Estimated reading time: 3 minutes
- Landplante word deur ’n wortelstelsel in die grond geanker en versprei middel van sade, bolle, knolle, risome, stolons en/of steggies.
- Plante is gedrewe tot verspreiding na nuwe habitatte, sodat genetiese diversiteit in spesies bevorder word.
- Die groeiende probleem van onkruid wat weerstand teen onkruiddoders ontwikkel, is grootliks te wyte aan onkruidsoorte se groot genetiese diversiteit.
- Wees bedag op die onkruidsaad wat as kontaminant in veevoer of in die pense van vee vervoer kan word, en maak seker van die suiwerheid van voer wat verkoop en aangekoop word.
Landplante is nie mobiel nie, want ’n wortelstelsel anker hulle in die grond. Hierdie plante versprei dus deur middel van sade, bolle, knolle, risome (ondergrondse stingels), stolons (bogrondse stingels) en/of steggies. Aangesien dit alles voortplantingsorgane is, word in hierdie artikel na die kollektief as ‘sade’ verwys.
Plante is gedrewe tot verspreiding na nuwe habitatte, sodat genetiese diversiteit in spesies bevorder word. Groter genetiese diversiteit maak ’n plantsoort beter aanpasbaar by nuwe en veranderende omgewings, en gevolglik bevorder dit die voortbestaan van die spesie.
Hoe groter die genetiese diversiteit in ’n plantsoort, hoe beter is dit in staat om stresfaktore te weerstaan. Behalwe biotiese stresfaktore soos plantsiektes en insekte, is daar ook fisiese stresfaktore wat deur grond en klimaat bygedra word. Onkruiddoders is weer ’n chemiese stresfaktor.
Die groeiende probleem van onkruid wat weerstand teen onkruiddoders ontwikkel, is grootliks te wyte aan onkruidsoorte se groot genetiese diversiteit. Byvoorbeeld, Lolium (raaigras) se groot genetiese diversiteit het gemaak dat hierdie gewilde aangeplante weidingsgewas ’n ernstige onkruidprobleem op gewaslande inhou, omdat dit weerstand teen belangrike onkruiddoders het.
Lees meer oor Suid-Afrikaanse lusernproduksie hier.
Verspreiders van onkruidsaad
Naas die mens, sy voertuie en masjinerie is wind, vee, wild en voëls die belangrikste langafstand verspreidingsagente vir onkruidsaad. In moderne tye, danksy voertuie wat groot afstande vinnig kan aflê, vind onkruidverspreiding baie vinniger en meer doeltreffend plaas as op natuurlike wyses.
Diere benut onkruidsaad en saaddraende vrugte, en tydens spysvertering raak die sade kiemkragtig, danksy verteringsappe wat die harde saadhuide water- en suurstofdeurlaatbaar maak. Voergewasse wat met onkruid besmet is, kan onkruidsaad meevoer as kontaminant, en diere wat dit vreet versprei die sade nog verder.
’n Voorbeeld hiervan is kakiebos, knapsekêrel, kosmos en smelterbossie wat Suid-Afrika tydens die Anglo-Boereoorlog bereik het, saam met perde wat uit Suid-Amerika deur die Britse magte ingevoer is. In later jare het ons waarskynlik die dubbeltjie (Tribulus terrestris) vanuit Australië gekry saam met ingevoerde Merino’s en hul voer.
Lees meer oor die regulasies rakende uitheemse- en indringerplante hier.
Skadelike indringers
Wees bedag op die onkruidsaad wat as kontaminant in veevoer of in die pense van vee vervoer kan word, en maak seker van die suiwerheid van voer wat verkoop en aangekoop word. Sprekend van die erns hiervan is die onlangse klassifisering van die uitheemse indringerplant, Palmer-misbredie (Amaranthus palmeri), as ’n C1-kategorie uitheemse indringerplant in Suid-Afrika.
Sodanige klassifisering vereis dat die plant deur die grondeienaar uitgeroei moet word. Die teenwoordigheid daarvan kan ’n beperking van produkte vanaf ’n besmette plaas tot gevolg hê. Palmer-misbredie is dalk ’n voedsame plant vir mens en dier, maar op gewaslande is dit verwoestend. Dit bied sterk kompetisie vir die gewas en is weerstandig teen verskeie onkruiddoders.
Dit is die eerste keer in 2018 op gewaslande in die Douglas-distrik ontdek. Sedertdien is populasies daarvan op gewaslande in KwaZulu-Natal en Limpopo aangeteken, asook in Botswana. ’n Gids vir die identifikasie van Palmer-misbredie is gratis by die outeur beskikbaar. – Prof Charlie Reinhardt, Universiteit van Pretoria