Beurtkrag druk besproeiingsboere se kele toe

313

Estimated reading time: 5 minutes

Met die instelling van die destydse Covid-19-maatreëls, het die regering van die dag baie vinnig besef daar moet ingegryp word om die volk van voedsel te voorsien. Die huidige beurtkragkrisis van Eskom is ’n soortgelyke geval, maar nou kry die boere ’n dowe oor.

Die volgende vier tot ses weke is kritieke tye vir die besproeiingsboere om mielies te produseer, en met die beurtkragkrisis kan hulle nie voor bly om water uit die Oranjerivier te pomp nie. Mielies uit die besproeiingsgebiede word beskou as die vaste produksie omdat dit ’n versekerde tonnemaat is wat sal inkom, maar as die land se besproeiingsmielies ’n misoes moet wees beteken dit dat tussen 2 miljoen en 2,5 miljoen ton mielies uit die waardeketting gehaal gaan word.

Lees meer oor die monitor van die Vaal-Oranjerivierstelsel hier.

Die gevolg van beurtkrag op mielieoes

Corné Louw, senior ekonoom van Graan SA, sê daar is verlede jaar sowat 15 miljoen ton mielies in Suid-Afrika ge-oes. ’n Verlies van 2,5 miljoen ton kan ’n enorme invloed op die bekostigbaarheid van baie produkte hê omdat mielies ’n groot invloed in baie ander bedrywe soos hoenderboerdery en voerkrale ook het, en dit gaan voedselpryse nog méér die hoogte in stoot.

Een van die besproeiingsboere in die Prieska-omgewing, Kurt Loots, sê met die beurtkrag word boere dikwels verplig om in die piektye van kragverbruik water te pomp. Hy sê die besproeiingsboere se versoek is dat hulle nie verhoogde koste aangeslaan word nie, omdat hulle nie anders kan as om in die piektye water te pomp nie.

Hy vertel dat boere sedert 2008 sowat 400% meer betaal vir elektrisiteit van Eskom, maar daar is 35% minder elektrisiteit beskikbaar.

Vergadering met minister van landbou

Agri SA, die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), Agbiz en ander rolspelers het Vrydag 13 Januarie met die minister van landbou, Thoko Didiza, ’n kritieke vergadering gehou. Sowat 170 rolspelers het aan die vergadering deelgeneem.

Na afloop van die vergadering het Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, die Noord-Kaapse boere oor die stand van sake ingelig. Hy is bekommerd oor die verliese wat besproeiingsboere in die gesig staar. Hy sê in gebiede soos Colesberg tot Onseepkans, Hartswater en Douglas (in ag genome die hittegolf wat óók die afgelope week heers) is dit onmoontlik om in die behoefte van die gewasse te voorsien.

Agri SA het vroeg in Desember die rooi ligte gesien aankom en met minister Didiza ’n vergadering probeer hou om die landbou weer as ’n noodsaaklike bedryf geklassifiseer te kry, of ten minste om boere te help om elektrisiteit teen ’n beter tarief te bekom ten einde kop bo water te hou en seker te maak daar is voedselsekerheid en -beskikbaarheid.

Dit is egter nie net die boere in die Noord-Kaap wie probleme ervaar nie. KwaZulu-Natal se tabak is besig om te verdroog, vrugte-, groente- en uitvoerdruiwe-produsente is in die moeilikheid, en sagtevrugte kan nie die koueketting volhou om die Europese markte te haal nie. Hawens en Transnet het ’n pleidooi gelewer dat uitvoer van landbouprodukte nie verder ontwrig word nie.

Hoenderprodusente en -aanlegte het aangedui dat hulle nie in die slagkapasiteit kan voorsien nie. Dieselfde geld vir voerkrale en rooivleisslaghuise. Meulenaars het aangedui hulle kry nie die meel gemaal nie. Dit is maar net ’n paar van die gevalle wat op die end voedselpryse opjaag, wat Suid-Afrika nie kan bekostig nie. Die hele landbousektor is in die moeilikheid en voedselsekerheid is híér op ’n mespunt.

Prakties uitvoerbare oplossings

Jansen sê die voorstelle en pleidooie wat tydens die vergadering gemaak is, was prakties en uitvoerbaar. Dit het ingesluit:

  • Prioritiseer landbou, want voedseltekorte destabiliseer die land.
  • Die verskillende sektore moet almal hul behoeftes op die tafel sit. Landbou het ’n laer behoefte aan energie in Mei, Junie en Julie in die besproeiingsgebiede en mynbou kan dan meer energie gebruik, maar as dit weer kritiek raak in die landbougebied moet hulle eerste prioriteit kry.
  • Energiebehoeftes moet per streek bepaal word en beurtkragskedules moet daarvolgens bepaal word.
  • Ruraflex-kliënte het oor die jare heen vir Eskom gehelp deur nie in die piektye krag te gebruik nie, maar nou word hulle geen keuse gelaat nie. Besproeiingsboere vra krag in die nag om hul besproeiing effektiwiteit te maksimaliseer.
  • Besproeiingsboere kan nie die winter ingaan en forseer word om in piektye water te pomp nie. Dit is onbekostigbaar. Ruraflex moet in die winterpiektyd tot R4 per eenheid meer betaal en dit sal talle boere tot op hul knieë bring.
  •  Daar is heelwat boere wat reeds begin het om kleinskaalse sonplase op te rig en die rompslomp rondom dit om oortollige elektrisiteit in die netwerk van Eskom te plaas, moet ook gestaak word. Dit is reeds ’n oplossing vir Eskom. Net in die Prieska-gebied is privaat hernubare kragopwekkingseenhede wat tot 240 megawatt energie per dag kan opwek en tot die Eskom-netwerk kan bydra .
  • Agri SA het ook ’n brandstofkorting aangevra vir diesel wat vir kragopwekkers gebruik word. Sommige boere betaal R300 000 per maand en meer om kragopwekkers te laat loop.

Lees meer oor die stygende energiekostes hier.

Die minister het uit die versoeke van die rolspelers ’n taakspan aangewys om die saak te ondersoek en hulle moet binne twee weke terugvoer gee. Daar is dus geen kitsoplossing nie.

Die boere in die Noord-Kaap-besproeiingsgebied, wat Upington, Douglas, Prieska, en Hopetown insluit – voel daar moet iets gedoen word om die regering van die dag te laat besef wat besig is om uit te speel. Om die publiek bewus te maak van die krisis, is daar in verskeie dorpe optogte deur die besproeiingsboere en ander lede van die gemeenskap, gehou. Etlike honderde boere in die Noord-Kaap gaan saamtrek om aan die projek deel te neem. – Koos du Pisanie, AgriOrbit