Weimielies as winterweiding vir skape

345

Estimated reading time: 6 minutes

Ryp, ongestroopte mielies as ’n wintervoergewas, of weimielies soos dit algemeen bekend staan, kan ’n baie doeltreffende opsie vir die oorwintering van skape wees, mits bestuursvereistes nagekom word. Dit bied ’n goeie lae-risiko winterweiding, wat in die somer aangeplant en as staande voer na die winter oorgedra kan word.

Weimielies is ’n uitstekende alternatief vir byvoorbeeld winterkleingraanweidings wat van wispelturige winterreënval afhanklik is, of waar besproeide weidings nie ’n opsie is nie. Dit kan alleen of aanvullend tot ander winterweidings of oesreste gebruik word, en kan ook vir oorbrugging later in die winter aangewend word.

Oorbrugging van die wintergaping

Dr Erika van Zyl, ’n weidings- en veldspesialis by die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in KwaZulu-Natal se navorsingstasie in Dundee, sê weimielies kan die wintergaping in ’n voervloeiprogram met groot sukses vanaf herfs, nádat die mielies ryp is, tot en met die eerste reën in die lente oorbrug, afhangend van die hoeveelhede wat beskikbaar is.

Dit is moontlik om ’n betroubare beraming van die hoeveelheid voer wat beskikbaar is, reeds vóór die winter te maak. Met die hoë drakrag van weimielies kan baie diere op ’n beperkte oppervlakte aangehou word, wat natuurlik ook sekuriteitsvoordele inhou.

Diereprestasie op weimielies

Weimielies bied goeie oorwintering vir herfslammerooie, terwyl winterspeenlammers ook ekonomies en met goeie resultate daarop uitgegroei kan word. Dr Van Zyl sê dat wanneer vleispryse hoog en die mielieprys laag is, kan die ekonomie van ’n weimieliestelsel goed uitwerk.

Oorwintering van lammerooie op weimielies het nie net goeie melkproduksie tot gevolg nie, maar help ook dat die ooie die weiding ná speen in ’n goeie kondisie verlaat, wat hoogs bevorderlik is vir ’n suksesvolle volgende teelseisoen.

Weimielies bied goeie oorwintering vir herfslammerooie, terwyl winterspeenlammers ook ekonomies en met goeie resultate daarop uitgegroei kan word.

Volgens dr Van Zyl kan Merino-tipe lammers op weimielies ’n voorspeense lewende massatoename van ongeveer 180 tot 250g/dag behaal, lakterende ooie ’n toename van sowat 50 tot 100g/dag, en speenlammers 160 tot 200g en selfs meer per dag. Dié toenames is selfs hoër by SA Vleismerino-tipe lammers.

Kultivars vir weimielies

’n Hoë-opbrengs mieliekultivar en die toepassing van dieselfde bewerkings- en bemestingpraktyke as vir graanproduksie, word aanbeveel. Die kultivar wat normaalweg in ’n gebied vir graan en kuilvoer aanbeveel word, sal ’n goeie keuse vir weimieliedoeleindes wees. In die medium termyn, sê dr Van Zyl, moet gewasrotasie op sulke landerye oorweeg word, want die intensiewe beweiding met baie diere daarop, kan moontlike grondverdigting veroorsaak.

Pas skape aan vóór beweiding

Asidose, oftewel suurpens, wat dikwels weens die hoë energie-inhoud van weimielies ontstaan, kan doeltreffend beheer word met die geleidelike aanpassing van skape by die nuwe mielierantsoen, asook die voorsiening van ’n sogenaamde ‘suurpenslek’ ter ondersteuning. Indien diere nie doeltreffend by die nuwe rantsoen aangepas word nie, kan suurpens en selfs vrektes in die kudde voorkom, waarsku sy.

Lees meer oor kleinvee-weiding hier.

Haar raad is verder dat ’n goeie inwendige parasietbeheerprogram voortgesit word, voordat die skape se aanpassingstydperk vir beweiding begin. Diere moet ook teen bloednier ingeënt word, waarna produsente kan begin om die skape vir beweiding op weimielies aan te pas.

’n Goeie duimreël om te volg is om daagliks vir jou skape ’n toenemende heelmielie-aanvulling te gee. Dit kan op die veld of op enige weiding wat in daardie stadium bewei word, plaasvind. Daar kan begin word met 100g/ooi/dag, en dit kan geleidelik oor die volgende dae na 800g/ooi/dag vermeerder word. Daarmee saam is dit noodsaaklik dat die skape ’n lek ontvang wat buffers (natriumbikarbonate) bevat. Sulke lekke is kommersieel beskikbaar. Dr Van Zyl sê indien produsente verkies om hul diere te laat wei sonder om die bogenoemde aanpassingsmetode vooraf te volg, moet hulle die daaglikse weidingsure tydens die eerste paar dae baie streng beperk, en dit daarna geleidelik verhoog. Die voorsiening van ’n ondersteunende lek is in hierdie geval ononderhandelbaar.

