Estimated reading time: 5 minutes
Nadat hy deur sy familie in Australië bewus geraak het van hoe boere daar feitlik sonder enige hulp van buite hul boerderye bestuur, en hoeveel praktiese maniere daar is om ’n mens se lewe makliker te maak, het Bertie Swanepoel besluit hy gaan dieselfde beginsels op sy plaas Zuurfontein in die Smithfield-omgewing toepas.
“Ek het altyd gewonder hoe die Australiese boere dit regkry om met baie min arbeid hul boerderye te bedryf, want hulle het 20 keer meer vee as ons. Dit het my gefassineer, juis omdat dit vir my lekker is om self met my vee te werk en self op die trekker te sit as die lande bewerk word. Ek wil self betrokke wees by elke faset van my boerdery.”

Vandag is sy boerdery tot ’n groot mate gemeganiseerd, en kry hy net arbeid in wanneer spesifieke groot take afgehandel moet word. Tipiese voorbeelde hiervan is skeertyd en wanneer troppe gedoseer en ingeënt moet word. Dan is dit handig om een of twee ekstra mense byderhand te hê.
Skraper en waterspuit
Verlede jaar tydens ’n boeredag met arbeidsbesparing as tema, het Bertie ’n omvattende reeks arbeidsbesparende implemente uitgestal. Volgens hom is een van die belangrikste implemente ’n skraper, wat met hidroulika werk en teen ’n wye verskeidenheid hoeke kan skraap. Afgesien van die paaie wat hy hiermee in stand kan hou, vorm dit ook deel van sy brandvoorkomingstrategie.

“Ek skraap baie kilometers met dié skraper, en omdat dit so verstelbaar is, kan ek sonder moeite oor die rante en deur slote skraap.”
Die tweede implement wat hy gedemonstreer het, was ’n waterspuit wat aan ’n reuse-watertenk op ’n wa gekoppel is.

“As hier ’n brand uitbreek, is my paaie geskraap. Dus kan ek vinnig met die watertenk daar kom, en met die kragtige spuit kan ek die vlamme baie ver blus.”
Eenrigtinghekkies in die drukgang
By veehantering is een van die opvallende innoverings die eenrigtinghekkies in die drukgang om te keer dat die skape in die drukgang agtertoe beur en die agterste skape dus onder geweldige druk plaas. Verder skakel dit die noodsaaklikheid uit om op en af langs die drukgang te hardloop om die skape aan die beweeg te kry.


“As die skape gedip word, weeg ons die skaap en dan spuit die korrekte hoeveelheid dipstof van onder af oor die skaap se maag tot tussen sy agterbene. Ek kan skape dus doseer of inent, en as ek klaar is, beweeg die skaap deur die dip sonder enige menslike inset,” vertel hy.
Skandering van ooie
Hy sê iets wat ontsettend baie arbeid bespaar en die proses bespoedig, veral as ooie geskandeer moet word vir dragtigheid, is ’n sogenaamde roteerder. “Die ooi kom in posisie in die drukgang en word dan aan ’n raam vasgeknyp en onderstebo gekeer sodat sy op haar rug lê, gereed vir die prosedure.

“Terwyl sy so onderstebo lê, word die volgende ooi solank vasgeknyp, en wanneer die eerste ooi weer teruggeplaas word op haar voete, word die tweede ooi onderstebo gekeer. As die ooie dan geskandeer is, is daar ’n drierigting-sorteerhek direk ná die roteerder in die drukgang, waar hulle volgens eenlinge, meerlinge of droog gesorteer word.”
Hantering van lammers
“Ons het ook ’n baie handige manier waarop ons vinnig en doeltreffend ons lammers kan hanteer met prosedures soos sterte sny, merk en kastrasie. Die lam word gevang en onderstebo op die raam geplaas sodat hy nie kan regop kom nie. So word hy dan aangeskuif op die raam, tot waar hy weer afgly en op sy pote te lande kom. Alles word op een slag gedoen.”
Bertie sê hy en sy gesin kan danksy sy skaaphanteringsgeriewe al die troppe skape hanteer sonder enige ander hulp. Die enigste ‘ander’ hulp waarsonder hy nie kan klaarkom nie, is skaaphonde. Hy kan sy twee seuns, wat elkeen ’n skaaphond het, in verskillende rigtings stuur om skaaptroppe te gaan haal. Sonder die skaaphonde sou dit heelwat meer mense geverg het.
Vir meer inligting, skakel Bertie Swanepoel by 083 256 9718.
