Diversifisering word algemeen aanvaar as ’n strategie om die risiko in landbou te beperk. In hierdie verband behoort voerkraalafronding ’n permanente integrale deel van ’n skaapboerdery te vorm om die risiko te verlaag.

Dit word algemeen aanvaar dat waardetoevoeging tot die produk (die lam) wat geproduseer word, ononderhandelbaar is om maksimum wins te genereer. Een manier om waarde toe te voeg, is die afronding van selfgeproduseerde speenlammers in ’n geleentheidsvoerkraal vir die slagmark.

Die afronding van goeie gehalte speenlammers in ’n voerkraal met die korrekte voerkraalrantsoene, kan die winsgewendheid van skaapboerdery betekenisvol verhoog. Om lammers wat kruipvoeding ontvang het vroeg te speen (op die ouderdom van 56 tot 84 dae) en hulle dan in ’n voerkraal af te rond, is ’n bestuurshulpmiddel om skaapboerdery vertikaal uit te brei, aangesien 25 tot 30% meer ooie dan aangehou kan word.

Radio: Voerkraal-vereistes vir skaap-aankoop

Voordele van vroegspeen

Vroegspeen bied ooie die geleentheid om die gewig wat hulle gedurende laktasie verloor het, voor die volgende paarseisoen te herwin, wat weer die daaropvolgende lampersentasie verbeter.

Speenlammers kan óf direk in ’n voerkraal afgerond word óf wanneer goeie gehalte aangeplante weiding beskikbaar is, kan hulle tot ongeveer 38kg op die weiding loop en dan vir ’n kort tydperk (drie tot vier weke) voor bemarking finaal in ’n voerkraal afgerond word.

Die doelwit met die afronding van speenlammers in ’n voerkraal is om staandae in die voerkraal met maksimum groei so min as moontlik te maak, asook voeromset te verbeter deur die voer van voerkraalrantsoene met ’n baie hoë deurvloei-aminosuur- en energie-inhoud. Die doel moet altyd wees om die lammers se volle genetiese groeipotensiaal in die voerkraal te ontsluit.

Winsgewende afronding

Voerkraalrantsoene van hoë gehalte wat volgens die nuutste tegnologiese beginsels geformuleer is, is ’n voorvereiste om te verseker dat lammers hulle maksimum genetiese groeipotensiaal bereik. Die voerkoste verteenwoordig ongeveer 60 tot 75% van die kostes (koopprys uitgesluit) van elke kilogram vleis van ’n intensief-gevoerde lam.

Nog ’n voorvereiste is jong, gesonde en goed uitgegroeide speenlammers, verkieslik kruislammers omdat hulle beter presteer as suiwer lammers. Die koopprys van die slaglam vorm sowat 65 tot 75% van die totale koste om die finale karkas te produseer. Daarom is dit belangrik dat die regte dier teen die regte prys gekoop word.

Die voerkraal moet baie goed bestuur word. ’n Skaapvoerkraal verg baie meer kundigheid, asook ’n baie hoër bestuursvlak en bestuursinsette, as ’n vleisbees-voerkraal en die vlak daarvan is meer vergelykbaar met dié van ’n melkery. Skape is ook meer vatbaar vir stres, wat hulle meer vatbaar maak vir siektes en hul prestasie in die voerkraal negatief beïnvloed.

Tipe voerkraalrantsoene

Met die ontstaan van voerkrale was die doelwit vroeër om die goedkoopste voerkraalrantsoene te formuleer. Mettertyd het die klem verskuif na die laagste voerkoste per kilogram lam geproduseer. Tans word voerkraalrantsoene nie net geformuleer vir maksimum groei met die minste staandae in die voerkraal nie, maar ook om die hoogste wins bo voerkoste te verseker.

Hoewel lammers op so vroeg as 56 tot 70 dae ouderdom gespeen kan word, mits hulle minstens 25kg weeg, is die aanbeveling dat met kruipvoeding in die voerkraal voortgegaan word tot hulle 35kg weeg. Dit is omdat lammers tot op ongeveer 35kg baie hoë vlakke van deurvloeiproteïen benodig vir optimale groei en spierontwikkeling. Nadat hulle die gewig bereik het, kan na ’n groeirantsoen of soms direk na ’n afrondrantsoen oorgeskakel word.

Proteïeninhoud

Soos lammers se groeitempo toeneem, moet die rantsoen se proteïeninhoud ook toeneem. Lammers het ’n behoefte aan spesifieke essensiële aminosure vir groei eerder as deurvloeiproteïen. Die meeste plantproteïen is ongebalanseerd wat die benodigde essensiële aminosure vir spiergroei betref. Voerkraalrantsoene moet dus verkieslik op grond van essensiële deurvloei-aminosure geformuleer word om uitstekende voerkraalprestasie te verseker.

Energie-inhoud

Voerkraalrantsoene se energie-inhoud moet so hoog as moontlik wees om die lammers se genetiese groeipotensiaal te ontsluit en om die staandae te verkort. Maksimum doeltreffendheid sal bereik word indien diere soveel as moontlik energie, so vinnig as moontlik, inneem wat beide die voeromsetverhouding (VOV) en groeitempo verbeter. Hoe laer die energie-inhoud van die rantsoen is, hoe meer moet die lam vreet om sy genetiese groeipotensiaal te ontsluit en hoe swakker is sy voeromset gevolglik.

