Tuesday, December 16, 2025
HomeAdvertorialsAfronding van lammers op aangeplante weidings: Belangrike beginsels van leksamestelling

Afronding van lammers op aangeplante weidings: Belangrike beginsels van leksamestelling

Estimated reading time: 6 minutes

As deel van sy skaapvoedingnalatenskap het wyle dr Jasper Coetzee in ‘n artikel verwys na verskeie faktore wat veeprestasie op groenweiding affekteer. Dit sluit in die weiding se voginhoud, beskikbaarheid, hoogte, verteerbaarheid, en vele meer.

Die gevolg van al hierdie moontlike veranderlikes is dat resultate dikwels teleurstel wanneer lammers op groenweidings afgerond word, al is die weidings hoe goed. Baie van die slaggate wat hy uitlig, kan egter met goeddeurdagte voeraanvullings (lees ook lekke) aangevul word. Hierdie artikel fokus op die basiese beginsels wat by goed-saamgestelde groenweidingsvoeraanvullings geld.

Die beginsels van lekke

Min mense besef dit, maar die hoofdoel van lekke is om die benutting van ruvoer te optimaliseer. Lekke fokus dus eerste op die behoeftes van die ruvesel-verterende mikrobes in die rumen, aangesien dit hulle is wat die ruvoer moet verteer. Volgende, en basies ’n bonus, word die dier self se behoeftes aangespreek, afhangend van kondisie en produksiestadium. Die hoofdoel is egter altyd die maksimale ontsluiting van ruvesel se voedingswaarde. Die omskakeling van ruvoer in voedingstowwe wat deur mense benut kan word, is tog waarom herkouers so belangrik vir die mensdom is.

Talle elemente werk saam om ’n groenweidingslek goed te laat funksioneer. Sommige is ’n moet terwyl ander opsioneel is. Opsionele komponente maak lekke duurder, maar verbeter doeltreffendheid. Die vraag is of die ekstra koste wat aangegaan word ekonomies regverdigbaar is? Hier moet produsente hul huiswerk baie goed doen.

Fosfor (’n moet)

Bemeste groenweiding bevat meer fosfor as Suid-Afrikaanse veldweidings wat groot fosfortekorte toon. Lammers wat afgerond word moet hard werk en dit maak aanvulling van fosfor onontbeerlik. Met fosfor-aanvulling word die volgende produksie-fasette aangespreek:

  • Beter ruvoervertering, aangesien veselverterende rumenmikrobes genoeg fosfor moet kry om optimaal te funksioneer. Hoe meer rumenmikrobes daar is, hoe meer mikrobiese proteïen word gevorm. Dit is die beste bron van proteïen wat lammers kan kry.
  • Beter interne benutting van energie deur die lam self.
  • Meer doeltreffende natuurlike bufferaksie in die rumen, aangesien fosfate in die speeksel help met die beheer van suurpens.
  • Voldoende skelet- en membraanvorming sodat die raam baie vleis kan dra.

’n Lam wat vinnig groei, gaan tussen 3 en 5g fosfor/dag benodig, wat ’n redelike hoeveelheid is. Vir perspektief: ’n Lam wat ad lib op tef wei, sal daagliks tussen 2 en 3g fosfor inneem, waarvan omtrent net 65% vir die dier beskikbaar is.

Swael (’n moet)

Swael is nodig sodat rumenmikrobes die boublokkies vir proteïensintese uit nie-proteïen-stikstof (NPN)-bronne kan vervaardig. Aangesien ’n aansienlike gedeelte van weidingsgewasse se totale proteïen uit NPN-agtige proteïen bestaan, is swaelaanvulling onontbeerlik vir herkouers op goeie weiding om die beskikbare proteïen maksimaal te benut. Swael help ook in die voorkoming van blousuuropblaas, wat in sekere tye van die jaar baie algemeen op groenweidings kan wees.

Magnesium (’n moet)

Magnesium word vir meer as 300 metaboliese reaksies benodig. Hierdie aksies hou verband met die dier se energieproduksie, wat beteken dit is uiters belangrik vir groei.

Twee potensiële probleme met magnesiummetabolisering staan egter uit.

Eerstens, hoe beter, jonger en sappiger weidings is, hoe minder raak magnesium beskikbaar vir absorpsie deur die dier.

Die liggaam laat nie veel ruimte toe vir wisselende magnesiumbloedvlakke nie, wat veroorsaak dat diere baie gou hipomagnesemie of grastetanie (grass staggers) kan ontwikkel indien vlakke te laag raak. Dit sal produksie negatief raak en kan selfs tot vrektes lei.

Verder onderdruk hoë kaliumvlakke die absorpsie van magnesium. Veral op aangeplante, besproeide weidings bou kalium altyd oor tyd op, wat daarop neerkom dat magnesiumaanvulling, as ’n veiligheidsfaktor, eintlik meer moet wees as net wat die dier benodig.

