In ‘n reeks artikels wat deur die loop van 2016 in Veeplaas gepubliseer is, skryf Hans-Jurie Moolman van Moolman & Pienaar Ingelyf oor ‘n verskeidenhied regskwessies wat vir die landbouers van belang is. AgriOrbit deel dié reeks artikels in komende weke. Die volgende artikel is in die Mei 2016-uitgawe van Veeplaas gepubliseer

“In verskeie vorige artikels is verwys na die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997), oftewel die Esta-wet, wat hoofsaaklik die regsposisie en verhouding tussen grondeienaars en plaasbewoners reguleer.

Soms ontstaan omstandighede rakende verblyf op plase egter waar die regsposisie nie deur die blote deurlees van die betrokke wet opgelos kan word nie.

’n Probleem het die afgelope aantal jare op plase ontstaan, veral met die verstedeliking van duisende mense uit die platteland, waar werknemers op plase, wat op grond van hul diensooreenkoms toestemming gekry het om op ’n plaas te woon of ’n werkershuis te betrek, uit daardie diens ontslaan word of vrywillig bedank, maar op die plaas aanbly en te weier om die huis te ontruim.

In sulke gevalle sal die werker byvoorbeeld dikwels ’n betrekking elders aanvaar en dan nader aan die nuwe betrekking ’n woonplek kry, maar van sy persoonlike besittings in sy gewese werkershuis agterlaat om daardeur ’n teenwoordigheid op sy voormalige werkgewer se eiendom te probeer handhaaf.

Voortgesette gebruik van werkershuis

Hierdie toedrag van sake het vir talle grondeienaars probleme besorg, omdat dit die eienaar van die gebruik van die werkershuis ontneem en omdat dit dikwels, met verwysing na die algemene probleem van werkloosheid in Suid-Afrika, baie moeilik maak vir die werkgewer om sonder beskikbare huisvesting op die grond, nuwe werknemers in diens te neem.

Bogenoemde omstandighede is egter in ’n uitspraak van die Grondeisehof van Suid-Afrika en die Appèlhof in Bloemfontein oorweeg, en daar is met verwysing na die Esta-wet insiggewende uitklaring in hierdie verband gegee.

Die howe het indringend gekyk na die definisie van ’n okkupeerder in die Esta-wet, wat kortliks daarop neerkom dat iemand kwalifiseer vir beskerming as ’n okkupeerder ingevolge die Esta-wet indien hy met toestemming van die eienaar of persoon in beheer van die grond, of op die grondslag van ’n ander regsgeldige reg, op die plaas woon.

Regsbetekenis van sekere woorde

Die woordjie “woon” en die Engelse vertaling daarvan as “reside” het die sleutel geword vir die oplossing van hierdie kwessie. Bogenoemde howe het, met verwysing na baie ouer hofbeslissings deur die Suid-Afrikaanse howe, ondersoek ingestel na die regsbetekenis van die woorde “woon” of “reside”.

Na aanleiding van die hof se ondersoek en met verwysing na vorige hofbeslissings, is die gevolgtrekking dat “woon” of “reside” beteken dat daar ’n mate van permanensie moet wees ten opsigte van die plek waar iemand woon. Dit is die plek waar ’n mens woon, en wat hy byvoorbeeld daagliks verlaat om werk toe te gaan en waarheen hy terugkeer ná ’n dag se werk. Die howe het ook beslis dat dit nie iemand se naweekhuisie is waarheen sporadies teruggekeer word nie.

Uit hoofde van die hof se uitleg van die woord “woon” of “reside” binne die konteks van bogenoemde beskrywing van ’n okkupeerder in die Esta-wet, het die hof tot die gevolgtrekking gekom dat ’n persoon nie ’n okkupeerder is as hy nie op die plaas woon binne bogenoemde omskrywing van “woon” of “reside” nie.

Verblyfreg en beskerming

Die hofuitspraak beteken dat ’n voormalige okkupeerder of plaasbewoner nie sy verblyfreg en beskerming kragtens die Esta-wet behou indien hy elders gaan woon, terwyl hy sy goedere op sy werkgewer se grond los nie.

In praktyk beteken dit dat die grondeienaar in sulke omstandighede, om besit van die werkershuis te herwin, nie nodig sou hê om die omvangryke, omslagtige en duur proses, soos voorgeskryf deur die Esta-wet, te volg indien ’n voormalige werker elders woon maar weier om sy goedere uit die werkershuis te verwyder nie.

Dit is egter belangrik om te besef dat bogenoemde toedrag van sake nie van toepassing is indien ’n voormalige werknemer en sy besittings ná diensbeëindiging, vir watter rede ook al, voltyds op die grond sou aanbly nie.

Die betrokke wetgewing is ingestel om vir beide grondeienaars en plaasbewoners ’n omgewing te skep om geskille vreedsaam of deur die howe as die enigste alternatief op te los.” – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf, Veeplaas Mei 2016

Kyk hier na ‘n gesprek oor dié kwessie op Grootplaas.

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.

Vorige artikels in die reeks:

Sonde met die grensheining

Oorbeweiding deur plaasbewoners se vee

Sien geleentheid in die dilemma van grondhervorming

Regsverteenwoordiging by verblyfdispute

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY