HomeAgri NewsWaterwese monitor steeds Vaal- en Oranjerivier-stelsel vir vloede

Waterwese monitor steeds Vaal- en Oranjerivier-stelsel vir vloede

-

Estimated reading time: 3 minutes

“Hoewel die Departement van Waterwese en Sanitasie (DWS) nie vandeesweek enige vloede in die Vaal- Oranjerivier-stelsel verwag nie, kan die situasie moontlik volgende week verander.” So sê die DWS se woordvoerder, Wisane Mavasa.

“Op grond van die heersende klimaat en reënomstandighede, sowel as riviervlakke, verwag die departement op die oomblik geen vloede nie. Die prentjie sal waarskynlik volgende week anders lyk omdat weerstoestande vinnig verander.”

Mavasa sê die DWS hou veral die damvlakke en riviervloeivolumes vanaf die Bloemhofdam dop, omdat die departement graag vloede by Douglas in die Noord-Kaap (waar die Vaal- en Oranjerivier saamvloei) sover moontlik wil vermy. “Ongelukkig is dit nie altyd moontlik om vloede te keer nie, ongeag hoe fyn dit dopgehou word.”

Onafhanklike weerkundige, Johan van den Berg, beaam die DWS se sentiment. Hy voorspel dat vandeesweek se laer reënvalvlakke in somerreënvalstreke (in vergelyking met die vorige week) net tydelik van aard sal wees. “Meer reën sal waarskynlik vanaf Sondag 15 Januarie val,” sê Van den Berg.

Lees meer oor die reënomstandighede in die Vrystaat hier.

Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier Landbou-unie (ORLU), sê hoewel daar nie tans rede tot kommer is nie, balanseer die situasie op ’n mespunt.

“Die water wat op die oomblik in die riviere vloei is nie die probleem nie,” sê Fourie. “Die probleem is dat bykans al die damme in hierdie stelsel reeds meer as 100% vol is. ’n Enkele groot reënbui in Mpumalanga, Gauteng, Noordwes, die Vrystaat of die Noord-Kaap sal tot groot probleme vir ons produsente lei.”

Fourie sê die situasie kan ook in ’n oogwink verander. “In 1988 het Bloemhofdam se vlakke byvoorbeeld binne ’n dag van 800m3 tot 4 000m3 gestyg.”

Volgens die DWS se amptelike dam- en vloeistatistiek het 33 van die 38 damme in die Vaal- en Oranjerivierstelsel die teen die einde van die eerste week in Januarie reeds hul 100% kapasiteitskerf oorskry. Die enigste damme wat nie meer as 100% vol was nie, was die Gariepdam (99,5%), Rustfonteindam (99,8%), die Welbedachtdam (93,5%), Disanengdam (71%) en Setumodam (85,7%).

Luister saam na weerkundige, Johan van der Berg, se weeklikse weerverslag hier.

Produsente aangeraai om te waak teen vloede

Mavasa raai produsente en gemeenskappe langs die betrokke rivierstelsel aan om paraat te wees.

“Wanneer die watervlakke verhoog moet waterpompe daarby aangepas word en lewendehawe en toerusting moet van die rivier af weggeskuif word,” sê Mavasa. “Moet ook nie visvang of swem as dit swaar reën nie.”

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê dis die derde agtereenvolgende jaar dat produsente in die Benede-Oranjerivier deur vloede geteister is en dat groot skade reeds aan boerderye aangerig is. “Die tafeldruiwebedryf het ’n bietjie buite seisoen reën gekry oor Desember en dit het hul gehalte negatief beïnvloed.”

Ten spyte van die stewige reëns is Jansen egter bekommerd dat besproeiingsprodusente se landerye steeds te droog kan wees. “As die Noord-Kaap sy normale hittepatroon gaan volg en Eskom fase vier- of ses- beurtkrag in werking bring, dan sal produsente nie hul gewasse betyds kan besproei om teen hitteskade te beskerm nie.” – Susan Marais, AgriOrbit

Must Read

RSG Landbou: 25 September 2023 – geborg deur Plaas Media

Die Noordwes-varkstudiegroep is een van die min oorblywende groepe van sy aard wat steeds aktief is. Die groep vier vanjaar sy 46ste bestaansjaar en...