Friday, December 2, 2022
HomeMagazinesRambestuur en winsgewendheid (Deel 6): Selfteling en kunsmatige inseminasie

Rambestuur en winsgewendheid (Deel 6): Selfteling en kunsmatige inseminasie

Estimated reading time: 7 minutes

In die voorafgaande uitgawes van Veeplaas het ons verskeie aspekte van rambestuur ondersoek, naamlik die voorbereiding van ramme voor paartyd, goeie voedingspraktyke, die ondersoek van ramme, dekbehendigheid, koggelramme en paringsbestuur, en oorwegings by die koop van ramme.

In hierdie laaste aflewering kyk ons na die keuse en metodes van selfteling en kunsmatige inseminasie (KI) by ’n skaapboerdery.

Lees deel een van rambestuur hier.

Riglyne vir selfteling

Wat selfteling betref, is geslote kuddes baie voordelig in die sin dat dit siektes weghou en diere geteel word wat uitstekend in hul omgewing aangepas is. ’n Eenvoudige stelsel wat aangepas kan word om by verskillende rasse te pas, is as volg:

Die 40-dae-gewig begrip

Wanneer paringsbestuur op die plaas goed toegepas word, lam die ooie gewoonlik klaar binne 19 tot 21 dae, met ’n duidelike piek in die tweede week van lam. Dit is voldoende om alle ramlammers (en sommer die ooitjies ook) 40 dae ná die piek van lam te weeg. Die effek van ouderdom op die uiteindelike keuse van ramme is baie min.

Lees deel twee van rambestuur hier.

Speengewig

Elke ramlam se gewig word met ’n koki-pen op sy oor geskryf en op papier of elektronies aangeteken. Daarna word die gemiddelde gewig uitgewerk en alle lammers wat meer as die gemiddeld weeg, kry ’n genommerde plaatjie wat teenoor sy gewig aangeteken en bewaar word. Die ramlammers sonder ’n nommer kan gekastreer word. Lammers met foute word nie gemerk nie.

Tussen ouderdom 100 tot 120 dae word al die genommerde lammers weer geweeg en die gemiddeld uitgewerk. Die lammers wat ondergemiddeld is, word gekastreer en hul nommers verwyder. Die res word onmiddellik gespeen om te voorkom dat die ooie gedek word.

Ná speen word die ramlammers in ’n sogenaamde ‘strafkamp’ sonder byvoeding geplaas. Enige ram wat maer word, brommeraanval kry of bleek word van parasiete, moet onmiddellik uit die trop gehaal en verkoop word.

Tien-maande gewig en skrotumomvang

Op ouderdom agt tot 12 maande word die ramlammers weer geweeg en hul skrotumomvang gemeet. Die swakste 50% word gekastreer of bemark. Vleisrasse word hierna slegs vir bouvorm- en teelfoute soos swak pigment en dies meer geklas. Die string kan soms ook te lank wees, maar dit is ’n probleem wat gelukkig nie meer algemeen voorkom nie.

Vagmassa en objektiewe toetsing

Wanneer die lammers vir die eerste keer geskeer word, word die vag geweeg en, indien moontlik, aan objektiewe toetsing onderwerp. Daarna kan die hand-en-oog metode gebruik word om hulle te klas.

Indekse

Al die inligting van die ramme word dan na indekse verwerk en ’n gesamentlike indeks word bereken:

Dier se gewig

Indeks = _____ x 100

Trop se gemiddeld

Indien ooie se melkproduksie die belangrikste is, word die 40-dae-gewig indeks die swaarste getel. As speengewig die belangrikste is, sal die 100-dae indeks die swaarste tel. Wanneer vrugbaarheid ’n groot probleem is, kan die skrotumomvang-indeks die meeste tel. By diere wat op een jaar oud gepaar word, kan die agt-tot-tien-maande massa-indeks die meeste tel. Waar wol die belangrikste faktor is, kan die wolmassa-indeks of die fynheidindeks die meeste tel.

Ek het waargeneem dat die beste ramme gewoonlik op al die indekse voor loop. ’n Eenvoudige beginpunt kan wees om die vyf of ses indekse ewe swaar te laat weeg.

Waar die lampersentasie laag is, moet skrotumomvang ten minste 50% van indeks uitmaak. Die ander vyf indekse kan dan 10% elk tel. As die lampersentasie tydens sonarondersoek hoog is, maar lamoorlewing ’n probleem bly, kan die 40-dae indeks help om die melkproduksie en moedereienskappe te verhoog.

Tweelinge en verskillende troppe

Die indekse van ramme wat een van ’n tweeling is, moet afsonderlik uitgewerk word, of korreksies op gedoen word sodat daar nie teen hulle gediskrimineer word nie. Ooitroppe wat verskillende behandeling kry of op verskillende tye lam, se indekse moet ook afsonderlik van mekaar uitgewerk word.

’n Produsent wat sy storie ken se tweelinglammers sal gewoonlik beter vaar as die enkellammers. Die tweelingramme se ouers is gewoonlik groter en het ’n beter konstitusie. Die wolgewigte kan moontlik ’n bietjie agterbly as gevolg van die dragtige ooi se voeding, maar dikwels is hulle wol beter en meer as dié van enkellammers.

