Friday, February 3, 2023

Goeie genetika en veldtoetse skep winsmakers

Estimated reading time: 6 minutes

Die veebedryf het in die laaste 50 jaar baie verandering ondergaan, en met grond wat toenemend beperk raak, insetkoste wat die hoogte inskiet en die prys wat die produsent vir sy produk kry wat nie daarmee tred hou nie, raak dit al hoe moeiliker om volhoubaar te boer. Produsente moet deesdae baie planne beraam om volhoubaar te bly.

’n Mens kan maklik angstig raak en begin soek na die vinnigste pad om die boerdery meer volhoubaar en winsgewend te maak. In die meeste gevalle betaal dit egter om geduldig te bly en oordeelkundige bestuursbesluite te neem.

Een so ’n voorbeeld is die Dorper-veldramklubs wat die laaste paar dekades oral kop uitgesteek het. Dit was geen vinnige manier van geld maak nie, maar eerder ’n stadige en deurdagte poging om kuddes te verbeter en by die oorspronklike rasstandaarde en doelstellings van die ras te hou. Nou, 30 of 40 jaar later, kan diegene wat geduldig was, terugkyk op ’n suksesvolle skaapboerdery. Dit is meestal daardie einste produsente wat slaglamkompetisies wen en SA Stamboek se Elite-toekennings inpalm.

Oorspronklike doelwitte

Kort na die Eerste Wêreldoorlog het skaapboere in Suid-Afrika ’n behoefte ontwikkel om inheemse skape wat die eienskappe van vrugbaarheid en gehardheid gehad het, met ander inheemse en uitheemse rasse soos die Ronderib Afrikaner, Persie en Dorset Horn te teel.

Later jare is met ander rasse geëksperimenteer, want telers was op soek na ’n skaap met eienskappe vir maklike lamvermoë, vrugbaarheid, ’n goeie vleiskarkas, en wat in ekstensiewe omstandighede op vier of vyf maande oud reeds geslag kon word, wat die erge koue en hitte van Suid-Afrika kon verduur, in moeilike veldtoestande floreer, maklik kon reproduseer en min onderhoud geverg het. Dit was eers in die veertigerjare wat dié ideale vleisskaap uiteindelik sy naam van Dorper gekry het.

Oor die jare het nog idees en drome egter bygekom, en telers het onder mekaar begin meeding en Dorpers geteel wat baie goed op skoue sou presteer. In die proses het sommige van die raseienskappe verlore geraak. Tog het ’n klompie telers bly vashou aan die oorspronklike doelwitte waarvoor die ras geteel is, en dit is waar die gedagte van ’n veldram begin posvat het – ’n ram wat onder alle natuurlike omstandighede kan aanpas en presteer.

HG Human, ’n bekende Dorper-teler in die Prieska-omgewing sê dié ras is vir ’n spesifieke doel geteel, en om daarby uit te kom moet jy die dier se prestasies kan meet. “As jy nie meet nie sal jy ook nie weet nie,” sê hy. Hy verduidelik dat die gebruik van aangepaste, veld-grootgemaakte, prestasiegetoetste ramme, na 38 jaar steeds bewys dat dit vir die teler meer geld in die sak bring.

Lees meer van hoe meganisasie op arbeid op ‘n skaapplaas hier.

Skouramme en funksionele ramme

Hy sê verder dat daar twee denkskole onder stoetboere is. Die een is diegene wat op skoue wil presteer en mooi diere teen groot bedrae op stoetveilings wil verkoop. Dit is egter ’n baie klein, eksklusiewe mark en dit neem jare om daar in te kom en vir jouself naam te maak. Die ander denkskool teel funksionele ramme vir die groot kommersiële mark. Hulle doelwit is om ramme te teel wat vir die koper ’n aanwins sal wees.

