HomeMagazinesMeganiese veldherstel: Kies die regte ploeg vir die regte doel

Meganiese veldherstel: Kies die regte ploeg vir die regte doel

Estimated reading time: 8 minutes

  • Klimaatsverandering sal vorentoe ‘n al hoe groter rol speel in Suid-Afrikaanse veeboerderye se besluitneming.
  • Meganiese herstel is nodig om die veld en grond te verbeter.
  • Die eerste stap is om die hidrologie van die grond te herstel deur die harde grondkors te breek om sodoende die infiltrasieproses te verbeter.
  • Die meeste kaal gronde het ’n hoë kleipersentasie en ’n lae persentasie organiese materiaal. Dit het tot gevolg dat die grond baie verdig is en water wat wel op die grond is, baie moeilik penetreer. Die afloopreënwater vloei gewoonlik bo-oor die grond, omdat dit te dig is. As dit vasgevang kan word, sal dit wel stadig infiltreer.
  • Dis belangrik om die regte tipe ploeg te gebruik wanneer die grond meganies bewerk word. ‘n Vlekploeg is geskik vir kleigrond en ‘n happloeg vir sanderige grond.

Klimaatsverandering sal vorentoe ‘n al hoe groter rol speel in Suid-Afrikaanse veeboerderye se besluitneming. Volgens dr Louis du Pisani, ’n spesialis weidingkundige en beoordelaar in die jaarlikse Veeplaas Klimaatslim Ambassadeurprojek, blyk dit volgens reënvalsyfers dat landbougebiede genoeg reën kry, maar die reëndae minder geword het terwyl die neerslag swaarder geword het. Dit veroorsaak ’n wegloop van reënwater, met die gevolg dat elke druppel nie meer tel soos dit moet nie.

Swak beweidingspraktyke maak ook dat sommige veeplase se weiding al hoe minder word en die kaalkolle al hoe meer en groter. Watererosie kom al hoe meer voor en indringerbosse neem die plek van goeie weiding in. Hierdie skade, sê hy, kan nie meer met gewone weidingspraktyke herstel word nie en meganiese herstel moet eerder ingespan word om die veld te verbeter.

Lees meer oor laas jaar se Veeplaas Klimaatslim Boeredag hier.

Herstel van grond

Die vrugbare bogrond van hierdie kaal areas is deur die wind- en watererosie verwyder, dikwels tesame met oorbeweiding van die veld. Die klipharde bolaag maak die infiltrasie van reënwater onmoontlik, wat erosie en waterwegloop versnel. Die gevolg is dat daar plek-plek droë, harde kolle op die plaas is met min plek vir saailinge om te groei en die grond te herstel.

“Die eerste stap is om die hidrologie van die grond te herstel deur die harde grondkors te breek om sodoende die infiltrasieproses te verbeter. Die metodes wat gebruik kan word, hang van verskillende faktore af. Die belangrikste hiervan is die hardheid en dikte van die droë grondkors en die grootte van die area,” verduidelik hy.

As die areas klein genoeg is, kan die grondkors deur die diere se hoefaksie gebreek word. Hiervoor word ‘n groot klompie diere oor ’n kort tydperk gebruik. ’n Ander metode is om die area met tuinafval, hooi of verrotte kraalmis, wat vry van enige indringerspesies is, te bedek.

Die probleem kom egter in wanneer die areas te groot is. Dan moet daar na meganiese herstel gekyk word en hier is die happloeg en vlekploeg van groot waarde.

Wend ’n vlekploeg aan

Stefan Theron, ’n ingenieursgtegnikus by die Wes-Kaapse Departement van Landbou, sê hulle het in die verlede redelik navorsing hieroor gedoen en oor die algemeen is die vlekploeg ’n beter opsie as die happloeg, hoewel die happloeg meer funksioneel in sanderige grond werk.

“Die meeste kaal gronde het ’n hoë kleipersentasie en ’n lae persentasie organiese materiaal. Dit het tot gevolg dat die grond baie verdig is en water wat wel op die grond is, baie moeilik penetreer. Die afloopreënwater vloei gewoonlik bo-oor die grond, omdat dit te dig is. As dit vasgevang kan word, sal dit wel stadig infiltreer,” verduidelik hy.

Hy noem ook dat om takke op strategiese plekke te pak ten einde die wegvloei van die bogrond te keer en watererosie hok te slaan, goed kan werk, maar in sy ervaring kan stormwinde dikwels die takke op ’n hoop waai.

“Daarom is dit nodig om meganies in te tree. In die gebiede waar ek proewe gedoen het, was die grond altyd verdig en die happloeg kon nie die gronde penetreer nie. Dit maak gewoonlik net ’n blink streep of ’n vlak gat in die grond en dan is die kool nie die sous werd nie. Die vlekploeg is basies ’n skeurploeg (ripper) wat die grond diep penetreer.

