Estimated reading time: 8 minutes

Heelwat faktore moet in ag geneem word wanneer noodsaaklike riglyne vir ’n hoogs winsgewende skaapboerdery oorweeg word. Die volgende is kortliks die belangrikste riglyne vir verskillende klasse skape gedurende die verskillende fisiologiese stadiums in hul produksiesiklus, om ’n skaapboerdery hoogs winsgewend te maak.

Die artikel is die tweede in ‘n reeks. Klik hier om Deel 1 te lees.

Jong ooie van speen tot eerste paring

Ooilammers mag geen gewig verloor van geboorte tot eerste paring nie. Indien hulle wel gewig verloor, word hul leeftydreproduksietempo negatief beïnvloed, en dit is permanent en onomkeerbaar. Om ’n hoë lampersentasie te verseker, moet jong ooie minstens 80% van hul volwasse gewig met die eerste paring bereik as hulle op jonger as twaalf maande gepaar word en 9% van hul volwasse gewig as hulle op twaalf maande en ouer gepaar word.

Byvoeding met voldoende deurvloeiproteïen moet verskaf word sodat jong ooie hul teikengewig met die eerste paring bereik. ’n Positiewe korrelasie bestaan tussen spiergroei en reproduksietempo, en dus moet die deurvloeiproteïen aangevul word om spiergroei te bevorder.

Minstens 25% meer jong ooie moet aangehou word as wat vir vervanging nodig is en die finale seleksie moet ná skandering en die eerste lam gedoen word. Jong ooie wat oorslaan (ná skandering) en dié wat lam, maar nie ’n lam speen nie (ná eerste lam), moet geprul word. Indien jong ooie ’n tweede kans gegun word, moet hulle na die kruisteeltrop geskuif word en nie vir suiwer teling gebruik word nie.

Teelramme vanaf twee maande voor paarseisoen

Slegs hoogs vrugbare teelramme moet gebruik word omdat hul ooi-nageslag ’n hoër ovulasietempo (eiselafskeiding) het waardeur die ooikudde se toekomstige reproduksietempo verhoog word. ’n Hoogs vrugbare ram is ’n ram wie se moeder, ouma en oumagrootjie aan moederskant net meerlinge gelam het (verkieslik ook van sy vader se kant), ’n ram met ’n baie hoë libido (moet vier tot ses ooie suksesvol in ’n dektoets van 20 minute dek) en wat ’n skrotumomtrek van meer as 35cm het.

Teelramme moet aan die begin van die paarseisoen in ’n uitstekende kondisie en topfiks wees met kortwol (drie tot vier maande wollengte), asook vrugbaar en dekbehendig met ’n hoë libido. Ramme moet van twee maande voor die paarseisoen tot die begin van die paarseisoen ’n prikkelvoer met ’n hoë deurvloeiproteïeninhoud gevoer word om vir maksimum testikelgroei en spermproduksie, aangesien dit die besetting en lampersentasie verhoog.

Oefen ramme daagliks vir twee maande voor die begin van die paarseisoen deur hulle in die koelte van die dag vinnig te laat stap (gedwonge stap van 3km/dag, vinniger as agt minute per kilometer).

Teelooie vanaf 21 dae voor paring vir minstens 42 dae

Daar moet gepoog word dat minstens 50% (ekstensiewe boerdery) tot 75% (intensiewe en semi-intensiewe boerdery) van die teelooie meerlinge produseer. Die ovulasietempo (aantal eiselle per hittesiklus afgeskei) bepaal die boonste limiet van ’n ooi se fekunditeit en word geneties beheer. Die mate waarin ’n ooi egter haar genetiese reproduksiepotensiaal bereik, is afhanklik van omgewingsfaktore, waarvan voeding die belangrikste is.

Meerlinggeboortes is hoogs afhanklik van die kondisie van ooie met paring omdat dit een van die hooffaktore is wat die ovulasietempo bepaal. Vet is in werklikheid die “skakelaar” vir ovulasietempo (eiselafskeiding) by teelooie. Vetheid “dryf” reproduksie, met ander woorde, hoe beter die kondisie van die ooie met paring is, hoe hoër is die eiselafskeiding en dus die lampersentasie.

