Tuesday, November 29, 2022

Lusernproduksie en markte: Wat kan plaaslike produsente verwag?

Estimated reading time: 7 minutes

Die afgelope jaar het veeboere breed geglimlag oor die goeie reën wat ontvang is, maar vir saaiboere en veral lusernprodusente het dit ander uitdagings meegebring.

Walter van Niekerk, ’n lektor in landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, sê lusernproduksie het in die laaste paar jaar heelwat gegroei. Sedert die 2017/18-seisoen het die tonnemaat lusern wat deur die Nasionale Luserntrust (NLT) gegradeer word, van minder as 300 000 ton per jaar na tussen 400 000 en 450 000 ton per jaar gespring.

“Dit is egter nie al die lusern wat geproduseer word, wat deur die statutêre NLT-graderingskema gegradeer word nie. Na my skatting produseer Suid-Afrika seker maklik tussen 600 000 en 700 000 ton lusern per jaar,” sê hy. Vir die lusernprodusente was dit ’n goeie tydperk, danksy ’n gesonde binnelandse mark weens die droogte asook ’n uitstekende uitvoermark.

Lees meer oor hoekom hommeltuie ‘n rewolusie in landbou veroorsaak hier.

Lusern vir die uitvoermark

In die afgelope paar jaar was nie net lusernproduksie baie goed nie – weersomstandighede om hooi te maak en die prys van lusern met die vestiging van uitvoermarkte het ook hul kant gebring. Fanus Linde, hoof van veevoer en vesel by GWK, sê die wêreldmarkte is gretig om Suid-Afrikaans-geproduseerde lusernhooi te verkry.

“Van die grootste markte is die Midde-Ooste, die Verenigde Arabiese Emirate, Saoedi-Arabië en China. Dit is veral China wat op baie groot maat invoer. Inteendeel, die invoer na China uit verskillende wêreldlande is groter as die normale produksie van lusernhooi in Suid-Afrika. Dit is dus ’n mark wat ons nie graag wil verloor nie,” verduidelik hy.

Hy sê al die lande wat lusern aankoop het die Suid-Afrikaanse produk aanvaar en is gelukkig met die gehalte wat normaalweg hier geproduseer en bemark word. “Songedroogde lusernhooi wat net een keer gebaal word, is nie die algemene norm oorsee nie. Europa en die Verenigde Arabiese Emirate maak merendeels van droërs gebruik en dan ’n statiese pers om lusernhooi gereed vir uitvoer te kry. Al hoe meer lande het begin vra na die gehalte van Suid-Afrikaanse lusern.”

Hy verduidelik verder dat die gehaltebepaling deur die NLT se gebruik van NIR-tegnologie (near-infrared) en lusernhooikalibrasie, dit vir produsente en kopers makliker maak om die regte prys te kry of te betaal. Buitelandse kopers is ook tevrede met die kalibrasie wat gebruik word en die analisesertifikate wat uitgereik word. In hierdie omstandighede is die uitvoermark vir lusernhooi gevestig en die markkanale in plek gestel.

Lees meer oor hoe hooi geproduseer word hier.

Terugslae en uitdagings

Om die status quo te handhaaf is goeie lusernproduksie nodig om dié kanale in plek en kliënte tevrede te hou. Lusernprodusente het egter die afgelope twee jaar baie verliese gely as gevolg van buitengewone hoë reënval in die tradisionele produksiestreke van Suid-Afrika.

Volgens Walter lê die uitdaging nie by die groei van lusern nie, maar by die hooimaakproses. “Jy het tyd nodig vir die lusern om eers droog te word voordat jy dit kan baal. Met die laat reën wat baie van die luserngebiede gekry het, was dié tydperk vanjaar te kort om ’n gehalte produk in die mark te sit. Die gevolg was dat die gehalte aansienlik gedaal het en produsente nie die pryse kon kry waarop hulle gehoop het nie,” sê hy.

Fanus beaam dit en voeg by dat lusern op sy beste in die eerste drie jaar ná aanplanting is, en dat dit gewoonlik in die vierde jaar met ’n ander gewas geroteer word. Die goeie reënval was nie te wagte nie en daarom kon daar nie op vorige jare se aanplanting staatgemaak word nie. Verder was grasvorming in lusernlande ook ’n groot terugslag wat die gehalte van die lusern verder verlaag het.

Hoewel die vraag goed was, kon produsente weens die sub-optimale gehalte nie ’n winsgewende prys en produksie behaal nie. Daarom het baie produsente besluit om hul lusernlande om te ploeg en ander gewasse te plant. Walter sê van die ander gewasse (koring en mielies) het baie beter prysverhogings getoon en talle produsente het dus besluit om eerder in daardie rigting te beweeg, met die gevolg dat die huidige lusernaanbod kleiner as verwag is.

