Tuesday, November 29, 2022

Dié skaapstelsel kry meer uit elke pond vleis én wol

Estimated reading time: 6 minutes

Die verhaal van die White Wools Dohne-Merino-stoet is iets besonders. As ’n mens die tyd oprol, vind jy dat Jan Pienaar van Colesberg in 1947 aan Paarl Boys High gematrikuleer het, en sy seun, Andries, in sy voetspore ook daar gematrikuleer het in 1975. Beide pa en seun was kranige rugbyspelers. En in 2004 matrikuleer Andries se seun, Dries, ook by Paarl Boys High.

Nadat hy sy studies aan Stellenbosch Universiteit voltooi het, het Dries sy loopbaan as ’n geoktrooieerde rekenmeester in Johannesburg begin. Merino-bloed loop egter dik in dié Karoo-man se are en in 2014 roep hy toe die Goudstad vaarwel om die leisels op hul plaas Collingham by Molteno in die Stormberge op te neem. Met ekstra huurgrond van sy buurman, boer Dries vandag met 3 800 skape. Hy mik tans na 4 500.

skaapstelsel
In 2019 het die Dohne-Merino-telersgenootskap Dries as bobaas-teler in sy streek aangewys. Hy was ook ’n topfinalis in die genootskap se nasionale kompetisie. Op die foto is Dries en sy vrou, Madelene, met hul twee seuntjies, Arnold en Du Toit.

Lees meer oor wateruitdagings hier.

’n Behoorlike afstof en regruk

“Toe ek op die plaas aangekom het, was dit ’n ekstensiewe veepos waar die ooie natuurlik gepaar is en in die veld gelam het,” vertel Dries tydens Veeplaas se besoek op die plaas. “Die lande was onbewerk, die damme en watervore kon nie optimaal gebruik word nie, en ons winspersentasie was te laag om volhoubaar te boer.”

Hy het egter ou waterstelsels op die plaas ontdek, dit in ’n werkende toestand gekry, en stadig maar seker begin om die plaas in ’n produktiewe eenheid te omskep. Sy plan het drie mikpunte gehad:

  • Die ontwikkeling van meer lande en aanplantings. Al die bestaande damme op die plaas is intussen skoongemaak en die slik is uitgeskraap. Bykomende implemente en toerusting is aangeskaf vir die uitbreiding en bewerking van die lande.
  • Die oprigting van ’n voeraanleg vir ‘n meer kostedoeltreffende en akkurate voedingsprogram.
  • Die ontwikkeling van reproduktiewe stelsels en programme vir sy skaapkuddes.

Begin van ’n intensiewe stelsel

Dries was genoodsaak om sy reproduktiewe skaapstelsel van natuurlike paring in die veld na ’n intensiewe laparoskopiese stelsel te verander. “Ons boer in ’n taai omgewing met uiters lae temperature en dit het ons genoodsaak om ons lampraktyke in ’n mate te intensifiseer,” sê hy. “Ekonomie van skaal en die wêreld waarin ons vandag leef, druk ons om al hoe meer lammers per hektaar groot te maak of, anders gestel, om meer kilogramme wol en vleis per hektaar te produseer.”

Lees oor intensiewe skaapboerdery vir beginners

Vandag funksioneer die boerdery vir ses weke van die jaar op ’n intensiewe paringstelsel, waarvolgens drie groepe ooie met sponse gesinkroniseer en laparoskopies geïnsemineer word, en wat net vir een siklus (17 dae) daarna opgevolg word. Die paringstelsel word dus vir drie maande agtereenvolgens herhaal – ’n groep ooie word elk gedurende Maart, April en Mei gepaar, en lam dan gedurende Augustus, September en Oktober.

Een groep ooie word in Oktober gepaar en lam in Maart. Ooie wat in Maart lam is nie ’n algemene praktyk in die Stormberge nie, maar Dries glo die ooie wat nie tydens die eerste siklus dragtig was nie, moet huur betaal.

Hy gebruik Suffolk-ramme op die ooie, en hul lammers gaan direk ná speen voerkraal toe. Al die dragtige ooie kry drie weke voor lamtyd ekstra byvoeding en lam in lamkampe en -hokke. Daarna word hulle met hul lammers na klein kampe geskuif. Hulle stelsel bestaan tans uit 450 lamhokke, 60 lamkampe, en 24 klein 2ha-kampe. Die ooie en lammers word goed versorg totdat die lammers ongeveer ’n maand oud is. Daarna gaan die ooie terug veld toe, waar hulle die lammers moet grootmaak.

