Estimated reading time: 5 minutes
- Dierevoeding gaan oor die verskaffing van voedingstowwe in die regte hoeveelheid, vanaf die regte bron en op die regte tyd. Maar wat is die regte manier om minerale en vitamiene aan te vul?
- Dr Willem Schultheiss, Ceva Dieregesondheid se sake-eenheidsbestuurder vir herkouers, varke en troeteldiere, sê produsente moet hulself vergewis deur die plek en rol van verskillende vitamiene en minerale beter te verstaan om so hul diere se gesondheid te verbeter.
- Fosfaataanvulling is noodsaaklik vir groei en reproduksie in vleisbeeste op ekstensiewe veld – veral op fosfaat-arm gronde soos dit meestal die geval is in Suid-Afrika.
- Moenie onnodige mikro-elemente vir diere voer nie; hulle kan vergiftig word as hulle te veel van sekere mikro-elemente sou inneem.
- Johan Mouton, Molatek se navorsings- en produkontwikkelingsbestuurder, sê daar is nie ’n enkele toedieningsmetode wat reg of verkeerd is nie. Lekke en inspuitings moet eerder in kombinasie gebruik word, omdat hulle mekaar ondersteun.
Dierevoeding gaan oor die verskaffing van voedingstowwe in die regte hoeveelheid, vanaf die regte bron en op die regte tyd. Maar wat is die regte manier om minerale en vitamiene aan te vul? Moet dit oraal ingeneem word soos in ’n lek of drinkwater? Dalk ’n inspuiting? Of eerder ’n kombinasie van die twee?
Die een ding wat met sekerheid gesê kan word, is dat produsente liefs nie antwoorde op hierdie komplekse vraag op sosiale media moet soek nie, sê JW van Niekerk, ’n voedingkundige van Trouw Nutrition. Dit is beter om jou na spesialiste te wend.
Dr Willem Schultheiss, Ceva Dieregesondheid se sake-eenheidsbestuurder vir herkouers, varke en troeteldiere, sê produsente moet hulself vergewis deur die plek en rol van verskillende vitamiene en minerale beter te verstaan om so hul diere se gesondheid te verbeter. “ ‘n Gesonde rumen wat goed funksioneer produseer voldoende vitamien B en K via rumenmikrobes. Aanvullings is eers nodig wanneer die rumenfunksie afwyk van sy normale funksionering.”
In die geval van vitamien A is ’n inspuiting op strategiese tye ideaal, omdat die lewer hierdie vitamien vir net ongeveer drie en ses maande in beeste en skape onderskeidelik berg. Selenium- en vitamien A- en E-aanvullings kan weer met die aanvang van die droëtydperk by hoogproduserende melkbeeste, groot voordele inhou.
Genoeg kalsium (Ca) moet uit die skelet van ’n dragtige dier teenwoordig wees om dié mineraal daaruit te onttrek. “Dit is waarom anioniese soute in die opstoomrantsoen of aanvulling – bykomend tot die Ca in die dieet – vanaf drie weke voor kalwing gegee word.”
Lees meer oor die rol van ureum in veevoeding hier.
Weiding gee leiding
Goeie weidingsbestuur en die optimale aanwending van weidings is die eerste stap tot winsgewende herkouerproduksie. “Die dier se produksiestadium asook die weiding wat beskikbaar is, sal die aanvullingsprogram bepaal,” sê Van Niekerk en voeg by dat die dier se laktasie-, groei-, speen- en reproduksiebehoeftes met spesifieke byvoeding gepaardgaan.
“Die bydraes van weidingskonsultante asook voedingkundiges is nodig vir die beste voervloeibeplanning wat op alle stadiums aan produksiebehoeftes voldoen.”
Dr Schultheiss sê aangesien magnesium nie vrylik uit groen gras beskikbaar is nie, moet dit aangevul word indien diere op groen, aangeplante weiding loop – veral as die weiding se kalium (potas)-konsentrasie hoog is.
Fosfaataanvulling is noodsaaklik vir groei en reproduksie in vleisbeeste op ekstensiewe veld – veral op fosfaat-arm gronde soos dit meestal die geval is in Suid-Afrika. “Skape hersirkuleer fosfaat doeltreffend en het nie dieselfde behoefte as beeste nie,” sê hy en voeg by dat fosfaatlekke uiters doeltreffend is.
Van Niekerk beveel aan dat die internasionale voedingsindeks (NRC) ingespan word om produsente te rig rakende die voedingsbehoeftes van hul spesifieke diere. “Dit is die internasionale goue standaard en alle voermaatskappye sal dit as basis vir die uitwerk van rantsoene gebruik.”
Dit is haas onmoontlik om elke dier individueel te voer en daarom moet elke produsent eerder kyk na uitdagings vir sy spesifieke omgewing of kudde. “Maak ook seker wat die uitdagings (soos vrugbaarheid) in jou kudde is en laat dit die gesprek lei,” sê Van Niekerk.
Maak seker oor die bron van die mikro-element omdat nie alle elemente se chemiese vorms ewe geredelik beskikbaar is vir opname nie. Weereens is ’n kundige voedingspesialis se raad onontbeerlik.
As voorbeeld noem dr Schultheiss dat jodium in seesout voorkom en daarom is dit beter om seesout, eerder as goedkoper, lae-graadse pansout, te gebruik.
Antagoniste en oordaad
Moenie onnodige mikro-elemente vir diere voer nie; hulle kan vergiftig word as hulle te veel van sekere mikro-elemente sou inneem.
“Yster en swael is twee bekende antagoniste wat die absorpsie van minerale kan belemmer,” sê Van Niekerk. Daarmee saam kan antagoniste in die waterbronne skuil.
Skape en kalwers het veral ’n lae toleransie vir té hoë vlakke van Cu en daarom moet dit nie lukraak aangevul word nie.
Dr Schultheiss beklemtoon dat drinkwater ook minerale kan voorsien, soms selfs oormatig, soos in die geval van te veel Ca in harde water. Waterbronne moet verkieslik jaarliks getoets word vir onder andere die mineraalinhoud daarvan.
Lek, spuit of kombinasie?
Johan Mouton, Molatek se navorsings- en produkontwikkelingsbestuurder, sê daar is nie ’n enkele toedieningsmetode wat reg of verkeerd is nie. Lekke en inspuitings moet eerder in kombinasie gebruik word, omdat hulle mekaar ondersteun. “As ’n reël behoort produsente so twee keer per jaar voor dek- en kalf/lamtyd in te spuit.” Verder kan ’n onderhoudsaanvulling deur middel van ’n lek gegee word.
Van Niekerk stem saam, maar voeg by dat sommige vitamiene slegs in spuitvorm doeltreffend is, omdat sekere bronne van vitamiene deur die son vernietig kan word. “Hoe gereeld moet die produsent inspuit? Ek sou sê daar moet tydens hoë stres- en produksietye gespuit word.”
Hy sê dit is wensdenkery om te verwag dat alles met ’n enkele spuit reggeruk sal word en beveel aan dat voer en inspuitbare vorms beslis strategies aangevul word. – Susan Marais, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak JW van Niekerk by jw.vanniekerk@trouwnutrition.com.