In ‘n vorige artikel, het ons gesien dat baie bosluisspesies ’n uiters kieskeurige voedingspatroon het en dit laat ’n mens onwillekeurig wonder waarom dit so is. Die antwoord is eintlik eenvoudig. Die regte plek op die regte gasheer gaan die mees geskikte paringsmaat en bloedmaal voorsien om vir die optimale voortplantingspotensiaal te sorg.
Die hoeveelheid en gehalte van die bloed wat bosluise inneem, kan bepaal hoeveel eiers geproduseer gaan word, wat die grootte van die eiers sal wees en selfs hoe suksesvol die larwes wat uitbroei sal oorleef. Die mamma-bosluis moet dus seker maak dat sy na die beste van haar vermoë voorsiening maak vir die gebroedseltjies wat sy later alleen op hul eie gaan laat om vir hulself te sorg.
Eers moet sy ’n pappa nader gehark kry en hier kom sy voor die uitdaging te staan om die regte “maatjie”, oftewel dieselfde spesie bosluis as sy, uit te snuffel op ’n gasheer wat deur verskeie bosluisspesies as restaurant gebruik word. Dit is waarskynlik ook die rede waarom spesifieke gashere en spesifieke plekke op die gasheer deur die verskillende bosluisspesies uitgesoek word – dit maak dit so ’n bietjie makliker om daardie spreekwoordelike deksel vir die pot te kry.
’n Hofmakery
Anders as by verskeie ander diere, is ’n mooi voorkoms of spesiale liedjie glad nie aanloklik vir daardie spesiale mannetjie in haar lewe nie. Albei moet ook eers gedeeltelik gevoed wees om hierdie hofmaak-speletjie te kan speel. ’n Mannetjie wat nog nie ’n gedeeltelike voeding ingeneem het nie, is nog nie geslagsryp nie en kan nie die wyfie se liefdesboodskappies in die vorm van feromone waarneem nie.
Die wyfie kan ook eers na sowat twee dae se voeding haar geheime uitnodigings aan die nabygeleë geslagsryp mannetjie uitstuur. As die regte geure dan na die regte mannetjie aangesweef kom, raak hy skoon berserk, vergeet van kos, laat los sy greep op sy gasheer en soek naarstigtelik na die wyfie wat die heerlike geure produseer.
By die wyfie aangekom, lok ’n tweede feromoon, so ’n bietjie meer spesie-spesifiek, hom om paringsgedrag te vertoon. Eers nadat paring in die meeste gevalle plaasgevind het, kan die wyfie voortgaan met haar maaltyd om eiers te kan produseer.
Afskeiding van feromone
Dan is daar ook wyfies wat hulle glad nie so maklik aan die manlike geslag opdring nie. In die geval van bontbosluise skei die voedende mannetjies feromone af wat alle ongevoede stadiums lok om ook in daardie area op die dier te kom voed.
Eers wanneer daar genoeg mannetjies op die dier is om ’n sekere konsentrasie feromone af te skei, sal die wyfie haar verwerdig om nader te staan en ook aan die voedingspartytjie deel te neem. So verseker sy dat daar wel geskikte mannetjies is vir paring en verdere eierproduksie. Sy is dan ook nie suinig met haar eierproduksie nie en kan tot soveel as 20 000 eiertjies produseer.
Buiten die optimale voeding wat elke wyfie probeer bekom, is daar ook ander maniere waarop sy die voortbestaan van haar nageslag probeer verseker. Wyfies op ’n gasheer neem tydens die laaste 24 uur van vashegting baie vinnig soveel as moontlik bloed in. Nadat sy haar versadigingspunt bereik het, sal sy tot om en by sonsopkoms wag voordat sy en haar maatjies min of meer gesinkroniseerd die gasheer los om na haar nuwe habitat te verkas.
’n Snoesige plekkie vir eiers
Op die grond geland, sal sy in die onmiddellike omgewing ’n warm, snoesige plekkie soek waar sy haar pakkie eiertjies sorgvuldig lê en dit versteek is teen ongunstige omstandighede. So verseker sy nie net dat die larwes in ’n lekker vogtige omgewing sal uitbroei nie, maar ook in ’n gebied waar die kans die grootste is om weer ’n gasheer raak te loop.
Maar daar eindig haar moederlike verantwoordelikheid, want as sy haar eierpakkie gelê het, sterf sy en die nageslag moet maar verder hul eie weg deur die wrede wêreld baan om van voor af ’n gunstige gasheer vir hul bloedmaal te bekom. –Ellie van Dalen
Vir meer inligting oor bosluisweerstandbiedendheidstoetsing, kontak Ellie van Dalen van die Pestisied Weerstandbiedendheidstoetsfasiliteit by die Departement Dierkunde en Entomologie aan die Universiteit van die Vrystaat by vdalenem@ufs.ac.za of 083 388 5539.