Kalsium (moet?)

Minder klem word meestal gelê op kalsium by groenweidingslekke as die voorafgaande makrominerale. Genoeg kalsium is egter baie belangrik as gevolg van die bydrae wat dit tot skeletontwikkeling maak. Verder speel dit ook ’n groot rol by spiersametrekking en die vrystelling van insulien. Insulien is uiteraard baie belangrik vir optimale groei. Pas egter op vir te veel kalsium, aangesien dit ’n paar van die mikrominerale kan bind en onopneembaar maak.

Energie (semi-opsioneel)

Goeie weidings het altyd die probleem van ’n hoë voginhoud, wat veroorsaak dat diere vol voel voordat hulle genoeg droëmateriaal kon inneem. Hoe beter die weidings, hoe groter die probleem, aangesien die baie vog ’n geïnduseerde energietekort veroorsaak, al bevat die weiding teoreties genoeg energie.

Vir beter groei moet goeie weiding dus meestal met energie aangevul word. Ek noem dit semi-opsioneel, aangesien die produsent die keuse het van hoeveel energie aangevul gaan word (hoeveelheid lek).

Dit sal bepaal word deur hoe haastig afronding moet geskied. Hoe meer lek, hoe vinniger behoort lammers te groei, mits die lek deurdag saamgestel is met die oog op hoë innames.

Gehalte proteïen (’n moet)

Groenweidings bevat normaalweg hoë vlakke van proteïen, maar die gehalte van die proteïen is nie van die beste nie.

Om optimale groei en rumenwerking van afrondlammers te verseker, moet die lek goeie gehalte verbyvloeiproteïen, in die vorm van byvoorbeeld oliekoekmeel, bevat. Maak egter seker dat die bron hieraan voldoen, aangesien nie alle oliekoekmeel genoeg goeie gehalte verbyvloeiproteïen bevat nie.

Mikrominerale (’n moet)

Aanvulling van mikrominerale is noodsaaklik vir produserende diere, soos afrondlammers, om optimaal te groei. Weiding skiet meestal tekort aan mikrominerale soos selenium, sink, mangaan en koper, wat baie belangrik vir optimale gesondheid is. Verder is jodium belangrik, terwyl hoër as tradisionele vlakke van kobalt veselvertering deur die rumenmikrobes aansienlik kan verbeter.

Vitamiene (opsioneel)

Hoë-gehalte groenweiding bevat meestal genoeg vitamien A en E. Met groenweidingsaanvulling word dus oor die algemeen minder klem op hierdie twee vitamiene geplaas. Aandag aan hierdie vitamiene raak egter progressief belangriker soos die gehalte van weidings afneem.

Ionofoor (opsioneel)

Die byvoeging van ’n ionofoor by ’n groenweidingslek het oor die algemeen ’n 10% verbetering in groei tot gevolg.

Dit maak ’n lek duurder as die standaardopsies, maar die respons is groot teenoor die ekstra insetkoste. Die werking van ’n ionofoor, asook ander voordele, kan as volg opgesom word:

  • Verhoog energieproduksie van die verteerde ruvoer as gevolg van meer gefokusde mikrobe-werking.
  • Verbeter die verbyvloeiproteïenproduksie van die rumenmikrobes.
  • Verminder opblaas.
  • Help om koksidiose te onderdruk.

Buffer (opsioneel)

Hoe sappiger en meer verteerbaar die weidings, hoe groter die suurpensprobleme. Die hoofoorsaak is dat goeie weiding baie maklik verteer, sodat diere minder het om te herkou. Gevolglik word minder speeksel afgeskei; speeksel bevat koeksoda wat een van die herkouer se natuurlike metodes is om suurpens te bestuur. Mis wat baie los is, is gewoonlik ’n teken van suurpens op goeie weidings.

Die eerste stap in sulke omstandighede is om 100 tot 150g robuuste/growwe vesel, soos strooi of ’n grasgewas, in die lammers te kry om herkou te stimuleer. Verder kan ’n buffer by die lek gevoeg word om die rumen te help buffer. Indien suurpens ’n groot probleem is, sal die bykomende bufferbenadering beslis ekonomies wees. – Sjoerd ten Cate, voedingkundige, Feedtek

Vir meer inligting, kontak Sjoerd ten Cate by 082 380 2334 of stuur ’n epos na info@feedtek.co.za.

Feedtek logo

Must Read

Chubby Chick skietvoorval – tweede direkteur sterf

Estimated reading time: 6 minutes Deon Fourie, mede-direkteur van Chubby Chick in Potchefstroom, is vanoggend (14 Desember) in 'n Gauteng-hospitaal oorlede. Die nuus is deur...