HomeGeneral agricultureBoegoe – ’n geurige skat uit die fynbos 

Boegoe – ’n geurige skat uit die fynbos 

Estimated reading time: 3 minutes

By Puris, wat in die Paarl geleë is, word boegoe‑olieprodukte en boegoe‑swaelfraksies – gespesialiseerde, hoë‑impak aroma‑bestanddele – uit die vlugtige olies van Agathosma betulina (kortblaarboegoe) en A. crenulata (langblaarboegoe) geskei. Hierdie molekules is ryk aan swaelbevattende monoterpeen‑tiole (aromatiese organo‑swaelverbindings) wat ’n skerp, “katagtige” en swartbessie‑agtige geur verleen. Dit word hoofsaaklik in die aromatiese en parfuumbedryf gebruik, veral om swartbessie‑ en tropiese vrugtegeure te skep.

“Ons het twee-en-twintig jaar gelede met boegoe-olie begin eksperimenteer. Die komplekse vlugtige olies is in groot aanvraag as aromatiese bestanddeel, met topnote van swartbessie, vrugte en kruisement,” sê dr Gerhard Niemand, stigterslid van Puris. “Boegoe is werklik ’n merkwaardige spesie in die fynboskoninkryk. Die bestanddele waaruit sy vlugtige olie bestaan, bevat unieke molekules wat dit só besonders maak.” 

Puris is ’n onderneming waar produsente en wetenskap bymekaarkom om robuuste produkte soos boegoe-olie vir die uitvoermark te skep. Op die foto is dr Gerhard Niemand, stigterslid van Puris; Carine Horak, operasionele en verkrygingskoördineerder; en Stefan du Toit, verkope- en bemarkingsbestuurder.

Van plaaslike plant tot wêreldwye geur 

Puris het in die vroeë 2000’s begin om die uitsonderlike bestanddele in boegoe deur middel van fraksionele distillasie te isoleer. Hierdie proses maak dit moontlik om sekere hoë‑impak‑komponente uit die olie te verwyder. As gevolg van hierdie eienskappe word die olie in baie lae konsentrasies gebruik. 

“Die geur van boegoe is uiters kompleks, en daar is mense wat daarvan hou, terwyl ander dit as afstootlik ervaar,” verduidelik dr Niemand. 

“Toe prof Aubrey Parsons, ’n parfumeerder, destyds hoor dat ons met fraksionele distillasie begin het, was hy baie opgewonde. Sy woorde aan my was: ‘As jy ’n baie goeie parfuum formuleer en net ’n katspoegie boegoe-olie byvoeg, verander daardie parfuum van ’n kruiwa in ’n Ferrari-parfuum!’ 

“Persoonlik glo ek geen ander olie kan met boegoe-olie meeding nie, juis vanweë sy unieke eienskappe. Daarom, as jy ’n besonder lekker parfuum ruik, let gerus daarop of boegoe as bestanddeel daarin voorkom.” 

Ongeveer 90% van Puris se produkte word uitgevoer, hoofsaaklik na Amerika en Europa. Hul kliënte is grootliks verwyderd van die eindverbruiker en funksioneer binne ’n besigheid‑tot‑besigheid‑omgewing.  

Stefan du Toit, ’n gekwalifiseerde wynmaker en Puris se verkope‑ en bemarkingsbestuurder, beskryf die aard van hul bedryf soos volg:  

“Ons is deel van ’n besonder interessante bedryf wat grootliks onder die radar funksioneer. Wat Puris onderskei, is ons unieke portefeulje. Ons werk gereeld saam met eendersdenkende ondernemings waar unieke vlugtige olies omskep word in aromas en geurmiddels waarop kliënte hul eie handelsmerk en identiteit plaas.  

“In ’n wêreld waar soveel dinge as vanselfsprekend aanvaar word, help ons om persoonlike verbintenisse vir mense te skep – en dít is die kern van ons besigheid.”- Carin Venter, Plaas Media 

Must Read

LandbouRadio: 25 Augustus 2026

In Dinsdag, 25 Augustus se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende:Pieter Möller wou tydens die onlangse Agri Wes-Kaap-kongres by Goudini, by Jannie Strydom,...