“As gevolg van sy ‘vlerke’ gooi dit ’n wal aan beide kante. Hierdie walle vertraag dan eerstens die water se vloei en tweedens loop die water van die kant af in hierdie ploegvore in. Die water het nou meer tyd om die grond te infiltreer,” verduidelik hy.

In die praktyk

Piet Roux, Veeplaas se 2023 Klimaatslim Ambassadeur, gebruik al vir etlike jare hierdie metode om sy weiding te verbeter. In sy ervaring bied die vlekploeg meer waarde vir geld in sy kleigrond.

“Dit veroorsaak beter waterindringing in die grond asook beter vermenging van die boonste horisonne van die grond. Verder is die vlekploeg meer klipbestand, veral in areas waar daar groot klippe onder die grond is wat jy nie altyd raaksien nie. Klippe wat uitgeploeg word se gate dien ook as wateropgaarplekke,” sê hy.

Theron stem hiermee saam. Hy voeg egter by dat daar ook plekke is wat rotsagtig kan wees. Sy raad is om sulke areas te bedek met takke, grassnysels of ander organiese materiaal wat vasgepak moet word, sodat dit nie wegwaai of wegspoel nie.

Volgens Theron is die enigste nadeel van die vlekploeg dat dit wel effens duurder is as die happloeg en jy ’n groter trekker nodig het, maar die resultate is beter. Die vlekploeg is dus meer koste-doeltreffend.

Gebruik ’n happloeg

Die happloeg is meer geskik vir sanderige grond. Die ploeg is so ontwerp dat dit nie met die driepunt op of af hoef te sak nie. ’n Off centre-wiel lig die ploeg uit die grond en laat sak dit weer outomaties. Hierdie wiel veroorsaak heelwat slytasie op die driepunt en daar kan ook nie vinnig gewerk word nie.

Die happloeg wat Roux gebruik trek baie lig, maar sukkel om in harde grond in te gaan en is nie geskik vir klipperige grond nie. Dit verseël wel die grond goed, maar die grond is in elk geval reeds geseël deur ‘n hoë persentasie klei en die lae persentasie organiese materiaal. Die probleem word dus nie deur die happloeg veroorsaak nie.

Wenke vir veldverbetering deur meganisasie

Theron deel ’n paar nuttige wenke met produsente wat hul veld met behulp van meganisasie wil verbeter:

  • Die ploegwerk moet ten minste 30cm en dieper wees, anders sal die ploegvore met die eerste reën weer toegaan.
  • In sandgrond moet die boonste laag van die bogrond gebreek word en die voor moet ten minste 30cm diep wees.
  • Ploeg ’n trekkerbreedte uit mekaar, loodreg met die vloei van die water. Die water hardloop in die ploegvore se walle vas en so word die water se spoed gebreek en versprei dit in die vore in. Die ploegvore moet verkieslik nie langer as 10m wees nie. Die openinge tussen die ploegvore moet in verband (soos ’n baksteenmuur) gedoen word; met ander woorde, die een opening se water hardloop in die volgende een se wal vas.
  • Dit is ook nuttig om die kleiner area met organiese materiaal te dek om die vog te behou en ’n mikroklimaat en saadbed te skep.
  • Op sandgronde waar die wind geneig is om te waai, kan nette loodreg tot die heersende windrigting gespan word.
  • Sommige produsente saai ook saad in die vore. Maak seker dit is saad wat eie is aan die area. ’n Goeie gemiddeld is 3 tot 5kg saad/ha. Verseker dat die mengsel pionierspesies bevat en saai die saad na die eerste reën van die reënseisoen. Moenie die saad strooi nie, want op dié manier gaan baie saad verlore. Moet ook nie die saad met grond bedek nie. Proewe het getoon daar is gewoonlik slegs vier spesies wat vestig.
  • As dit groot kaal kolle is wat jy wil herstel en jy wil nie geld spandeer aan saad nie, begin dan om al teen die gevestigde plantegroei langs te ploeg. Die natuurlike saad van die omgewing sal self in die vore versprei. Sodra hierdie vore met plante gevestig is, kan daar weer aan die binnekant langs geploeg word.
  • Indien moontlik, moet hierdie gebied afgespan en vir ten minste drie groeiseisoene van beweiding onttrek word, sodat die saailinge kan vestig. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778, Stefan Theron by 082 907 2801 of Piet Roux by 073 161 4615.

Must Read

Swellendam-skou gaan van krag tot krag

Estimated reading time: 6 minutes Hierdie jaar het die Swellendam-skou 'n merkwaardige 192ste viering beleef. Dié skou spog met die grootste streekjeugskou in die...