Estimated reading time: 5 minutes

Oranjerivier Voere in Prieska het in Mei vanjaar ’n insiggewende boeredag aangebied, met kenners uit verskeie oorde wat oor verskillende aspekte van skaapboerdery uitgebrei het.

Een van die sprekers was Niel Powel, afrigter van die Springbok Sewes-span, wat sy wenresep vir dié span met die besoekers gedeel het. Hy sê die beginsels wat hy in die span toepas, geld eweneens op ’n plaas waar ’n boer met ’n span werkers werk. Die belangrikste is dat die werkers en die produsent dieselfde doelwitte moet hê en in dieselfde rigting moet werk.

Volgens hom weet plaaswerkers nie altyd wat die produsent van hulle verwag nie, en daarom is goeie kommunikasie so belangrik. Daar moet ook vertroue en wedersydse respek tussen die bestuur en die span wees. Wanneer die werkers in die produsent se doelwitte ingekoop het, is hulle selfgedrewe en word suksesse so bereik.

Lees meer oor unieke kampstelsels vir skape hier.

Ramkoop en genetika

Nog ’n spreker was Johan Swart van Swellendam, wat vanjaar die SA Stamboek Elite Kleinveekudde van die Jaar-toekenning ontvang het. Hy het met die skaapboere oor genetiese vordering in ’n kudde gesels. Volgens hom is ramkoop nie ’n finansiële besluit nie, maar een wat op genetika gebaseer moet wees.

Hy sê daar is baie eienskappe in ’n ram wat nie met die oog gesien kan word nie en daarom moet ’n ramkoper op ’n veiling nie net na die bouvorm en voorkoms van die ram kyk nie, maar ook na die prestasiesyfers van die ram en dié van sy voorouers.

“Kuddeboere word nie vir bouvorm betaal nie, maar eerder vir ’n goeie uitslagpersentasie. In plaas van bouvorm, moet die koper eerder na eienskappe soos aanpasbaarheid, reproduksie, melkproduksie en netto aanteel kyk, want dít is waar die geld lê.”

Ekonomie en die skaapvleismark

Tydens die boeredag is daar ook na vleisproduksie vanuit die koper se oogpunt gekyk, en ’n span sprekers van Cavalier Foods het verduidelik hoe ’n karkas wat vir die eindverbruiker aanvaarbaar is, moet lyk, asook wat van die produsent verwag word om in pas met die mark te bly. Hulle het verder verduidelik waarom sekere snitte in supermarkte teen hoë pryse verkoop word, terwyl die produsent nie sulke hoë pryse vir sy skape kry nie.

Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en -bemarking by FNB het op sy beurt uitgewys hoe die ekonomie van Suid-Afrika daar uitsien in vergelyking met die internasionale ekonomie, en volgens hom is skaapboere tans in ’n goeie posisie. Ongelukkig kan hulle weer droogtes verwag. Hy het verduidelik wat skaapboere te doen staan om beter vir die volgende droogte voor te berei en terselfdertyd voordeel uit die huidige ekonomiese situasie te trek, deur buite die boks te dink en nuwe planne in plek te kry.

Vir meer inligting, kontak Oranjerivier Voere by 053 353 1979 of besoek www.orv.co.za.