Estimated reading time: 7 minutes

Daar is baie water op aarde, met byna 70% van die totale oppervlakte van die aarde wat daardeur bedek word. Die probleem is dat slegs 2,5% van die beskikbare water vars en drinkbaar is, terwyl slegs 1% toeganklik, en nie deel van ’n gletser of sneeuveld is nie. Daarom is water ’n uiters skaars hulpbron wat na die beste van ons vermoë bestuur moet word.

Suid-Afrika is die 30ste droogste land ter wêreld. Ongeveer 77% van Suid-Afrika se varswater word hoofsaaklik deur oppervlakwaterbronne voorsien, terwyl ’n verdere 19% deur grondwaterbronne aangevul word. Die oorblywende 14% bestaan uit herwinde water.

As gevolg van die geografiese aard van ons land, het Suid-Afrika beperkte waterbronne, maar die waterskaarste word deur meer as net omgewingsfaktore veroorsaak. ’n Tekort aan infrastruktuur en ekonomiese ontwikkeling is die hoofrede waarom 19% van plattelandse gemeenskappe nie toegang tot water het nie.

Waterverbruik in Suid-Afrika

Landbou in Suid-Afrika bly die grootste verbruiker van water en is vir 67% van die totale waterverbruik in die land verantwoordelik. ’n Verdere 15% van die totale waterverbruik kan aan huishoudelike gebruik toegeskryf word, 7% aan dienslewering, terwyl vervaardiging en mynbedrywighede elk onderskeidelik vir 5 en 3% verantwoordelik is.  

Alhoewel Suid-Afrika ’n droë land is, word die gehalte van ons kraanwater hoog geag en het die land een van die grootste bevolkings met toegang tot drinkbare kraanwater. Daarteenoor is die gehalte van grondwater landswyd baie wisselvallig en is dit daarom nie ’n volhoubare varswaterbron vir menslike gebruik nie.

Daar word verwag dat die bronne wat die grootste stede – Johannesburg, Kaapstad, Durban en Pretoria – van water voorsien, onder groot druk geplaas gaan word, met die huishoudelike en industriële vraag wat bly toeneem. Die Berg-waterbestuursarea – wat Kaapstad insluit – sal watervoorsiening met ’n geskatte 28% moet verhoog om aan die toekomstige vraag te voldoen.

Nasionale waterwetgewing

Water in Suid-Afrika word deur twee wette beheer, naamlik die Nasionale Waterwet, 1998 (Wet 36 van 1998) of NWW en die Wet op Waterdienste, 1997 (108 van 1997) of WDW.

Die NWW beheer die beskerming van water-ekostelsels en reguleer dus die lisensiëring van water vir kommersiële gebruik. Dit sluit grond- en oppervlakwater vir landbou en industriële gebruik in. Die NWW verseker dat water volhoubaar verbruik word, sodat die beskikbaarheid daarvan vir toekomstige geslagte behoue bly.

Die WDW is verantwoordelik daarvoor om te verseker dat elke Suid-Afrikaner toegang tot skoon drinkwater het, en dat sanitasie as ’n grondwetlike reg ingesluit is. Deur hierdie wetgewing kan die regering die waterverbruik van huishoudings reguleer en verseker dat dit volhoubaar verbruik word.

Suid-Afrika word gereeld geprys vir die standaard van die land se wetgewing op waterverbruik en die fokus op volhoubaarheid, maar die grootste uitdaging is ’n gebrek aan die implementering en goeie bestuur van hierdie wette. Die gebrek aan wetstoepassing en bestuur is ’n bron van groot kommer, aangesien Suid-Afrika reeds 98% van die beskikbare watervoorraad gebruik.

Bykomend tot die hoë verbruik, plaas verstedeliking toenemende druk op watervoorraad in stede. Na raming sal Suid-Afrika teen 2030 ’n watertekort van 17% beleef as gevolg van toenemende huishoudelike en industriële verbruik.

Riglyne vir landbouwater

Die NWW maak melding van vier oorhoofse kategorieë van waterverbruik, naamlik huishoudelike, industriële en landbouverbruik, en verbruik vir ontspanningsdoeleindes. Die Suid-Afrikaanse Waterkwaliteitsriglyne bestaan uit agt dele wat elk op ’n spesifieke kategorie fokus. Deel 5 fokus op waterverbruik vir vee, waar spesifiek na die vereistes van waterverbruik vir verskillende veespesies verwys word.

Hierdie vereistes verskil volgens die ouderdom en gewig van diere, sowel as die temperatuur van die omgewing. Daar word ook melding gemaak van die toegelate hoeveelhede elemente, metale en vreemde stowwe teenwoordig in water vir vee. Besproeiing is die fokus van Deel 4, en watergehalte en besproeiingspraktyke word daarin bespreek.

Voornemende planne

Gedurende 2019 het die nasionale tesourie ’n verslag getiteld Ekonomiese transformasie, inklusiewe groei en mededingendheid vrygestel om Suid-Afrika in ’n meer volhoubare rigting te probeer stuur. Die verslag het die vyf fundamentele boublokke vir langtermyngroei bespreek, waarna ’n reeks van bepaalde en gedetailleerde hervormings om potensiële groei te verhoog, uiteengesit is.

Hierdie hervormings is op die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) gebaseer en word volgens temas gelys, naamlik:

  • Modernisering van netwerkbedrywe.
  • Vermindering van toegangshindernisse en verwronge eienaarskapspatrone deur verhoogde mededinging en groei van klein ondernemings.
  • Prioritisering van arbeidsintensiewe groei in landbou- en dienssektore.
  • Implementering van gefokusde en buigsame nywerheids- en handelsbeleid.
  • Die bevordering van mededingende uitvoer- en plaaslike groeigeleenthede.