Lees deel drie van rambestuur hier.

rambestuur
Lammers met gebrekkige pigment behoort nie geselekteer te word tydens ‘n selfteelprogram nie.

Riglyne vir kunsmatige inseminasie

Vars saad: Ramsaad word met behulp van ’n kunsvagina getap teen ’n temperatuur van 40 tot 45°C, en die saad word teen 35°C in ’n wyebek termosfles gehou. Inseminasie word met skoon saad gedoen, of verdun met tot drie dele langlewe (UHT) vetvrye melk teen 35°C.

Vars, afgekoelde saad: Saad word getap en dan toegelaat om geleidelik af te koel na 4 tot 5°C. In sommige gevalle word dit in strooitjies opgetrek en met behulp van ’n pistolet en skede in die serviks geplaas.

Bevrore saad: Saad word getap, verdun en deur ’n kunsmatige inseminasie (KI)-stasie in ’n korreltjie gevries. Daarna word die saad teen ongeveer 32°C ontdooi en met ’n laparoskoop direk in die baarmoeder gespuit.

Maak die ramme touwys: Ramme moet geleer word om in ’n kunsvagina te ejakuleer. Eerstens word die ramme drie maal per dag vir ’n week na ’n ooi gebring wat vasgehou word. Hanteerders raak aan die ram, praat en lawaai en wanneer hy dek word aan hom geraak totdat hy later gemaklik is dat daar aan sy skede gevat word. Honde en voertuie en vreemde geluide is toelaatbaar. Daar moenie te veel roetine in die leerproses wees nie, sodat die ram op enige plek sal werk. Daarna word die kunsvagina gebruik en verskillende temperature word gebruik totdat die ram goed werk. Teken aan watter temperatuur die ram verkies.

Sinkronisasie: Dragtige merrieserum (DMS) is beskikbaar in bottels van 6 000IE (internasionale eenhede) en daarom behoort ooie in veelvoude van 20 gesinkroniseer te word. Twintig ooie kan per bottel teen ’n dosis van 300IE gespuit word. Sponse of CIDR’e (controlled internal drug release in Engels, wat verwys na ’n intra-vaginale toestel vir teelbeheerprogramme in kleinvee) word in die vagina geplaas vir tien tot 12 dae. Die voorwerp word verwyder en gemiddeld 300 eenhede DMS word ingespuit. Kunsmatige inseminasie word dan 52 tot 56 uur later gedoen – met ander woorde, op dag 14. By bokke word KI na 48 uur gedoen.

Lees deel vier van rambestuur hier.

Voordele van korrekte selfteling

’n Trop ramme wat goed bestuur word, kan ’n baie groter bydrae tot ’n goeie lammeroes lewer as wat die meeste produsente besef. As die ramme reg gekies, selfgeteel en korrek bestuur word, hou die produsent nie ’n onnodige klomp ramme aan nie, wat hom baie geld bespaar.

Met toenemende uitbrekings van aansteeklike siektes soos brandsiekte, jaagsiekte en Johne se siekte, word baie produsente genoodsaak om self hul ramme te teel. Dit sal ook betaal as produsente in die toekoms meer aandag aan ramme se natuurlike genetiese weerstand teen parasiete skenk. Dit sal waarskynlik tot ’n geweldige verbetering van kleinveekuddes lei, en daar is reeds bewyse uit groepteling dat gewone produsente dit kan vermag.

Dikwels sal ’n produsent iets sê soos: “Ek is maar net ’n gewone boer en weet nie genoeg om my eie ramme te teel nie. Hulle sê ek gaan inteling kry.” Hierdie waarskuwing van inteling by selfteling is dikwels niks meer as ’n spookstorie nie. Moenie toelaat dat sogenaamde kenners jou intimideer nie. As dit reg gedoen word, kan selfteling verhoogde prestasie en minder probleme met parasiete en siektes in ’n trop verseker.

Lees deel vyf van rambestuur hier.

Hoofredes vir beter skaaptroppe

Ter afsluiting van hierdie reeks oor winsgewende rambestuur, noem ek die drie hoofredes vir verbeterde skaaptroppe soos ek dit in die afgelope 35 jaar gesien het:

  1. Sonarondersoeke wat bydra tot meer tweelinge wat oorleef.
  2. ’n Genadelose benadering tot oorslaan-ooie.
  3. Selfgeteelde ramme wat prestasietoetsing ondergaan en gewoonlik groter testes vertoon. Ramme met groot testes teel dogters met beter eierstokke en meer ovulasies. Hulle produseer ook meer lammers en hormone wat moederlike gedrag verbeter.

Produsente wat nie hierdie aksies toepas nie se ooitroppe verbeter selde en kan selfs agteruitgang begin toon. – dr Johan van Rooyen, Steynsburg-dierehospitaal

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 082 463 3087 ofveearts.sdh@nokwi.co.za.

Must Read

RSG Landbou: 1 Desember 2022 – geborg deur Elanco Animal Health

Dr Louis Boag van Elanco Dieregesondheid is eerste aan die woord in Donderdag se aflewering van RSG Landbou. Hy gee raad met betrekking tot...