Teen dié tyd behoort ons al met bewondering na bosluise kyk, aangesien hulle so vernuftig aangepas is om jaar na jaar suksesvol hul verskyning te maak. Ongelukkig kan hul teenwoordigheid goeie én slegte nuus beteken.

Kom ons begin by die goeie nuus. Bosluise se werk in die natuur is om van swak diere, wat die genepoel van enige kudde sal benadeel, ontslae te raak. Waar die mens nie ingemeng het nie, sal bosluise summier hierdie swakker diere, veral tussen die ouderdom van 12 tot 18 maande, as prooi uitsnuffel, in massas op hulle klim en hulle uit die genepoel verwyder.

Hierdie swakker diere het gewoonlik inherent ’n swak weerstandigheid teen bosluise of is nie in staat om ’n behoorlike immuunreaksie op te bou nie. Onder gunstige toestande kan ’n produsent van hierdie tekens gebruik maak om sy kudde so ’n bietjie meer bosluisweerstandig te maak deur te let op beeste wat in dieselfde kamp wei en baie meer bosluispassasiers as hul maats oplaai en rondry, en hierdie diere dan uit ’n teelprogram te hou.

’n Gevaarlike bondgenootskap

Om bosluise verder met die uitsorteer van swakker diere te help, het hulle stilletjies ’n bondgenootskap met geniepsige maatjies gesmee. En hier begin ons met die slegte nuus! Hierdie maatjies (patogene) steek hulle koppe uit as bosluisoorgedraagde siektes.

Hulle kan glad nie sonder die hulp van ’n bosluisdraer oorleef nie en maak gebruik van ’n bose, amper onstuitbare, kringloop om van bosluis na gasheerdier en terug te “pendel”, en in beide die bosluisdraer en bosluisgasheer heerlik te vermeerder.

In die geval van bloubosluise (eengasheerbosluise), wat onder andere patogene dra wat rooiwater in beeste veroorsaak, verkry die bosluiswyfie die bloedparasiet van ’n draer-gasheer wanneer sy haar tot barstens toe vergryp aan ’n bloedmaal.

Oordrag van larwes

Die bloed-patogeen, in hierdie geval Babesia spp, vermenigvuldig dan in die gevoede bosluiswyfie, en word in sommige van haar bosluiseiers ingesluit. Larwes wat uit die eiers broei, voed weer op ’n volgende gasheer, sodat rooiwater na hierdie nuwe gasheerdier oorgedra word.

Die hoeveelheid larwes wat so ’n maatjie oordra, hang hoofsaaklik af van die besmettingsvlak van die gasheerdier waarop die moederbosluis gevoed het. Dit kan wissel van 0 tot 50% of meer van die larwes. In die voorbeeld van bloubosluise word van transovariële oordrag van die patogeen gepraat.

Hartwater, wat weer bontbosluise (driegasheerbosluise) se bondgenoot is, word van een stadium van die bosluis na die gasheerdier oorgedra en van die gasheerdier na ’n volgende stadium van die bosluis, wat weer ’n volgende gasheer moet uitsnuffel en dan die hartwater-patogeen aan die nuwe gasheer oordra. Dus kan die patogeen binne een lewensiklus van die bosluis na verskillende diere oorgedra word. Dit staan bekend as transstadiale oordrag van die patogeen.

Opbou van immuniteit

Die gasheerdier se verhaal in hierdie geval is dat jong diere tot om en by nege maande beskerm word deur die immuniteit wat van die moeder oorgedra word in gebiede waar die bosluisdraer en patogeen saam voorkom, maar daarna moet hulle eintlik periodiek aan die patogeen blootgestel word om hul immuniteit te behou. Dus is die teenwoordigheid van ’n bosluisdraer in die veld wel nodig.

Ernstige uitbrekings van siektes kan egter voorkom by beeste wat uit ’n gebied waar die patogene nie voorkom nie, oorgeplaas word na ’n gebied waar hierdie bosluise en hul geniepsige maatjies vir hulle lê en wag. Dieselfde geld ook andersom, wanneer besmette beeste na gebiede geneem word waar rooiwater of hartwater nie voorkom nie.

Dit maak die besluit oor bosluisbeheer soveel moeiliker – of bosluise en hul maatjies moet totaal uitgeroei word sodat die oorgedraagde siektes in die kiem gesmoor kan word, of daar moet ’n sekere lading bosluise op beeste toegelaat word om die immuniteit van die beeste in stand te hou. Eersgenoemde is feitlik ’n saak van onmoontlikheid, so ’n produseerder se lot is om na die beste van sy vermoë saam met bosluise te oorleef. –Ellie van Dalen

Vir meer inligting oor bosluisweerstandbiedendheidstoetsing, kontak Ellie van Dalen van die Pestisied Weerstandbiedendheidstoetsfasiliteit by die Departement Dierkunde en Entomologie aan die Universiteit van die Vrystaat by vdalenem@ufs.ac.za of 083 388 5539.

 

Bosluise en hulle streke: Oorlewing in ’n wrede wêreld

Bosluise en hulle streke: Kieskeurige bloedvreters

Bosluise en hulle streke: Moederliefde?

Bosluise en hulle streke: Speurders van formaat

NO COMMENTS

LEAVE A REPLY