Vet speel dus ’n belangrike rol in die voortplantingsproses en voldoende vetreserwes is nodig vir vroulike diere om te ovuleer en suksesvol voort te plant. Om ’n hoë ovulasietempo te verseker, moet teelooie drasties in gewig toeneem van drie weke voor die paarseisoen af en hulle moet in ’n uitstekende kondisie wees aan die begin van die paarseisoen.

Die ovulasietempo van teelooie kan dus gemaksimeer word deur hulle vier weke voor die begin van die paarseisoen in ’n spaarkamp te plaas en van drie weke voor paring ’n prikkellek, met ’n hoë deurvloeiproteïeninhoud, vir minstens 42 dae te voer.

Koggelramme vanaf 14 dae voor paarseisoen

Die gebruik van koggelramme sinkroniseer die lamseisoen, verhoog die lampersentasie, beperk stertkantlammers en verlaag die voerkoste. Teelooie moet daarom met hoë-libido koggelramme vir 12 tot 14 dae voor die paarseisoen gekoggel word. Die gesamentlike gebruik van koggelramme en prikkelvoeding het ’n sinergistiese werking wat gesamentlik ’n groter uitwerking het om ooie stimuleer om op hitte te kom en die ovulasietempo te verhoog as wanneer net een van die twee gebruik word.

Hoe beter die kondisie van die ooie is, hoe beter is die reaksie op koggelramme en hoe hoër is die ovulasietempo. Hoë-libido koggelramme (bv. Afrikaner-, Afrino- of Merino- x Afrikanerkruisramme) het meerlinggeboortes in Merinokuddes van 14,4 tot 21% verhoog weens ’n hoër ovulasietempo as gevolg van die fisiese stimulering van die ooie deur koggelramme.

Middragtige ooie nadat ramme uitgehaal is tot ses weke voor lam

Resorpsie (embrionale en fetale afsterwing), ook bekend as die verdwynfaktor, moet in vroeë en middragtige ooie tot minder as 2% (ideaal minder as 0,5%) beperk word deur die beperking van alle vorms van stres en deur te verseker dat die nageboorte (plasenta) optimaal ontwikkel.

Die belangrikste oorsake van resorpsie is:

  • Geen of te min skaduwee in warm maande (voorsien minstens 1,5m² skaduwee per ooi indien temperature meer as 32°C is).
  • Oormatige hantering in paartyd en die eerste 30 dae nadat ramme uitgehaal is.
  • Gewigsverlies weens onvoldoende voeding.
  • Siektes, veral bloutong, ensoötiese aborsie en Slenkdalkoors.

Die gevolge van ’n klein nageboorte is:

  • Laer geboortegewig en vroeggebore lammers, wat tot hoër lamvrektes aanleiding gee.
  • Minder plasentale hormone word afgeskei, wat ’n kleiner uier, vertraagde aanvang van laktasie, laer bies- en melkproduksie, swakker moedereienskappe en ’n laer lamgroeitempo tot gevolg het.

Ooie moet 42 dae nadat die ramme uitgehaal is, geskandeer word en alle droë ooie moet met skandering uitgeskot word. Om resorpsie te beperk en voldoende nageboorte-ontwikkeling te verseker, moet ’n geskikte produksielek voorsien word indien middragtige ooie nie die volgende gewigstoename handhaaf nie (syfers tussen hakies is vir jong ooie wat die eerste keer gaan lam):

  • Volwasse ooie met enkelingfetusse: ± 50g/dag (100g/d).
  • Volwasse ooie met tweelingfetusse: ± 80g/dag (110g/d).
  • Volwasse ooie met drielingfetusse: ± 100g/dag (140g/d).

