Sunday, August 14, 2022

Rambestuur en winsgewendheid (Deel 2): Voedingspraktyke

Estimated reading time: 5 minutes

Veeplaas het verlede maand met ’n reeks oor goeie rambestuur afgeskop, om skaapprodusente se winsgewendheid ’n hupstootjie te gee. In hierdie aflewering val die fokus op voeding om ramme te help om genoegsame en goeie gehalte semen te ontwikkel, en betyds paargereed te wees.

Ek het in die vorige uitgawe na ’n belangrike aspek van ramvoorbereiding verwys, naamlik dat die semenproduksiesiklus lank is. Dit is dus ’n goeie praktyk om jou ramme reeds minstens twee tot drie maande vóór die paarseisoen op ’n goeie voedingsvlak te kry.

Dit is belangrik om te onthou dat ’n toepaslike lek ’n skaapprodusent se beste aanslag is om beter semenproduksie te bewerkstellig. Ons raai produsente gewoonlik aan om hul ramme gedurende die tye wanneer die voedingswaarde van veld swakker is, te doseer met spoorelemente asook met vitamien A, wat die gehalte van die ramme se saad kan verhoog.

Dit is ook raadsaam om ’n multi-klostridium-/Pasteurella-entstof toe te dien, voordat die ramme se voeding verander word.

Lees meer oor skaapvleismarkte hier.

Ramkampsindroom

Meer as enige ander oorsaak, kan die sogenaamde ‘ramkampsindroom’ tot onvrugbaarheid en vrektes onder ramme lei. Dié stelling verwys na die feit dat die meeste plase ’n ramkamp het wat gewoonlik uitgetrap is, met gifplante en pionierplante soos ganskweek en duwweltjies wat daarin voorkom.

Hierdie kamp(e) is gewoonlik met wurmparasiete besmet en ook die eerste plek waar vrotpootjie gedurende nat tydperke toeslaan. Soms is dit ook ’n kamp met ou dipgate en ’n ashoop vol arseen, nitrate en ander giftige afvalmateriaal.

Natuurlike proteïne

Ramme word baie makliker met natuurlike proteïne gereedgemaak vir paring, as met ureumproteïene. Die beste opsie hier is peulproteïene. ’n Ramvoer behoort al sy proteïne uit sojaboonsaad-oliekoekmeel, grondbonesaad-oliekoekmeel, sonneblomsaad-oliekoekmeel en lusern te verkry. Goeie gemengde en bossieveld is gewoonlik goed genoeg vir onderhoud, maar dit kan ter voorbereiding van paring wel aangevul word.

Ureum en die pH van urine

Oormatige kragvoer, fosfate en ureum kan ’n ram se paargereedheid en saadgehalte benadeel. Dit is belangrik om kennis daarvan te neem dat ureum giftig is en vrektes kan veroorsaak as diere nie daaraan gewoond is nie.

Dit kan ook maak dat ramme se urine erg alkalies raak, terwyl normale urine suur moet wees. Hierdie alkaliese urine lei gewoonlik tot ongemak, steentjies in die blaas en swak voorbereiding vir dekking. Hou ook in gedagte dat dit nie sal help om ramme ammoniumchloried of ammoniumsulfaat te gee om steentjies te voorkom, terwyl ureum terselfdertyd gevoer word nie.

Vitamien A en E

Hierdie twee vitamiene is bekend vir die voordelige uitwerking wat dit op ’n dier se gesondheid het. Dit speel ook ’n baie groot rol in vrugbaarheid en daarom behoort jou ramme ses weke voor paartyd, en op die dag wat hulle by die ooie gesit word, ’n dosis van hierdie vitamiene te ontvang. Om goeie gesondheid te verseker, behoort alle skape elke twee maande vitamien A te kry, veral wanneer daar nie genoegsame groenvoer beskikbaar is nie.

In die praktyk werk wateroplosbare olieprodukte, wat oraal gedoseer word, die beste. Gewoonlik word een bottel olie met 5ℓ water verdun en dan volgens gewig gedoseer. Wees egter versigtig vir goedkoop produkte – onthou, jy kry waarvoor jy betaal.