Volgens Dries het hul lamgetalle die afgelope paar jaar goed toegeneem, grootliks te danke aan hul intensiewe lamstelsel. Stoorlammers is ’n goeie bron van inkomste en hulle vind dat dit die lonendste is om die lammers sonder enige verwyl, net na speen, voerkraal toe te stuur. Die enkellammers weeg dan gewoonlik sowat 30kg en die tweelinge 26kg.

skaapstelsel
Dit is te danke aan ’n semi-intensiewe stelsel dat die stoet en kommersiële kudde op Collingham vandag gesonder en sterker is, en ook ’n groter aantal speenlammers lewer.

Lees meer oor hoe meganisasie arbeid kan spaar op ‘n skaapplaas.

Kostedoeltreffende voeding

Toe hy begin het om ’n intensiewe stelsel op die plaas te implementeer, het Dries besef dat hy baie van die ruvoer self sou moes produseer om die stelsel suksesvol te vestig. “Ons is nou in jaar sewe van implementering en danksy goeie droëland en besproeiingslande, hoef ons nie ruvoer aan te koop nie.”

Hulle produseer ruvoer in die vorm van lusern en ‘n bietjie groenvoer op die plaas. Dit word gesny en gebaal en saam met ander voermengsels vir die tweelinglammers en tweetandooie in die lamhokke gegee, asook vir die enkellammers in die lamkampe.

Goeie wol is goud werd

Die meeste Dohne-produsente kry sowat 30% van hul inkomste uit hul skape se wol. Ook vir Dries sal die wolkomponent altyd ’n belangrike deel van sy stoet wees. “Ons skeer 19,5 mikron van ons skape af, met ’n skoonwolopbrengs van 70% en meer,” sê hy.

“In terme van gehalte, het die Dohne-Merino se wol die afgelope tien jaar of so drasties verbeter en is dit hoogs mededingend op wolveilings. Ek dink die enigste werklike verskil is dat Merino’s meer wol per skaap lewer.”

Intussen was hy vroeër vanjaar in Patagonië om ondersoek in te stel na die moontlikheid om sy stoet se embrio’s daarheen uit te voer.

Op die vraag oor wat sy skape vir hom so uniek maak, antwoord hy: “Jislaaik, dis ’n vraag wat só baie antwoorde het. In die wêreld waarin ek boer en wat sekerlik een van die koudste plekke in Suid-Afrika is, maak my Dohne-Merino’s absoluut die verskil in rand en sent.

“Ek is trots daarop om met ’n fantastiese dubbeldoel-skaapras te boer wat basies op enige plek in die land kan gedy, ongelooflike goeie wol lewer, en boonop uitstekende stoorlammers produseer.” – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, WhatsApp Dries Pienaar by 083 353 6408 of besoek www.whitewoolsdohne.co.za.

Must read

EWT on rabbit haemorrhagic disease

It has been confirmed that rabbit haemorrhagic disease is causing widespread mortalities of wild hares and domestic rabbits in the Western and Northern Cape provinces. Bonnie Schumann of the Endangered Wildlife Trust gives some...

RSG Landbou: 28 November 2022 – geborg deur Elanco Animal Health

Plaaseienaars, asook haas- en konyneienaars, is gewaarsku dat konynbloedingsiekte vir die eerste keer in Suid-Afrika aangemeld is. Alhoewel dit tans net in die Wes- en Noord-Kaap voorkom, versprei dit soos ‘n veldbrand. Op RSG...

A synopsis of the South African fynbos floral industry

The flower business is like fashion, and the current fashion is fynbos.

Beur teen die winde wat ’n impak op Suid-Afrikaanse landbou het

Estimated reading time: 3 minutes Soos wat ons die einde van 2022 nader, het beduidende teenwinde steeds ’n impak op die Suid-Afrikaanse landbousektor. Sommige uitdagings soos infrastruktuur, elektrisiteit, belegging, logistiek, siektebeheer en dienslewering is al...

Step into the headwinds that affect agriculture in South Africa

Estimated reading time: 3 minutes Significant headwinds still affect the South African agricultural sector as we approach the end of 2022. Some challenges, such as infrastructure, electricity, investment, logistics, disease control and service delivery,...