Estimated reading time: 5 minutes
Waarom moet ons klimaatslim boer? Dis die vraag waarmee dr Louis du Pisani die heel eerste Veeplaas Klimaatslim-boeredag by James Faber afgeskop het. Die klimaat is tans in ’n ekstreme fase en aanpassing is nodig om die golf te kan ry, het hy gesê. Gemiddelde reënval het redelik konstant gebly oor tyd, maar die aantal reëndae waartydens hierdie reënval voorgekom het, het verminder.
Daar was dus minder reënstorms, maar meer intense storms, wat meer waterafloop en dus waterverliese beteken. “’n Veeboer kan net werk met die water wat in die grond ingaan.” Dr Du Pisani het ook daarop gewys dat droë tydperke droër word, terwyl nat tydperke natter word. Ons is tans ook in ’n supersiklus wat temperatuur behels, en ons verkeer nou in ’n warm siklus. Dr Du Pisani was een van verskeie sprekers wat sowat 100 besoekers gedurende dié dag toegespreek het.
Denkleier in klimaatslim-praktyke
James Faber is Veeplaas se eerste Klimaatslim Ambassadeur, en een van sy grootste suksesse is sy veldbestuur en hoe daar rekord daarvan gehou word. Die rus van kampe is een van die belangrikste aspekte hiervan. Een van die eerste lesse wat hy geleer het, het hy gesê, is dat méér diere nie noodwendig méér geld maak nie. Baie diere op swak weiding maak nie geld nie.
Grasspesiesamestelling is ook ’n baie belangrike aspek van veldbestuur en dit is belangrik om nie grasse in te bring wat nie in die omgewing aard nie. Daar was aanvanklik ook bykans 1 000 bosse per hektaar wat uitgeroei moes word.
Faber se veldbestuurstelsel het van die been af gekom nadat wyle dr Jasper Coetzee vir hom gesê het dat hy nie die veld se tekorte en probleme met lek kon regmaak nie. Nog ’n uitdaging in die gebied is vermeersiekte wat die gevolg is van vermeerbossie wat deur die diere gevreet word. “Dié bossie moet vernietig word.”
Die keerpunt in Faber se boerdery het in 2007 gekom toe ’n adviseur aangeraai het dat hy sy veegetalle verminder, kampe inrig, kampe laat rus, die grasspesiesamestelling regstel, en ’n weidingstelsel gebaseer op weidae in plek kry.
Dus meer kampe met kleiner troppe, tesame met veldmonitering – elke kamp word gemonitor en elke kamp se vermoë word eenkeer per jaar geëvalueer. ’n Evaluasiejaar loop van 1 Junie tot 31 Mei en sluit ’n volle reënseisoen in. ’n Goeie tyd hiervoor is ná die eerste ryp. Faber glo veeboere moet leer om in kilogram per hektaar te meet. Jy moet meet om te weet en volledige rekords hou.
Lees meer oor die 2022 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeurkompetisie finaliste hier.
Sy kuddebestuursprogram en rekordhouding gaan oor ‘horses for courses’. Boer met dit wat in jou omgewing gaan werk. Leer by jou bure wat werk voor jy diere op nuwe grond sit. Daar is verskillende veldtipes op Faber se grond en ongediertes is ’n groot probleem.
Hulle boer met boerbokke, Dorpers en Brangusse. Die verhouding van die tipes vee moet egter reg wees en die diere moet produktief wees op die veld tot jou beskikking. Rekords word oor elke kalf en koei gehou. Lammers en kalwers word by speen ook geweeg. Faber gebruik Herdmaster en Stock Manager om sy rekords by te hou. Dragtigheidsondersoeke is ononderhandelbaar want dit is waar foute en probleme opgetel word en reggestel kan word. Hy glo ook vas in ’n geskrewe kuddegesondheidsbestuursprogram. As dit nie op skrif is nie, kan dit nie suksesvol uitgevoer en bestuur word nie.
Bosbeheer is ’n integrale deel van sy veldbestuurstelsel. Brand is veral op sy plaas en in die omgewing nie die ideale oplossing nie. Net soos bosindringing, is oorbeweiding ’n groot bedreiging vir goeie veld.
Indringers trek water en ontneem gras van water. Kontantvloei en tyd is twee van die grootste probleme as dit kom by ontbossing en dit is ook nie ’n eenmalige oefening nie. Dis ’n langtermynstrategie wat gewenste grasspesies soos bloubuffel en witbuffel terugbring. Geduld is belangrik nadat saad geplant is, maar dis deur en deur die moeite werd. Faber sê egter dat meganiese beheer nie op hulle grond werk nie en dat dit skade aanrig. Hulle werk eerder met geregistreerde gifstowwe.
Lees meer oor die Veeplaas Klimaatslimkompetisie hier.
Risiko’s te midde van klimaatsverandering
Daneel Rossouw, funksionele hoof van landbou by Nedbank en een van die borge van die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek, se voordrag het gefokus op die verskansing van risiko te midde van klimaatsverandering, asook die pilare van volhoubaarheid – natuurlike hulpbronne, finansiering en sosiale verantwoordelikheid. Daar is talle vraagstukke wat voor die produsent se deur lê. Rossouw het byvoorbeeld verwys na korrekte strukturering van besighede en arbeidsbeplanning (ongeskoolde arbeid teenoor werkers met spesifieke vaardighede).
Johannes van Rooyen van Zoetis, een van die borge van die Veeplaas Klimaatslim-projek, het gesels oor dieregesondheid te midde van klimaatverandering. Die fokus van sy aanbieding was die feit dat klimaatsverandering almal beïnvloed – mens én dier. Droogte, brande en vloede is alles aspekte van klimaatsverandering en het ’n groot impak op produksie, voedselsekuriteit en uiteindelik ook menslike gesondheid.
Vee moet gesond gehou word met voorkomende beheer eerder as die behandeling van siektes. Tegnologie speel ’n baie groot rol en sal in die toekoms ’n al hoe groter rol speel, veral waar genetika en genomika ’n rol speel in die ontwikkeling van dieregesondheidsmiddels. Boere moet ook onthou dat ’n veearts nie duur is nie. Die rekening raak net hoog as die tiende kalf gevrek het en die boererate op is.
Weermonitering is ’n integrale aspek van plaasbestuur en die mitigering van klimaatsverandering. Carina Olivier van Metos SA, een van die borge van Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur, het gesels oor stygende temperature en het verwys na navorsing wat toon dat temperature in Suid-Afrika die afgelope 15 jaar die hoogste in 138 jaar is.
Embed weeklikse weer: https://agriorbit.com/weeklikse-weer-met-johan-van-den-berg/
Weerstasies op jou plaas is baie meer akkuraat as weerstasies wat etlike kilometers van die plaas geleë is. Gelokaliseerde weerstasies gee akkurate data en kommunikeer met ’n rekenaar- of selfoontoepassing. Vergelykings en meer akkurate voorspellings word só moontlik gemaak. – Lynette Louw, Plaas Media