Estimated reading time: 3 minutes
Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het aangekondig dat ’n tariefverhoging van 18,65% vir die 2023/24-tariefjaar aan Eskom toegestaan is. Hoewel die verhoging laer is as Eskom se aansoek, is 18,65% ondraaglik.
“Dit is ’n drastiese styging van tariewe vir kragvoorsiening wat uiters onbetroubaar is. Verbruikers betaal dus meer vir minder krag,” sê Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap. Die organisasie het tydens die openbare verhoor pertinent beklemtoon dat landbou nie ’n tariefverhoging bó inflasie kan bekostig nie.
“Landboubedrywe se energiebehoeftes bly dieselfde ongeag die elektrisiteitstarief. Produsente word nou genoop om in alternatiewe elektrisiteitsbronne te belê, wat enorme kapitaal verg,” voer Strydom verder aan. Dié tariefverhoging is van toepassing op Eskom se direkte kliënte en sal op 1 April 2023 in werking tree, terwyl die verhoging vir munisipale kliënte eers op 1 Julie 2023 in werking tree.
Munisipaliteite het nou die geleentheid om aansoek vir ’n tariefverhoging te doen en sal waarskynlik ’n toeslag vir hul kliënte byvoeg. “Voedselsekuriteit kan nie alleenlik op die skouers van produsente rus nie. Voedselproduksie is tans onder geweldige druk en besluitnemers sal die erns van die saak moet besef – dringende ingryping is nodig,” sê Strydom.
‘Blatante plundery’
“Die verhogings is hoogs onbekostigbaar en kom op blatante plundery neer,” meen Kempen Nel, besproeiingsboer en voorsitter van Vrystaat Landbou se kommersiële sake-komitee. Munisipaliteite wat Eskom biljoene skuld (R56 biljoen, waarvan die grootste gedeelte vanuit die Vrystaat kom) bly die grootste sondebok, maar is ook toegelaat om hul herverkoopsheffings op Eskom-krag met dieselfde persentasie en meer te lig.
Vrystaat, deur AgriSA as vriend van die hof, is teen Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (SALGA) se hofaansoek dat munisipaliteite die herverkoopsdiensverskaffers moet word in landelike gebiede waar Eskom reeds direk aan boere krag verkoop. Die organisasie het in sy voorleggings aan Nersa lankal gewaarsku dat die drumpelpunt vir oorskakeling na alternatiewe energiebronne bereik is vir landelike huishoudings en boerderye wat nie energie-intensief is nie.
Verder is ’n massiewe bedrag deur landbouers spandeer aan ondersteuningsenergie-oplossings waar daar nie sonder energie gegaan kan word nie, soos veiligheidstoestelle of om melktenke, pakhuiskoelkamers en bewerkte vleis-vrieskaste koel te hou sodat voedsel vars en gesond deur die voedselwaardeketting gehou kan word.
Gedwonge uitgawes weerhou beleggings
Boere bly prysnemers en die toenames in onbeplande gedwonge uitgawes weerhou beleggings in nuwe tegnologie en toerusting om boerderye meer effektief en volhoubaar te maak, asook voedsel meer bekostigbaar.
Eskom se verspreidingsnetwerkkostes het nie noemenswaardig toegeneem nie, maar die toename is ook toegelaat op die vaste koste-komponent van ’n Eskom-rekening waaroor Vrystaat Landbou lankal waarsku. Die vaste koste vir ’n gewone plaashuis se lynfooi is al duurder as die paaiemente vir ’n 5Kva-alternatiewe energie-oplossing. Dus verloor Eskom net meer goeie en betalende kliënte en gaan verder af in die sogenaamde ‘downward utility spiral’.
Die toenemende onbetroubaarheid van Eskom raak veral besproeiingsboerdery op ’n krities maksimum-groeitydperk wanneer daar deur die nag besproei moet word. Sonkrag kan gedurende die dag gebruik word, maar die batterye om alternatiewe energiebronne, of self Eskom se krag te stoor vir wanneer dit benodig word, bly onekonomies en onbekostigbaar.
“Bo en behalwe die belaglike kosteverhoging van krag, is die onbetroubaarheid van kragvoorsiening ’n verdere groot rooi vlag vir voedselsekerheid,” sê Nel. – Persverklaring, Agri Wes-Kaap en Vrystaat Landbou