Ruvoer

Lusernhooi is die ruvoer van keuse vir voerkraalrantsoene aangesien dit smaaklik en hoogs verteerbaar is en sodoende hoë innames verseker. Ander voordele van lusern is dat dit hoog in proteïen en kalsium is, terwyl dit ook goeie buffereienskappe in die grootpens het.

Minerale en spoorminerale

Voerkraalrantsoene moet ’n optimum en gebalanseerde vlak van minerale, spoorelemente en vitamiene voorsien vir ’n hoë groeitempo en goeie voeromset, asook ’n sterk immuunstelsel vir hoë weerstand teen siektes. Spoorelemente is uiters belangrik vir optimum diereprestasie omdat tekorte lammers se groei betekenisvol verlaag, veral selenium-, koper-, kobalt- en jodiumtekorte.

Medikamente

Voerkraalrantsoene moet sekere medikamente bevat om die beste groei en voeromset te verseker. Die groeitempo van lammers is baie nou verwant aan voeromset en dus sal enige middel wat die voeromset verhoog, ook die groeitempo verhoog. Dit is belangrik om daarop te let dat hoe duurder hoë gehalte grondstowwe word, hoe belangriker raak die gebruik van groeibevorderaars (bv. ionofore) en groeistimulante vir die beste voeromset en maksimum wins.

Ideale tipe lam

Die ouderdom, gehalte en genetiese potensiaal van die lammers wat afgerond word, het ’n groot invloed op hulle biologiese prestasie en die winsgewendheid van afronding. Navorsing deur die Australiese Departement van Landbou toon dat die doeltreffendste lammers in hul ondersoek ’n VOV van 2,2:1 gehad het, terwyl die ondoeltreffende lammers se VOV 15:1 was met ’n gemiddeld van 6,3:1. ’n Groot variasie bestaan dus binne dieselfde groep.

Die fisiologiese vermoë van ’n lam om voer na vleis (spiergroei) om te sit, is afhanklik van sy ouderdom. Hoe jonger die lam, hoe beter en doeltreffender is sy biologiese prestasies in terme van groeitempo en voeromset en dus is dit meer betalend om hom af te rond.

Die ideale lam om ’n hoë groeireaksie te verseker, is ’n gesonde lam (’n swak boepenslam presteer nie), ’n jong en goed uitgegroeide lam van twee tot drie maande met ’n dun vetlaag en ’n groot karkas (lewende gewig van 25 tot 28kg), en ’n lam wat oor ’n hoë groeipotensiaal beskik. Kruislammers presteer beter as suiwer lammers weens hul basterkrageffek. Normaalweg presteer vleiswoltipes beter as suiwer woltipes en tipes wat geneig is om oormatig vet aan te sit omdat dit meer energie as spiergroei vereis.

Bestuursfaktore wat diereprestasie kortwiek

  • Onvoldoende of swak aanpassing op voerkraalrantsoene kan diereprestasie nadelig beïnvloed. Dit is baie belangrik om lammers stadig en geleidelik op die betrokke voerkraalrantsoen aan te pas om laminitis, suurpens (asidose) en moontlike vrektes te voorkom.
  • Dit is belangrik om te besef dat ad lib-voeding nie altyd maksimum voerinname verseker nie. Diere wat meer gereeld kos kry, sal geneig wees om meer te vreet as diere wat slegs een of twee voedings per dag kry. Vars voer moet verkieslik minstens drie keer per dag voorsien word en lammers moet verkieslik nooit langer as twee tot drie ure sonder voer wees nie.
  • Te hoë persentasies ruvoer in voerkraalrantsoene. In ’n ondersoek waar lammers op lusernhooi alleen afgerond is, was die uitslagpersentasie 39,9%, teenoor 43,6% toe die afrondingsrantsoen 66% lusern bevat het. Waar voerkraalrantsoene ’n hoë deurvloeiproteïeninhoud gehad het en minder as 15% lusern bevat het, was die uitslagpersentasie meer as 50%.
  • Onvoldoende skaduwee en skuiling kan die gemiddelde daaglikse toename (GDT) met 30 tot 50% in ongure weer laat daal. Voldoende skaduwee (±1,0m2/lam) moet daarom in warm (> 28°C) en skuiling in koue, nat winderige weerstoestande voorsien word.
  • Die vervoer van lammers oor lang afstande na die voerkraal het gewigsverlies tot gevolg. Hoe verder die afstand, hoe meer gewig verloor hulle.

 Samevatting

’n Geleentheidsvoerkraal bied die produsent die opsie om tydens swak weidingstoestande of droogte periodiek sy lammers in ’n voerkraal af te rond. Daarenteen kan ’n produsent die praktyk van voerkraalafronding van lammers ook voltyds by sy skaapboerdery inskakel omdat dit hom die geleentheid vir vertikale uitbreiding van sy skaapvertakking bied.- Dr Jasper Coetzee

In die volgende uitgawe word gefokus op die optimale uitgroei van jong ooie om ’n hoogs produktiewe en reproduktiewe ooikudde te verseker.

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY