Estimated reading time: 5 minutes
Daar is feitlik niks wat Jan-Louw du Plessis en sy ma, Elsabé du Plessis, van die plaas Uitkyk by Wellington nie van boegoe weet nie. Die plante wat die beste vaar in bergagtige grond – waar geen ander produkte soos vrugtebome of wingerde voorheen verbou is nie – staan al sedert 2003 krom, regop en skeef teen ’n skuins helling, steeds voluit in produksie ná byna 23 jaar.
“Hoe jonger die plante is, hoe langer is hul takke; en hoe groter die plant raak, hoe meer houtagtig en korter raak die snysels wat ons kan afsny. Ons probeer dus altyd om dit nie te kort te sny nie,” sê Jan-Louw ná baie jare se navorsing en vasbyt met die plante.
Hulle het destyds 6ha boegoe op die plaas gehad, met Agathosma crenulata in die meerderheid, omdat dié spesie beter in die Wellington-, Paarl- en Drakenstein-omgewing aard, terwyl Agathosma A. betulina meer natuurlik voorkom by Piketberg, Citrusdal, Vanrhynsdorp en Clanwilliam.
Daar groei wel ook ’n klompie A. betulina op Uitkyk wat – anders as A. crenulata wat weer sal groei ná ’n brand – deur brande vernietig word.
Saad, ontkieming en die koste om te vestig
Die ontkieming van die saad is ’n ingewikkelde proses. As ’n natuurlike fynbosplant benodig boegoe se saad beroking, wat ’n chemiese reaksie veroorsaak wat ontkieming stimuleer. Die klein, swart, blink boegoe-saad is in vroeër jare in goiingsakke geplaas, natgemaak en in ’n skoorsteen berook. Vandag word ’n rookmiddel gebruik wat saam met die saad in water gekook word om die ontkiemingsproses aan die gang te sit.
Die vestiging van boegoe is duur en kos enigiets tussen R150 000 en R200 000 per hektaar, net vir die plantjies. Boegoe-saad kos tussen R15 000 en R30 000 per kilogram, en omdat so min daarvan beskikbaar is, sukkel mense om saad in die hande te kry. “Daar is tans baie min mense wat plantjies kweek, en nie alle gronde is geskik vir boegoe nie,” sê Jan-Louw. “Die plante verkies suidelike hange met suur, diep grond. Droogtes en siektes speel ook ’n rol, en ons sukkel om die lande vol te hou. In 2015 het ons baie van die plante weens die droogte verloor.”
Boegoe het twee wortelstelsels. Die penwortel is diep vir wateropname, terwyl die res van die wortelstelsel vlak ondergronds is vir voedingstowwe. As ’n boegoe-plantjie ongeveer 2-3cm hoog is, kan die penwortel al amper ’n halfmeter lank wees. Die aanplant van boegoe, en om dit te vestig, is dus nie so maklik of goedkoop nie.
“Die vestiging van die boegoe was nie so maklik nie. Ons het destyds so R3 tot R3,50 vir ’n plantjie betaal en het ook al self plantjies gemaak, wat nie ’n groot sukses was nie. Daar was baie min inligting beskikbaar oor die plante en ons het ook baie met plantwydtes en verskeie ander faktore geëksperimenteer. Ons het die plantjies aanvanklik in die grond gesit volgens ’n 1 200mm×600mm-spasiëring en dit later verander na 750mm×750mm. Ons plant ongeveer 20 000 plantjies op ’n hektaar en vind dat lande wat digter geplant is, se onkruidbeheer baie makliker is as by dié wat ons aanvanklik geplant het.”
Dit blom gewoonlik in September en nadat bestuiwing plaasgevind het, begin die saadhuisies, waarin daar gewoonlik vier saadjies is, oopgaan. “Ons oes die saadhuisies gewoonlik in Oktober en stoor dit in saadlaaie of drooglaaie in ’n stoor, waar die saadhuisies dan oopskiet en gebêre word vir die volgende aanplant. Omdat die saad in natuurlike toestande in die veld gevestig sou word, kan dit tot 5 of 6m ver skiet.”
Planttyd is gewoonlik Mei tot Julie. Tegnologie het boegoe-produsente se lewe intussen makliker gemaak en daar is deesdae organiese potjies op die mark beskikbaar waarin die saad van fynbosplante en bome geplant word. Benatting is baie belangrik, en drupbesproeiing werk die beste om die stamme naby die grond droog en skoon te hou sodat dit nie met die druifluis Phylloxera vastatrix besmet word nie. Andersins is daar nie regtig peste en plae nie.”
Oes, distillasie en boegoe-tee
Op die plaas maak hulle van arbeid gebruik om organiese onkruidbeheer toe te pas, en tussen November en Januarie word die boegoe gesny vir lewering aan Puris, waar die olie uit die blare gedistilleer word. “Deesdae maak ons gebruik van Puris se oesspanne wat inkom om die boegoe, wat baie houtagtig is, met snoeiskêre te oes, dit in deurlugte sakke te sit en na hul perseel te vervoer. Toe die boegoe-mark ’n duikslag beleef het in 2013/14, het Puris ons genader vir plante, en vandaar stap ons die pad saam,” verduidelik Jan-Louw.
Elsabé se resep vir ’n lekker koppie boegoe-tee:
Die groot geheim is om boegoe-tee nie te lank te laat trek nie:
- 1 teelepel droë boegoe.
- 1 koppie kookwater.
Gooi die koppie kookwater by die droë boegoe vir slegs 2 minute. Gooi deur ’n sif. Geniet koud of warm. Die drankie kan met heuning geniet word, of gemeng word met rooibostee. – Carin Venter, Plaas Media
Vir navrae, kontak Puris se kantoor by 021 872 4134 of info@puris.co.za; www.puris.co.za, of Elsabé du Plessis op Uitkyk by 082 800 8546.