Selenium en sink

Hierdie twee spoorelemente het ’n direkte invloed op vrugbaarheid. Selenium se werking is soortgelyk aan vitamien E en het veral ’n invloed op spierontwikkeling, bevrugting, saadproduksie en lamoorlewing. Ons vind dat seleniumtekorte in diere dikwels op die lande kan voorkom, terwyl dit soms ook in diere op die veld kan voorkom.

Sink beïnvloed die vel en oë, en veral spermproduksie. Wat laasgenoemde betref, vind ons dat die konsentrasie van sink in die testes byna 30 keer hoër is as in die res van die liggaam. Ramme verloor oor die algemeen geweldig baie testesmassa tydens paring, en die skrotumomvang kan met soveel as 10cm krimp.

Op plase waar sinkvlakke laag is, vind die grootste daling in skrotumomvang plaas, en dit kan tot ses maande of langer neem om te herstel. Op plase waar normale sinkvlakke voorkom, of waar sink in lekke of per dosering gegee word, sal ramme binne ses tot agt weke herstel. Gewoonlik is die daling in dié ramme se skrotumomvang ook minder dramaties.

Spoorelemente kan deur middel van ’n mondelinge dosering (Embamin TE) aangevul word. Meng een bottel spoorelemente en twee bottels vitamien-olie (A, D en E) met genoeg water om ’n 6ℓ oplossing te vorm (gewoonlik 4,8ℓ). Doseer dan 1 tot 3ml per 10kg.

Blaasstene

Blaassteentjies vorm gewoonlik as gevolg van verhoogde fosfaatinname, en dit gebeur gewoonlik wanneer grane gevoer word, veral as daar ureum in die voer is wat die pH verhoog.

Wat ureum en proteïenryke voere soos lusern en klawers betref, vind ons dat die gebruik daarvan tot ’n verhoogde urine-pH kan lei. Eenvoudig gestel, begin die soute om kristalle in die alkaliese urine te vorm en namate die kristalle groter word, vorm blaassteentjies.

Om die urine aan te suur en die vorming van steentjies in die blaas te verhoed, moet ammoniumchloried saam met enige kragvoer toegedien word. Onthou, ammoniumchloried sal nie doeltreffend wees indien ureum in die lek of dieet teenwoordig is nie.

Lees meer oor Oorlog die Dormerram hier.

Prikkelvoer

Dit neem agt weke vir die produksie van ’n ram se sperme, en om ’n ram doeltreffend te prikkel, moet hy vir langer as ses weke optimaal gevoer word. ’n Gebalanseerde volvoer lewer die beste resultate. Indien ’n mens voerpille wil gee, moet dit eers beproef word voordat dit aan die ramme gegee word, en daar moet terselfdertyd op die ureuminhoud daarvan gelet word.

Alvorens daar met ’n voerprogram begin word, moet gesorg word dat alle belemmerende faktore, soos neuswurms en ander parasiete, uitgeskakel word.

’n Belangrike aspek waarop produsente gesteld moet wees, is dat ramme wat baie voeding benodig om paargereedheid te bereik, selde geneties geskik is vir teling. Soms is die voedingsvlakke van gekoopte ramme só hoog, dat hulle te groot uitgroei om vir hulself te sorg. Ons vind ook dikwels dat ‘skougehalte’ ramme sukkel om pers te word en goeie semen te produseer, terwyl die ramme wat in die veld grootgemaak is, baie goed vaar.

By hierdie laaste punt roep ons vir eers halt. In die volgende uitgawe kyk ons na praktyke wat die algemene gesondheid van ramme en hul dekbehendigheid help verseker. – Dr Johan van Rooyen, Steynsburg-dierehospitaal

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 087 551 2783 ofveearts.sdh@nokwi.co.za.

Versorging van ooie en lammers tydens lamtyd

Estimated reading time: 4 minutes Sorgsame bestuur van pasgebore lammers en hul moeders is...

Caring for ewes and lambs during lambing

Estimated reading time: 4 minutes A strong lamb crop is highly dependent on meticulous...

Streng seleksie sorg vir klipharde Bonsmaras

Estimated reading time: 6 minutes Sowat 100km vanaf Johannesburg, aan die voet van die...

RSG Landbou: 4 Augustus 2022 – geborg deur Hygrotech

Talle plaaseienaars maak dikwels van ‘n maatskappy gebruik om tydelike of seisoenale werkers in...