Estimated reading time: 7 minutes
- Om twee jaar ná mekaar die beste karkas aan die haak te vertoon in ’n nasionale slaglamkompetisie, sit beslis nie in elke man se broek nie.
- Bertus Steenkamp, ’n Witdorperprodusent tussen Carnarvon en Fraserburg, het in 2024 vir die tweede agtereenvolgende jaar die beste slaglam aan die haak vertoon tydens die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy, Samic, se landswye kompetisie.
- Sy slaglam het 99,5% behaal.
- Sover bekend was hy ook die eerste produsent wat twee jaar agtereenvolgens die nasionale wenlam kon produseer en dit is ook die eerste keer dat ’n produsent die enkellam- sowel as die wengroepkategorie in dieselfde jaar wen.
- Sy plaas, Klipbankfontein, sit in die hartjie van die Hardemans-Karoo en is al sedert 1918 in die familie, toe sy oupa die plaas gekoop het.
Om twee jaar ná mekaar die beste karkas aan die haak te vertoon in ’n nasionale slaglamkompetisie, sit beslis nie in elke man se broek nie. Bertus Steenkamp, ’n Witdorperprodusent tussen Carnarvon en Fraserburg, het in 2024 vir die tweede agtereenvolgende jaar die beste slaglam aan die haak vertoon tydens die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy, Samic, se landswye kompetisie. Sy slaglam het 99,5% behaal.

Sover bekend was hy ook die eerste produsent wat twee jaar agtereenvolgens die nasionale wenlam kon produseer en dit is ook die eerste keer dat ’n produsent die enkellam- sowel as die wengroepkategorie in dieselfde jaar wen.
Dis in die bloed
Bertus vertel dat skaapboerdery in sy bloed is. Slaglamkompetisies is vir hom soos ’n evalueringstoets wat bepaal of sy boerdery op die regte pad is. Sy plaas, Klipbankfontein, sit in die hartjie van die Hardemans-Karoo en is al sedert 1918 in die familie, toe sy oupa die plaas gekoop het.
Sy pa het in 1940 op die grond begin boer en nadat Bertus sy studies aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth voltooi en sy weermagopleiding gedoen het, het hy in 1982 saam met sy pa kom boer. Tans boer sy seun, Roux, saam met hom en sy kleinseun, Rubert, word ook ’n liefde vir skaapboerdery in hierdie harde wêreld geleer, “sodat hy eendag die stokkie kan oorvat om hierdie rentmeesterskap na ’n nog hoër vlak te vat om ons leefstylbesigheid te bewoon, bewerk en bewaar,” gesels Bertus.

Verbetering is ‘n leefwyse
Perfeksie is die norm waarvolgens Bertus boer. Daarom het die slaglamkompetisie hom aangetrek. Hy het voor 1997 al begin om aan kompetisies deel te neem. “Dit is vir my ’n stokperdjie, maar ook ’n manier hoe ek myself kan toets en met medeboere vergelyk. Dit gaan nie oor roem of geldmaak nie.”
Behalwe vir die Carnarvon-skou, Williston-skou en Calvinia-vleisfees het hulle ook sedert 2017 aan die Royalskou in Pietermaritzburg deelgeneem, waar hy telkens die podium gehaal het. In 2022 het hy die eerste keer die wenlam asook wengroep lammers vertoon.
Samic se slaglamkompetisies het oor die jare ’n groot rol in hul boerdery gespeel. Sy voorbereiding vir deelname begin by deeglike seleksie van die jong ooie tot by die kies van ‘n ram met die regte fenotipiese eienskappe soos bouvorm, vleiseienskappe en bedekking om die perfekte slaglam te produseer. Hoewel dit lekker is om die prestasies teen jou muur en op die studeerkamerrakke te sien, verg dit harde werk en toewyding.
Om as een van die land se beste vleisskaapprodusente gereken te word, kom nie vanself nie. Alles begin by noukeurige seleksie, goeie voeding en tydsberekening om die perfekte karkas op die datum van die kompetisie te lewer. Sy ondervinding oor drie dekades om die regte lam/groep op die hoef te kombineer deur fenotipe, bouvorm en gewig vir eenvormigheid te selekteer, het hom ook gehelp om vier keer die nasionale groepwenner te vertoon en die afgelope twee jaar die nasionale enkellam.
“Gradering op die hoef kan jy net skat deur die lam langs die rugstring af tot teen die boude en oor die ribbes te voel. Beoordelaars aan die haak soek ’n lam met ‘n egalige vetverspreiding, gewig en ’n tipe 5-bouvorm wat ’n pragtige visuele prentjie vorm.”
‘n Eenvormige kudde
Bertus sê sy wenlammers is nie ‘uitskieters’ nie. Omdat hulle slegs met Witdorpers boer, lyk die kudde baie eenvormig en so ook die lammers. “In die vyf produksiesiklusse (drie in die laatsomer en herfs, en twee in die lente) waarbinne die kudde bestuur word, beland lammers van dieselfde ouderdom bymekaar in geselekteerde troppe van ongeveer 150 ooie. Op die ouderdom van ongeveer vier tot vyf maande, afhangend van die gehalte van die weiding, word die lammers direk van die moeders in spesifieke gewigsgroepe na die abattoir gestuur.
“Die rede hiervoor is dat ons by die abattoirs in Carnarvon en Williston waar ons bemark, aanspraak kan maak op ’n premie van tot R12/kg as gevolg van gesertifiseerde GI-Karoolam en/of Woolworths-lam. In ’n trop van 100 lammers, waarvan tot 92% vir die premie kwalifiseer, kan ons tot R21 000 meer verdien.”
Bertus was altyd onder die indruk dat gewig die prys sal klop, maar hy het gou geleer dat gehalte die botoon voer en jou meer in die sak bring. Om gehalte tot sy volle potensiaal te ontwikkel, staan Bertus se skaapboerdery op twee pilare: genetika en voeding.

