HomeMagazinesAftrekkings as ’n sanksie of skadeverhaling

Aftrekkings as ’n sanksie of skadeverhaling

Estimated reading time: 4 minutes

  • Daar is verskeie aftrekkings wat gemaak kan word wat wissel van statutêre aftrekkings, addisionele aftrekkings spesifiek tot die landbousektor  en addisionele aftrekkings in die algemeen.
  • Artikel 34 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997 (Wet 75 van 1997), bepaal dat aftrekkings van ’n werknemer se vergoeding alleenlik toegelaat word indien die werknemer tot die aftrekking toestem, of indien die aftrekking deur ’n kollektiewe ooreenkoms, ’n statutêre bepaling , ’n hofbevel of ’n arbitrasietoekenning gemagtig is.
  • ’n Boete is gewoonlik ’n sanksie wat deur die staat opgelê word, meestal in ’n strafregtelike opsig nadat ’n beskuldigde deur ’n hof skuldig bevind is aan die oortreding waarvoor die boete toegepas word.
  • ’n Baie belangrike riglyn is dat sanksies vir wangedrag voorgeskryf word in die werkgewer se dissiplinêre kode.
  • ’n Werknemer kan die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) nader deur ’n onbillike arbeidspraktyk-dispuut te verklaar.

Gevallestudie:

Die werknemer het ’n pap band op die werkgewer se peperduur trekker veroorsaak. In plaas daarvan om die trekker tot stilstand te bring, besluit hy om die laaste vyf kilometer aan te durf. Dis immers huistoegaantyd en die naweek lê voor. Saterdagoggend merk die werkgewer die skade aan die trekker se velling op en stel ondersoek in. Verskeie getuies kom ook na vore wat bevestig dat byna vyf kilometer ver gery is met die pap band. Kan die werkgewer hierdie skade van die werknemer verhaal?

Die ooreenkoms tussen die werkgewer en werknemer kom daarop neer dat die werknemer tyd en vermoëns aanbied om ’n diens aan die werkgewer te lewer, en in ruil daarvoor vergoeding ontvang. Aftrekkings van ’n werknemer se vergoeding word streng deur arbeidswetgewing gereguleer en werkgewers moet versigtig wees om nie geld af te trek sonder om die korrekte prosedure te volg nie.

Lees meer oor goed om in gedagte te hou wanneer dit die einde van die jaar is hier.

Daar is verskeie aftrekkings wat gemaak kan word wat wissel van statutêre aftrekkings (werkloosheidsversekering, inkomstebelasting, ’n hofbevel of arbitrasiebevel), addisionele aftrekkings spesifiek tot die landbousektor (behuising, water, hout, dienste en rantsoene) en addisionele aftrekkings in die algemeen (verlies van of skade aan eiendom, lenings, voorsorg- of pensioenfonds, ledegeld van ’n vakbond, ensovoorts).

Artikel 34 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997 (Wet 75 van 1997) of die WBDV, bepaal dat aftrekkings van ’n werknemer se vergoeding alleenlik toegelaat word indien die werknemer tot die aftrekking toestem, of indien die aftrekking deur ’n kollektiewe ooreenkoms, ’n statutêre bepaling (wetlik voorgeskrewe aftrekking), ’n hofbevel of ’n arbitrasietoekenning gemagtig is.

Onderhewig daaraan dat die regte proses gevolg word, is die werkgewer gemagtig om aftrekkings van die werknemer se vergoeding te maak om skade aan die werkgewer se eiendom te verhaal.

Aftrekkings as ’n sanksie – ’n boete?

’n Boete is gewoonlik ’n sanksie wat deur die staat opgelê word, meestal in ’n strafregtelike opsig nadat ’n beskuldigde deur ’n hof skuldig bevind is aan die oortreding waarvoor die boete toegepas word. In streng kontras hiermee, is ’n dienskontrak ’n siviele ooreenkoms tussen die werkgewer en werknemer en moet die implementering van sanksies na aanleiding van ’n misdryf in die werkplek as sulks hanteer word. 

’n Baie belangrike riglyn is dat sanksies vir wangedrag voorgeskryf word in die werkgewer se dissiplinêre kode, en derhalwe moet die werkgewer daarvolgens optree. Oor die algemeen is die toepaslike sanksie vir ’n oortreding ‘n vorm van ’n waarskuwing, of in baie ernstige gevalle ontslag (nadat ’n dissiplinêre verhoor gehou is).

Lees meer oor hoe om grappies wat in die werksplek skeefgeloop het, te hanteer hier.

Aftrekkings vir skadeverhaling

Onderhewig daaraan dat die regte proses gevolg word, is die werkgewer gemagtig om aftrekkings van die werknemer se vergoeding te maak om skade aan die werkgewer se eiendom te verhaal. Die WBDV stel die volgende vereistes voordat die werkgewer so ’n aftrekking kan maak:

  • Die werknemer moet skriftelik toestem tot die aftrekking en die bedrag moet gespesifiseer word.
  • Die verlies of skade moes in die loop van diens plaasgevind het, en as gevolg van die werknemer se opset of nalatigheid.
  • Die werkgewer het ’n billike prosedure gevolg en die werknemer ’n redelike geleentheid gebied om sy/haar saak te stel, onder andere waarom die aftrekking nie gemaak moet word nie.
  • Die werkgewer mag slegs ’n maksimum van 25% van die werknemer se vergoeding op ’n slag aftrek.
  • Die totale bedrag wat die werkgewer aftrek, mag nie die bedrag van die werklike verlies of skade wat die werkgewer gely het, oorskry nie.

Lees meer oor hoe om ‘n afdanking korrek te hanteer hier.

Die fout wat verskeie werkgewers maak, is om bloot ’n werknemer in te lig dat hulle die skade gaan verhaal sonder om eers die regte proses te volg. Nog ’n fout is om meer as 25% van die werknemer se vergoeding op een slag af te trek, hetsy met of sonder toestemming.

Die gevolg is dan dat ’n werknemer die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) kan nader deur ’n onbillike arbeidspraktyk-dispuut te verklaar. Indien die KVBA in die guns van die werknemer bevind, kan ’n werkgewer verplig word om die afgetrekte geld aan die werknemer terug te betaal. – Hannes Latsky, LWO Werkgewersorganisasie

Must Read

RSG Landbou: 24 Julie 2024 – geborg deur AECI Plant Health

Die rol en waarde van die heuningby was die fokus van ‘n opvoedkundige dag wat onlangs op die Vergelegen Wynlandgoed by Somerset-Wes aangebied is....