Met dié twee denkskole is die variasie in die ras groot en skep dit meer geleenthede vir telers om te besluit waar hulle wil inpas. Omdat elkeen ’n plek het, skiet hy dus nie een van die denkskole af nie, maar hy beklemtoon dat elke produsent graag vorentoe wil boer en dat dit daarom noodsaaklik is om die ram se vermoëns, wat jy nie met die oog kan sien nie – soos groei, vrugbaarheid en doeltreffendheid – te kan meet, sodat jy kan weet wat die dier se potensiaal is.

Veldgetoetste ramme wat presteer

HG sê elke teler se ideaal is om sy diere voortdurend te verbeter en aan sy spesifieke raskenmerke en doelstellings te voldoen. Om dit te kan doen is daar nie ’n ander manier as om prestasiemeting in die seleksieproses of aankoop van ramme te gebruik nie. Dit gee aanleiding tot beraamde teelwaardes wat voorspel hoe die dier se nageslag gaan produseer en reproduseer.

“Teelwaardes is die akkuraatste inligting waarmee diere geselekteer kan word. Die voorspelling van teelwaardes berus op drie bene, naamlik metings, stamboominligting en genetiese parameters soos oorerfbaarheid en genetiese korrelasie tussen eienskappe.”

Hy vertel verder dat hulle jare gelede die veldramprojek begin het om potensiële teelramme onder normale veldtoestande so akkuraat as moontlik te evalueer en dié ramme dan met soveel as moontlik inligting aan produsente te bied. Hul uitgangspunt was: “Teel ’n dier soos hy moet lyk om te produseer”. In die verlede is die dier se vorm heeltemal oordryf, terwyl die klem eintlik op die ekonomiese eienskappe soos vrugbaarheid, groeivermoë en aanpasbaarheid moet val.

“Die ram moet ook grootgemaak en getoets word onder dieselfde toestande as wat hy moet gaan werk,” sê HG. “Ramtelers en slaglamprodusente moet vir dieselfde eienskappe selekteer en enkel-eienskapseleksie moet liefs vermy word. Prestasiesyfers moet ook betroubaar en bo verdenking wees. Daarom maak ons gebruik van SA Stamboek se databasis, en die inligting wat ons daaruit kry help telers om elke jaar beter en meer ekonomies te boer.”

Hierdie Dorper-telers het oor die jare gewys dat hulle op die regte pad is. Dr Bernice Mostert van SA Stamboek, wat nou met Dorper-telers saamwerk, beaam dit en sê statistieke toon dat die ras oor die laaste 40 jaar aansienlik verbeter het. Volgens haar inligting het Dorpers se gemiddelde speengewigte sedert 1984 tot 2021 van 22kg na 29,6kg verhoog en die totale gewig gespeen van 30,9kg na 37,5kg. Die ouderdom met eerste lam het verkort van 658 na 498 dae en die tussenlamtydperk het verbeter van gemiddeld 393 tot 376 dae.

Lees meer oor weimielies as winterweiding vir skape hier.

Waar genetika en omgewing ontmoet

Volgens HG lê ’n dier se prestasie nie net in sy gene nie. Dit word deur sy genetiese samestelling én die omgewing waarin hy groei en produseer, bepaal. “Die omgewing en bestuur waaraan diere blootgestel word verander regdeur die dier se produktiewe lewe, maar sy genetiese potensiaal, wat deur die ouers bepaal word, bly altyd dieselfde. Die enigste invloed wat daardie dier op sy nageslag sal hê, is deur die oordrag van gene. Dit is een van die dinge wat ’n teler met behulp van goeie seleksie kan bestuur,” meen HG.

Hy glo veldramprojekte en prestasietoetsing is die pad na die toekoms. Die produk hiervan is ’n aangepaste, veldgetoetste en funksionele dier wat onder verskillende klimaats- en omgewingstoestande kan produseer en reproduseer. Prestasiedata word vandag wêreldwyd gebruik om die winsgewendheid van skaapboerderye te verhoog. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak HG Human by 078 639 2216.