Estimated reading time: 5 minutes
- Goeie rambestuur begin met teelgeskiktheidsondersoeke.
- ‘n Teelgeskiktheidsondersoek is nie ’n vrugbaarheidstoets nie. Niemand kan met sekerheid die vrugbaarheid van ramme voorspel nie, maar die risiko van onvrugbare ramme kan beperk word.
- Die doel van die ondersoek is om ’n ram op grond van sy vermoë om voldoende hoeveelhede saad te produseer en lewer, en om ’n hoë konsepsietempo en vrugbaarheid te bereik, te evalueer.
- Aansteeklike epididimitis is die mees algemene genitale patologie wat by ramme waargeneem word. Ram-epididimitis kom hoofsaaklik weens B. ovis voor en is waarskynlik die mees algemene siekte wat teelramme affekteer.
- Fisiese gesondheid, libido en bestuurstoestande is belangrike faktore by ’n ram se vermoë om semen te lewer.
Goeie rambestuur, sê dr Johann Stadler, ’n veearts by Vlakte-veeartsenydienste in Limpopo, begin met teelgeskiktheidsondersoeke. Spermselontwikkeling neem sowat 60 dae om te voltooi; daarom behoort ’n ram se teelgeskiktheidsondersoek minstens agt weke voor die teelseisoen plaas te vind. “Verkieslik ook gedurende die natuurlike teelseisoen en op seksueel-geruste ramme,” voeg hy by. “Dit laat genoeg tyd om tydelike probleme op te los of, waar nodig, vervangingsramme aan te koop.”
Lees meer oor rambestuur en winsgewendheid.
‘n Teelgeskiktheidsondersoek is nie ’n vrugbaarheidstoets nie. Niemand kan met sekerheid die vrugbaarheid van ramme voorspel nie, maar die risiko van onvrugbare ramme kan beperk word. Die teelgeskiktheidsfaktore wat veeartse evalueer, sluit in algehele gesondheid, bouvorm, normale geslagstelsel, die ram se geskiedenis, liggaamskondisietelling, skrotumomtrek, testikulêre palpasie, spermmorfologie (vorm en grootte van sperm), spermmotiliteit (vermoë van die sperm om doeltreffend te beweeg), en ‘n serologiese toets vir Brucella ovis (teenliggaamtoets).
Evaluasie van verskeie faktore
Die doel van die ondersoek is om ’n ram op grond van sy vermoë om voldoende hoeveelhede saad te produseer en lewer, en om ’n hoë konsepsietempo en vrugbaarheid te bereik, te evalueer.
Onder natuurlike dektoestande kan reproduksieprestasie deur verskeie faktore beïnvloed word. Dit word in drie hoofkategorieë gegroepeer: Faktore wat spermproduksie beïnvloed, faktore wat semengehalte beïnvloed, en faktore wat die lewering van semen aan die ooi beïnvloed.
Semenproduksie
Die daaglikse aantal geproduseerde spermselle is direk met die hoeveelheid gesonde testikulêre weefsel gekorreleer. Die meet van skrotumomtrek bied ’n skatting van die volume of gewig van die testes en so ook die dekkapasiteit van ’n ram. Die skrotumomtrek behoort meer as 32cm te wees.
Semenproduksie word deur seksuele aktiwiteit, seisoen, voeding en algemene gesondheid beïnvloed. ’n Deeglike fisiese ondersoek en evaluering van die ram se liggaamskondisietelling is dus nodig.
Lees meer oor ramondersoeke en dekhendigheid.
Semengehalte
Semenmonsters kan deur middel van ’n kunsvagina of elektro-ejakulator geneem word. Toetse tydens ’n volledige semenevaluering sluit die makroskopiese voorkoms van die semen en ’n mikroskopiese evaluering in. Tydens laasgenoemde word individuele spermselbeweging, spermselmorfologie en die teenwoordigheid van vreemde selle in die monster ondersoek.
“Semengehalte kan tydens spermatogenese of rypwording en storing beïnvloed word. Enige siekte wat termoregulering van die testikels of epididimale transito versteur, sal die morfologie van die spermselle en die bevrugtingsvermoë van semen beïnvloed. Hierdie faktore sluit sistemiese siektes, koors of patologiese prosesse op die vlak van die skrotum, testes of epididimis in. Werk saam met jou veearts om abnormaliteite of letsels aan hierdie deel van die geslagsorgane te ondersoek en herken.”
Aansteeklike epididimitis is die mees algemene genitale patologie wat by ramme waargeneem word. Ram-epididimitis kom hoofsaaklik weens B. ovis voor en is waarskynlik die mees algemene siekte wat teelramme affekteer. Besmetting is ongeneeslik en ramme moet geslag word. Ouer ramme toon gewoonlik letsels wat deur B. ovis veroorsaak word. Alle ramlammers behoort op ouderdom twee én vier maande teen dié siekte ingeënt te word.
“Abnormaliteite aan die epididimis van jonger ramme is redelik algemeen, en gewoonlik as gevolg van bakteriële infeksies in die HPA-groep. Dit gebeur veral met ramme wat hoëkonsentraatvoeding ontvang. Hierdie besmetting kan tydens die mikroskopiese ondersoek van ’n semensmeer, as etterselle waargeneem word.”
Lewering van semen
Fisiese gesondheid, libido en bestuurstoestande is belangrike faktore by ’n ram se vermoë om semen te lewer. Fisiese probleme meng dalk nie in met semenproduksie of -gehalte nie, maar ramme sal nie estrus-ooie kan vind en/of paar nie, wat tot swak reproduksieprestasie sal lei.
Libido word nie tydens die roetine-ondersoek geëvalueer nie. Dr Stadler beveel aan dat seksuele aktiwiteit na aansluiting gemonitor word, sodat ramme met swak dekvermoë geïdentifiseer kan word. “Dit is maklik as ’n ram met ’n merkharnas toegerus is. Dit stel die teler in staat om seksuele aktiwiteit by ooie en die aantal ooie wat terugkeer na estrus, te monitor. Monitering is belangrik by die gebruik van jong, maagdelike ramme weens hul gebrek aan ervaring.”
Lees meer oor kunsmatige inseminasie en selfteling met ramme.
Bestuurstoestande
Telingsbestuur en die verhouding van ramme tot ooie is ’n belangrike faktor om gewenste besettingsyfers in die dekseisoen te bereik. Dr Stadler beveel die gebruik van ouer ramme op jong ooitjies aan, omdat hulle ’n korter hitteperiode het. “Ervare ramme dek meer ooie as onervare ramme. Koggelramme se sinkroniserende uitwerking kan sorg dat ooie vroeg in die dekseisoen beset raak.”
Ramme word dikwels buite die dekseisoen afgeskeep. Sy aanbeveling is om deurlopend ramvoeding te gee en om parasiet- en algemene siektebeheer toe te pas. Die volgende moet aandag kry:
- Ramme moet fiks wees.
- Hulle inentings moet minstens 60 dae voor die dekseisoen afgehandel wees en hulle moet ’n liggaamskondisietelling van minstens 3,5 hê.
- Voldoende vitamien- en mineraalaanvullings moet voor die dekseisoen toegedien word. – Carin Venter, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Johann Stadler by 072 482 4909 of vet@stadlers.co.za.