HomeAgri NewsMelk SA se strategiese rol beklemtoon

Melk SA se strategiese rol beklemtoon

Estimated reading time: 3 minutes

Daar is elke dag minder entrepreneurs wat suiwelprodukte aan al hoe meer Suid-Afrikaanse inwoners moet lewer.

Daarom moet die land se suiwelbedryf binne Melk SA verenig bly om die mededingendheid van die bedryf te optimaliseer, het Nico Fouché, uitvoerende hoof van Melk SA, verlede week tydens dié organisasie se algemene jaarvergadering gesê. “Die suiwelbedryf is baie kwesbaar en Melk SA se rol om hande met regeringsdepartemente te vat, word al hoe groter.”

Só lyk die syfers

Tans produseer elke kommersiële melkbees vir ongeveer 107 inwoners in Suid-Afrika melk en elke primêre suiwelprodusent verskaf aan ongeveer 72 730 verbruikers melk.

Wat die sekondêre bedryf betref, moet elke suiwelfabriek produkte aan bykans ’n halfmiljoen (496 100) verbruikers lewer – en 30 van die land se 130 suiwelfabrieke verwerk 90% van die land se roumelk in gepasteuriseerde melk en ander suiwelprodukte.

“Suid-Afrika vervaardig sowat 0,4% van die planeet se melk en in teenstelling met baie ander lande is ons selfvoorsienend in ons suiwelbehoeftes,” het Fouché met die gehoor gedeel. Hy het benadruk dat dit bewonderenswaardig is om te sien hoe produsente en verwerkers oor die vermoë beskik om bokant die land se daaglikse probleme uit te styg.

Saamstaan, nie saamspan nie

Fouché het sy kommer oor rolspelers binne die suiwelwaardeketting uitgespreek wat nie deel van die georganiseerde bedryf wil wees nie, maar sterk opinies oor die bedryf lug.

Sulke opinies en klagtes het in die onlangse verlede tot duur ondersoeke na die bedryf se waardeketting gelei, waarvan arbeid en die regering deel is. In hierdie ondersoeke is die kwessie van beheer gou in die kiem gesmoor, en is dit maar net weer beklemtoon dat elke rolspeler (insluitend besigheid, georganiseerde bedryf, arbeid, en regering) sy rol optimaal in die vryemark moet vervul.

Te midde van dié uitdagings het Fouché dank teenoor die visie van Melk SA se stigters 23 jaar gelede uitgespreek. “Ek is dankbaar dat hulle die insig gehad het om te besef dat die bedryf ’n verenigde platform sou nodig hê om strategies en as eenheid op te tree in sake wat van ’n gemeenskaplike belang is.” Hy het spesifiek daarop gewys dat die bedryfsinligting wat op ’n maandelikse basis ingesamel en beskikbaar gestel word, ’n wyer spektrum as vier jaar gelede dek en van onskatbare waarde vir die bedryf is.

Ekonomiese prentjie

Bertus van Heerden, Melk SA se bestuurder van ekonomieë en markte, het die plaaslike en internasionale suiwelmark te midde van groot internasionale onsekerhede bespreek. Tewens, Van Heerden glo dat die potensiaal vir die ontstaan van ’n groot oorlog wesenlik verhoog het. In tandem met die onsekerhede het die dryfveer vir selfvoorsienendheid tussen lande verdere stukrag gekry.

In ooreenstemming met die onsekerhede het die internasionale vry-aan-boord-pryse van suiwel dramaties in 2024 gestyg. Die prys van botter het met 25,8% verbeter, die prys van afgeroomde melkpoeier (SMP) het met 6,1% toegeneem en cheddarkaas het ook teen ’n gemiddeld van 12,2% hoër verhandel in die laaste kwartaal van 2024.

Wat die plaaslike mark aanbetref het Suid-Afrika se suiwelinvoere met bykans ’n derde (31,3%) gedaal, terwyl 6% minder suiwel uitgevoer is. Onverwerkte melkproduksie het egter teen 3,5% jaar-op-jaar gestyg.

Van Heerden het bygevoeg dat die internasionale suiweldatabasis, IFCN, se 2024-verslag daarop dui dat melkpryse wêreldwyd met 25,5% gedaal het teenoor 2023 weens ’n verhoogde aanbod en verlaagde vraag. Binne hierdie konteks is Suid-Afrika een van die laagste koste produsente ter wêreld.

Voer en arbeid is die twee grootste uitgawes vir melkprodusente, sê Van Heerden en voeg by dat die speelveld ongelyk bly as gevolg van subsidies wat aan Europese produsente ’n onregverdige markvoordeel bied. – Susan Marais, Plaas Media

RSG Landbou: 6 Mei 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor katbos en hittestres by kleinvee. Katbos Het jy geweet katbos, wat...

LandbouRadio: 6 Mei 2026

In Woensdag, 6 Mei se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: In Leon die skaapherder se Woensdagwenk, gesels hy...

Dinamika en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse lusernhooibedryf: Produsentepryse (Deel 4)

Estimated reading time: 7 minutes Vorige artikels in hierdie reeks het gefokus op aspekte soos die gradering, gehalte, produksiegebiede en...

Glaring lack of industry contributions in gazetted FMD vaccination scheme

Estimated reading time: 7 minutes The final Section 10 Routine Vaccination Scheme for Foot and Mouth Disease (FMD) was published...

Mosdene Borans make their mark

Estimated reading time: 7 minutes When the bid closed on R2 million for the Boran bull Odysseus (E18-138), it took...

Wysiging van wingerdstokke se DNS kan weerstand teen siektes, droogte verhoog – nuwe studie (Universiteit Stellenbosch)

Wingerdstok geenredigering skakel ’n enkele geen ‘af’: ’n Plantbiotegnologie mylpaal in Afrika Estimated reading time: 8 minutes Die DNS van ’n...

Keep exploring...

Landboumarkte: Mei 2025 Die styging in skaapvleispryse begin taan

Estimated reading time: 3 minutes Gedurende Mei 2025 het ons gesien hoe die rand stelselmatig teenoor die Amerikaanse dollar versterk het en die maand afsluit...

Landboumarkte: Junie 2025 Goeie stygings in A2-beesvleispryse gesien

Estimated reading time: 3 minutes Gedurende Junie 2025 het die rand met sowat 20 sent teenoor die Amerikaanse dollar versterk en die maand afgesluit op...