Beweiding van weimielies

Weimielies kan vanaf die eerste ryp in die herfs tot en met die eerste lentereëns bewei word. Dr Van Zyl se wenke vir die beweiding van weimielies sluit die volgende in:

  • Lammers moet minstens drie weke oud wees voordat daar met beweiding begin word, sodat die lammers genoeg tyd gegun is om ’n sterk band met hul moeders te vorm, en nie in die weimielies weg te dwaal nie. Soos wat hulle begin wei, sal die lammers stelselmatig by die hoë-energiedieet aanpas en behoort hulle nie suurpensprobleme te ontwikkel nie.
  • Goeie toesig, veral tydens die eerste twee weke van beweiding, is nodig om siek diere betyds te identifiseer en te behandel om vrektes te voorkom.
  • Bewei beperkte oppervlaktes op ’n slag om selektiewe weigewoontes en vertrappingsverliese te verminder. Indien die weidingsoppervlakte nie beperk word nie, sal die skape aanvanklik ’n hoë-gehalte rantsoen selekteer, wat algaande begin daal en diereprestasie gevolglik sal beperk. Tydelike of elektriese heinings kan gebruik word om weidings in kampe te verdeel.
  • Skuif diere oor na die volgende kamp wanneer die oppervlakte goed benut, maar nog nie oorbenut is nie. Daar moet nog graan beskikbaar wees, sodat diere nie honger na die nuwe kamp gaan en hulself daar oorvreet nie.
  • Nie-produserende skape kan as ‘oprapers’ gebruik word om ’n kamp verder skoon te vreet.
  • Maak waterbakke daagliks skoon, en voorsien genoeg drinkwater. Vars lek moet ook daagliks uitgesit word, met genoeg kripspasie sodat elke skaap voldoende lek kan inneem.

Proteïenaanvulling

Dr Van Zyl beveel aanvulling met proteïene aan, omdat weimielies (met ’n proteïeninhoud van ongeveer 8%) nie voldoende in die proteïenbehoefte van lakterende ooie of speenlammers voorsien nie. Lakterende ooie benodig voer met minstens ’n 12% proteïeninhoud, en groeiende speenlammers het 16% proteïene in hul dieet nodig om goeie produksie te realiseer. ’n Proteïenaanvulling deur middel van kombinasiegewasse of ’n proteïenbevattende lek is dus raadsaam wanneer skape weimielies benut.

Volgens dr Van Zyl het somergewasse soos soja-, dolichos- en swartbekbone (cowpeas), asook wintergewasse soos voerradyse, serradella, hawer en wieke almal ’n hoë proteïeninhoud, en kan dit suksesvol saam met weimielies as kombinasiegewas gebruik word om proteïentekorte aan te vul.

Skape is wel geneig om hierdie gewasse bo die mielies te selekteer. Met goeie bestuur soos die rantsoenering van weidingsoppervlaktes, kan dié probleem egter aangespreek word. Dit kan wel arbeidsintensief raak. ’n Proteïenaanvulling in die korrekte lek (’n kleinveewinterlek met bygevoegde buffers) is ’n makliker en meer praktiese oplossing as die gebruik van kombinasiegewasse. Sulke lekke is kommersieel beskikbaar, gewoonlik in ’n kombinasie met buffers.

Drakrag van weimielies

Volgens dr Van Zyl is daar ‘n noue verband tussen die drakrag van weimielies en graanopbrengste. Drakrag is aan ’n weidingstydperk gekoppel, omdat dit ’n dormante (nie-groeiende) voerbron is. Dit kom neer op min diere wat vir ’n lang tydperk wei, of baie diere wat vir ’n kort tydperk wei. Die getal skape wat aangehou word sal dan bepaal word deur die tydperk wat die voer benodig word.

Die algemene norm in hoë-reënvalgebiede is die volgende: een ton graan per hektaar = 1 000 skaapweidae per hektaar vir ’n kleinvee-eenheid van tussen 45 en 50kg, en 1kg mielies per skaap per dag wat toegelaat word. As ’n voorbeeld sal drie ton mieliegraan per hektaar genoeg wees om 3 000 skaapweidae per hektaar te bied.

Hierdie norm word in die droër, westelike mielieproduserende gebiede na 600 tot 660 skaapweidae per hektaar aangepas, indien mieliegraanopbrengste laer is.

Tabel 1: Drakrag teenoor die mielie-opbrengs en weidingstydperk. (Bron: Dr Erika van Zyl)

Mielie-opbrengsWeidingstydperk (KVE/ha/dag) en drakrag (KVE/ha)
30 dae60 dae90 dae
3t/ha1005033

* KVE = kleinvee-eenheid.

Van Zyl sê indien die waarde van wolproduksie op weimielies bygereken moet word, kan ’n produksie vir Merino-ooie van 10 tot 15g skoonwol per dag per ooi as norm gebruik word. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Erika van Zyl by 082 321 3960 of stuur ’n epos na erika.vanzyl@kzndard.gov.za of eavzyl@gmail.com.