Oor teling en inteling
Hy glo genetika is nie iets wat jy oornag in ’n kudde kry nie. Dit kan slegs met ‘n konsekwente teelbeleid oor ’n tyd bereik word. Hy het die afgelope agt jaar geen ramme ingekoop nie en konsentreer op eenvormige bouvorm, vrugbaarheid en aanpasbaarheid.
“lnteling begin by die seleksie van jong ooie, jong ramme en volhoubare riglyne wat eienskappe soos bouvorm, pigment en bedekking insluit. Ons het in Januarie 2024 besluit om ’n Witdorperstoet te registreer en het ook by die Dorper Skaaptelersgenootskap van Suid-Afrika en SA Stamboek aangesluit. ’n Inspekteur het 103 tweetandooie uit ’n kudde van 300 geselekteer. Hiervan was 80 stoet- en 23 tipe 5-ooie. Ek het vanjaar die eerste keer weer veilings bygewoon om tipe 5-ramme met die korrekte bouvorm en lyflengte te koop. Ons het hierdie pad gevolg om beter ooie te teel en ’n beter prys vir ons jongooie te kry.”
Voeding vir afronding
Voeding is baie belangrik by die afronding van lammers. Oor tyd en met die hulp van spesialiste en verteenwoordigers van groot voermaatskappye, het hy die perfekte afrondingsresep vir sy lammers saamgestel.
Hy produseer sy eie lusern en met die regte bestanddele kan hy ook sy eie voerpille met ’n proteïeninhoud van 16,6% maak. Hierdie voer word ab lib aan die lammers voorsien. Lusernbale word permanent in ’n hooirak voorsien tesame met voldoende vars, skoon water en 95% skadu-afdakke vir koelte.
Kommersiële slaglamproduksie is geen grap in die Karoo nie. Wisselvallige en lae reënval stel hoë uitdagings en om voltyds te voer, is eenvoudig te duur. Om aan slaglamkompetisies deel te neem, moet die lammers afgerond word en dit het ook sy uitdagings. Hy selekteer gewoonlik slegs 50 uit sowat 500 lammers wat voerkraal toe kom op 30kg. Daar sal hulle vir sowat 42 dae spesiale aandag kry.
“Drie of vier dae voor die kompetisie word hulle in gewigsklasse geklas en elke groep word noukeurig volgens bouvorm, geskatte gradering en eenvormigheid geklas. Lammers met lang lywe, waarvan die voor- en agterkwart ewe breed is asook volronde buitedye, kry voorkeur. So kom die bestes bymekaar tot net 12 oorbly. Ek visualiseer hoe so ’n karkas aan die haak sal lyk en gebruik dit as ’n fondasie vir seleksie.
“Woltipe-lammers kry voorkeur omdat steekhaarlammers geneig is om vet op die agterkwart te lokaliseer. Elke lam ontvang ’n kleurkode sodat die regte kombinasies vir die kompetisie ingeskryf word. En dan groet ons. Wanneer ’n mens so baie aandag aan die lammers gee, raak jy nogal lief vir hulle en neem jy swaar afskeid teen slagtyd.” – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, skakel Bertus Steenkamp by 083 630 5675.