Water en waterbestuur vorm deel van die hoofbesprekings onder sommige van hierdie temas. Die rol van water in landbouproduksie geniet veral aandag in dié verslag. Van die aanbevelings in die verslag word vervolgens in hierdie artikel bespreek.

Modernisering van netwerkbedrywe

Volgens die verslag gaan ’n aansienlike hoeveelheid water in die land se watervoorsieningstelsels verlore. Dit is kommerwekkend, aangesien die land se waterhulpbronne reeds beperk is. Water wat verlore gaan verteenwoordig 25% van totale waterverbruik en 68% van water sonder inkomste.

Die probleem kan toegeskryf word aan infrastruktuur wat oud is en swak onderhou word, ’n komplekse institusionele struktuur, kostes wat nie voldoende deur watertariewe gedek word nie, en entiteite wat beduidende tegniese, finansiële en bestuursuitdagings ondervind.

Suid-Afrika sal nie die doelwit van inklusiewe groei en ekonomiese transformasie kan najaag indien die watervoorraad beperk is nie. Volgens die 2019-begrotingsoorsig, is R90,4 miljard tussen 2019/20 en 2021/22 aan waterinfrastruktuurprojekte toegewys. Daar behoort egter ’n omvattende bestuurstrategie vir beleggings in waterbronne se ontwikkeling, grootmaatwatervoorsiening en die bestuur van afvalwater te wees.

Dit is ook nodig dat lesse uit die sukses van die onafhanklike kragprodusenteprogram (IPP) in die elektrisiteitsektor geleer word, en dat hierdie model vir watervoorsiening aangepas word. Die regering is tans besig met die ontwikkeling van geskikte institusionele opsies vir dienslewering, deur die skep van plaaslike water- en afvalwaterhulpmiddels en die uitbreiding van die mandate van bestaande waterrade.

Die regering is ook in die proses om ’n onafhanklike waterreguleerder te stig, wat die algehele doeltreffendheid van watervoorsiening kan verbeter en gepaste prysbepaling verseker. Daarbenewens moet ’n nasionale waterbesparingsprogram in plek gestel word om watervermorsing te beperk en die vraag in stedelike gebiede te verlig.

Besproeiingswater en marktoegang

Volgens die nasionale beplanningskommissie is toegang tot water en besproeiingstelsels van uiterste belang om groter beleggingsgeleenthede in landbou te ontsluit. Landbou, wat meer as 60% van die beskikbare oppervlakwater verbruik, is die grootste verbruiker van water in die land.

Die toenemende vraag na water, wat deur klimaatonsekerheid vererger word, plaas landbou agter in die ry ten opsigte van toegang tot bykomende waterbronne. Die huidige 1,5 miljoen hektaar onder besproeiing in Suid-Afrika, kan uitgebrei word deur beter verbruik van bestaande hulpbronne en die ontwikkeling van nuwe waterskemas.

Huidige belegging in inisiatiewe om die aansienlike verlies aan potensiële gewasoppervlakte en produksie weens ondoeltreffende besproeiingspraktyke en agterstallige onderhoud te verminder, is onvoldoende. Dit sou byvoorbeeld moontlik wees om die oppervlakte waarop sitrus in die Sondagsriviervallei in die Oos-Kaap geproduseer word, met ongeveer 30% te verhoog indien ’n meer gepaste waterbestuursbeleid geïmplementeer kon word. Dit kan ook ’n potensiële groot impak op loonverdieningsgeleenthede hê.  

In baie lande is standhoudende landbouproduksie baie afhanklik van besproeiing, en in elkeen van die landbousuksesverhale in hierdie lande, het die regering ’n bepalende rol gespeel in die voorsiening van besproeiingsinfrastruktuur.

Die impak van hervormings

In die laaste afdeling van die verslag word die impak wat hierdie voorgestelde ingrypings in die toekoms sal hê, deur middel van modellering uiteengesit. Wat landbou betref, kan verbeterde bemarking en die doeltreffende benutting van openbare/privaatvennootskappe om marktoegang te bevorder, geleidelik die vraag na uitvoerprodukte in Suid-Afrikaanse landbou verhoog.

Die aannames oor landbou word op die modellering wat deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) voltooi is, gebaseer. Hierdie modelleringsoefening, wat in vennootskap met belangrike bedryfsverenigings in landbou uitgevoer is, bevat ’n beoordeling van die moontlike impak van spesifieke handelsbeleid en waterintervensies op landbougroei.

Hierdie, sowel as ander verbeterings in die mededingendheid van landbou, realiseer geleidelik gedurende die simulasietydperk. Dit lei tot ’n verbetering in die vraag na uitvoere en produktiwiteit, wat ’n toename van R6 miljard in landbou-uitvoere teen die einde van die tien-jaar simulasietydperk sal beteken.

’n Laaste gedagte

Dit is duidelik dat Suid-Afrika die kers aan albei kante brand wat water betref. Aan die een kant is klimaatsverandering en toenemende intensiteit van droogtes besig om ons watervoorrade uit te put, en aan die ander kant veroorsaak swak sosiale en ekonomiese toestande dat ons waterinfrastruktuur tot so ’n mate agteruitgaan, dat dit die watertekort wat Suid-Afrikaners reeds ervaar, aansienlik vererger.

Water is ons waardevolste hulpbron en ons moet almal bydra om die volhoubare gebruik daarvan in ons land te verseker. – Niel de Kock, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting of bronverwysings, stuur ’n epos aan Niel de Kock by dekockdj@ufs.ac.za.