Laatdragtige ooie vanaf ses weke voor lam tot lamtyd

Ooivoeding gedurende laatdragtigheid is uiters belangrik omdat dit die belangrikste faktor is wat lamoorlewing sal verbeter. Voldoende voeding, veral deurvloeiproteïen, gedurende laatdragtigheid is noodsaaklik om die volgende te verseker:

  • Optimale geboortegewig van 4,5 tot 5,9kg. Sodra die geboortegewig minder as 4kg is, neem die risiko vir lamvrektes drasties toe. Die geboortegewig is die sleutel tot lamoorlewing. Die Lifetime Wool-projek in Australië toon dat ± 70% van die waarskynlikheid vir ’n lam om te oorleef deur sy geboortegewig bepaal word.
  • Maksimum uierontwikkeling en biesproduksie. Uierontwikkeling en totale melkproduksie is hoogs gekorreleer, met ander woorde hoe groter die uier is, hoe hoër is die melkproduksie. Uierontwikkeling is direk afhanklik van die hoeveelheid deurvloeiproteïen wat ingeneem is.
  • Produksie van vloeibare bies. Abnormale dik en taai bies hou verband met lae biesproduksie, is moeilik om uit te suig, vertraag die aanvang van laktasie en die lammers drink nie binne drie ure ná geboorte nie. Pasgebore lammers moet binne een uur ná geboorte begin drink. Hoe langer dit vir ’n lam neem om ná geboorte te begin drink, hoe groter is die risiko dat die lam nie gaan oorleef nie.
  • Beperking van metaboliese siektes soos domsiekte en melkkoors. Simptome van subkliniese melkkoors is wanneer meer as 3% van die ooie met geboorte gehelp moet word omdat lammers vassit, al is hulle geboortegewig minder as 6kg, ’n hoë persentasie geel lammers met geboorte, meer as 1% vaginale prolaps by lammerooie, ooie wat slegs gedeeltelik of glad nie ontsluit nie, en ooie wat kort voor en kort ná geboorte vir lang rukke lê. Ooie wat subkliniese melkkoors het, vreet sleg of hou op vreet, wat weer domsiekte veroorsaak.
  • Die leeftydgetal follikels in die eierstokke van ooilammers word reeds 50 dae voor hul geboorte in hul eierstokke neergelê en daarom is die voeding van laatdragtige ooie noodsaaklik in die bepaling van die leeftyd-reproduksietempo van hul ooilammers. Ooie wat gedurende laatdragtigheid op ’n hoë voedingspeil was, se ooilammers het met eerste lam ’n 14% hoër lampersentasie gehad as jong ooie wie se moeders op ’n lae voedingspeil gedurende laatdragtigheid was.

Korrekte voeding

Indien ooie slegs vir een week gedurende laatdragtigheid ondervoed word, kan goeie voeding daarna nooit ten volle daarvoor vergoed nie. Die feit dat sowat 80% van lamvrektes verband hou met die voeding van die ooi in die laaste paar weke voor en onmiddellik na lam, beklemtoon verder die belangrikheid van voldoende en korrekte voeding gedurende laatdragtigheid.

Om optimale geboortegewig, uierontwikkeling, bies- en melkproduksie van die lammerooi te verseker, asook die neerlegging van die follikels in die eierstokke van die ongebore ooilammers, moet laatdragtige ooie die laaste ses weke voor lam die volgende gewigstoename handhaaf:

  • 60kg volwasse ooi met enkelingfetus: 97g/ooi/dag.
  • 60kg volwasse ooi met tweelingfetusse: 161g/ooi/dag.
  • 60kg volwasse ooi met drielingfetusse: 210g/ooi/dag.

Lammers van ooie wat ’n hoë lekinname gedurende laatdragtigheid gehad het, het 27% beter gegroei as dié wie se moeders ’n lae lekinname gehad het weens die ooie se hoër melkproduksie. Die voorsiening van hoë vlakke deurvloeiproteïen aan laatdragtige ooie vanaf ses weke voor lam via ’n lek of ’n volledige rantsoen is dus ononderhandelbaar.

In die volgende aflewering oor noodsaaklike riglyne vir ’n hoogs winsgewende skaapboerdery sal ons fokus op lamtyd, lakterende ooie van lam tot die speen van lammers, kruipvoeding van lammers vanaf die ouderdom van sewe dae tot speen en slaglammers van speen tot slag. Dr Jasper Coetzee, Veeplaas