaan ’n moontlikheid dat ons oor ’n paar jaar ’n abattoir op die plaas gaan bou om C-graad beeste vir die informele mark in Johannesburg te slag. Ons sal dan moontlik ook C-graad beeste inkoop wat ons op die lusern sal laat wei voordat ons hulle verkoop.”

“Ons pas die ooie met meerlinge goed op met groenvoer, terwyl die ooie met eenlinge die mas daarsonder moet opkom,” sê Chris. “Ons probeer om sover as moontlik ekstensief te boer en kostes laag te hou, en wanneer daar ’n behoefte is, kry die ooie gedurende sekere tye van hul siklus die nodige aandag.”

Op ’n laaste, maar belangrike noot, maak hulle gebruik van sonkrag met die vooruitsig om die spilpunte van die nasionale kragnetwerk af te haal. – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Chris Blignaut by 079 734 6819 of chris@orecarriers.co.za.

Must read

BEK-oorwinning laat Wes-Kaap juig

Estimated reading time: 3 minutes Wes-Kaap kan BEK-beeste begin slag Agri Wes-Kaap (AWK) en die Rooivleisprodusente-organisasie Wes-Kaap (RPOWK) bevestig dat daar geen verdere uitbreking van bek-en-klouseer...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 49 of 2025

The weekly pork carcass prices are brought to you by the South African Pork Producer's Organisation (SAPPO). Click here for this week's report. How are these...

A united Limpopo fights back against FMD

Estimated reading time: 3 minutes With four confirmed cases of foot-and-mouth disease (FMD), South Africa’s northernmost province is no longer FMD free after maintaining a...

LandbouRadio: 12 Desember 2025

In Vrydag, 12 Desember se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Kraakvars landbounuus. Izak Hofmeyr gesels met Piet Roets oor die Swinburne-boerevereniging se interessante geskiedenis. In...

Swinburne Boerevereniging: Die hartklop van ’n gemeenskap sedert 1918

Estimated reading time: 4 minutes Die meeste reisigers op die N3 roete tussen Gauteng en Kwazulu-Natal is bewus van die reuse Montrose vulstasie sowat 12km...