“Die lusernoes van die afgelope seisoen sal waarskynlik nie in die plaaslike behoefte voorsien nie, maar vraag en aanbod bring die prys en aanbod weer in verhouding. Ek verwag dat die prys vanjaar baie hoog gaan wees, omdat die mark daar is en bedien kan word,” meen Fanus. Hy voeg by dat die uitvoermarkte ook ’n groot behoefte aan lusern het, wat die prys van lusern nog verder kan opstoot.

Lees meer oor hoe om krisisse met kontantvloei te klop hier.

Vooruitsigte vir die lusernbedryf

Fanus glo dat hoewel die bogemiddelde reënval lusernproduksie ’n knou toegedien het, sal lusernproduksie gou weer op dreef kom. “Hoewel sommige boere besluit het om hul lusern uit te ploeg, is die aanduidings daar dat hulle weer gaan plant, maar wisselbou moet toegepas word en ek verwag dat ons eers oor twee jaar weer op die vlakke van produksie sal wees waar ons twee jaar gelede was.”

Walter sê die lusernmark gaan ’n wipplankryery ondergaan soos die meeste ander kommoditeitsmarkte. “Aanvanklik was die gehalte van lusern swak en het dit die prys van die produk afgedruk. Boere het bekommerd geraak en besluit om ’n ander gewas te plant. Die gevolg is dat die produksie laag was en daarom is die aanbod laag. Dit het egter weer die prys van hoë-gehalte lusern die hoogte laat inskiet. Dié kommoditeit gaan dus in die volgende seisoen vir boere weer aanloklik lyk om te plant.”

Hy glo ook dat alles van die weer afhang. “Ons is nog in ’n nat seisoen, maar weerkenners voorspel dat ons volgende jaar weer ’n droër seisoen kan verwag en lusern genoeg tyd sal kry om droog te word.”

Lees meer oor watergebruiklisensies hier.

Fanus is ook optimisties. Hy glo nie dat die uitvoermarkte permanent verlore is nie. “Lande wat lusern invoer gaan waarskynlik alternatiewe soek indien hulle nie genoeg Suid-Afrikaanse lusern kry nie, maar ek glo dat as die weersomstandighede in Suid-Afrika verander, ons weer daardie markte kan terugkry. Ons gehalte is oor die algemeen gesog in die wêreld en ons uitvoerkanale is in plek. Ons sal in die toekoms weer kan uitvoer na alle lande wat ons lusern wil hê en die gehalte aanvaar,” sê hy.

Wat die plaaslike vraag betref, glo Walter dat daar altyd ’n mark vir lusern sal wees. “Lusern is ’n hoë kragvoer wat ’n groot rol in die veebedryf speel. Veral melkboere sal altyd lusern nodig hê. Ek glo ook dat die weersomstandighede weer gaan verander en dan sal lusern weer gesog raak onder die veeboere.

“Op die oomblik is die internasionale blootstelling baie hoog en moet plaaslike vee- en melkboere meeding teen die uitvoerpryse. Daar is maar altyd ’n vraag en aanbod en die ekonomie het altyd sy siklusse. Hoewel sake op die oomblik donker lyk, gaan dit weer verander,” sluit hy af. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Fanus Linde by 082 888 0016, Walter van Niekerk by 082 482 5470 of die NLT by 044 272 8991.

Must read

EWT on rabbit haemorrhagic disease

It has been confirmed that rabbit haemorrhagic disease is causing widespread mortalities of wild hares and domestic rabbits in the Western and Northern Cape provinces. Bonnie Schumann of the Endangered Wildlife Trust gives some...

RSG Landbou: 28 November 2022 – geborg deur Elanco Animal Health

Plaaseienaars, asook haas- en konyneienaars, is gewaarsku dat konynbloedingsiekte vir die eerste keer in Suid-Afrika aangemeld is. Alhoewel dit tans net in die Wes- en Noord-Kaap voorkom, versprei dit soos ‘n veldbrand. Op RSG...

A synopsis of the South African fynbos floral industry

The flower business is like fashion, and the current fashion is fynbos.

Beur teen die winde wat ’n impak op Suid-Afrikaanse landbou het

Estimated reading time: 3 minutes Soos wat ons die einde van 2022 nader, het beduidende teenwinde steeds ’n impak op die Suid-Afrikaanse landbousektor. Sommige uitdagings soos infrastruktuur, elektrisiteit, belegging, logistiek, siektebeheer en dienslewering is al...

Step into the headwinds that affect agriculture in South Africa

Estimated reading time: 3 minutes Significant headwinds still affect the South African agricultural sector as we approach the end of 2022. Some challenges, such as infrastructure, electricity, investment, logistics, disease control and service delivery,...