Die geur, kleur en eer van Merino-ramveilings

Estimated reading time: 6 minutes

Hy het vir hom ’n geel Jaguar met ’n bedrag gelykstaande aan dié van bykans 330 verkooplammers én hul wol gekoop.

Ramveilings, en spesifiek Merino-ramveilings, vorm al sedert jaar en dag deel van die wolbedryf, en talle verhale en staaltjies dateer uit die bloulint-verlede, toe dit nog as ’n prestige-geleentheid beskou is. Een van die kleurryke rolspelers van daardie tyd – en daar was baie, veral uit die Groot-Karoo – was wyle oom Dirk van der Merwe van Diepdrift in Calvinia.

Lammers en luukse motors

Oom Dirk het vertel dat hy in die vroeë 1970’s plaas toe getrek het; vars en volleerd van sy universiteitstudies, en met die geloof dat hy, soos hy self gesê het, van alles die beste weet. Dit was in die tyd van die gereelde weermagopleidingskampe, en oom Dirk was op pad huis toe ná so ’n kamp op Calvinia. ’n Donderstorm het egter oor hul plaaspad uitgesak en ’n sloot oor die pad verspoel. Hy het met sy Renault TS in die sloot beland, en toe hy weer sien, het sy voorwiele sommer in ’n teenoorgestelde rigtings gewys.

Kort daarna het hy sy pa vir R4 500 gevra, want hy wou vir hom ’n Jaguar koop; dit was baie geld in daardie jare! Volgens oom Dirk het Diepdrift amper op sy kop gestaan en ineengestort ná hierdie versoek. Na ’n lang ruk het sy pa vir hom die geld gegee, maar met die waarskuwing dat hy nie gou weer ’n motor van die plaas af sou kry nie en minstens tien jaar met daardie motor moes ry.

Hy het vir hom ’n geel Jaguar met ’n bedrag gelykstaande aan dié van bykans 330 verkooplammers én hul wol, gekoop. Hy het uiteindelik elf jaar met die Jaguar gery voordat hy ’n BMW 733 gekoop het – hierdie keer het dit 660 verkooplammers en hul wol gekos, presies dubbel soveel as die vorige transaksie.

Oom Dirk het later ’n BMW 735i gekoop, en daarvoor moes hy 1 623 verkooplammers en hul wol opdok, asook die ou motor inruil. So het die waardes oor tyd verander. Met hierdie motor het hy 400 000km gery voordat hy dit vir sy kinders gegee het – en dié het ook lank daarmee gery. Hy het nooit weer so ’n duur motor gekoop nie, want volgens hom sou hy later amper sy plaas moes inruil om dit te kon bekostig.

Staan jy dalk op my plek?

Terug by die ramveilings. Die Diepdrift-stoet het op sy kruin meer as 600 ramme in een jaar verkoop. Die meeste daarvan is op die trein gelaai en na die destydse Transvaal se Hoëveld, die Vrystaat en selfs Namakwaland vervoer. Op daardie stadium was hulle die vierde-grootste verkoper van ramme in een jaar van alle stoeterye in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Die Bloemfonteinse nasionale Merino-ramveiling het op sy kruin meer as 1 000 ramme aangebied en was die pronkstuk van sy tyd. ’n Teler het sy staanplek op die veiling verdien op grond van sy prestasie op die vorige jaar se veiling; dit beteken dat ’n nuwe teler heel agter moes begin.

Om in die eerste paar rye te staan, veral onder die eerste ry se tien staanplekke, was ’n prestasie op sy eie waarna almal gestreef het. Plaas- en produksieveilings wat hierdie nasionale veiling in latere jare sou vervang, het toe nog nie bestaan nie. Indien jy naam wou maak in die stoetbedryf, moes jy jaarliks op hierdie nasionale veilings in Bloemfontein ’n haas uit die hoed pluk .

Oom Dirk sê hy het die voorreg gehad om ’n paar keer in daardie voorste ry te staan, en vergelyk dit soos volg: Om in daardie boonste gang te bly was ’n “slippery aisle for ram and master”. Sy wyse woorde was ook dat die Merino-bedryf en skaapteling soos ’n pendulum is wat van te veel na te min swaai. Wanneer jy in die middel van die pendulum se swaai bly, kry jy die voordeel van albei uiterste kante. Dit is waar die minste risiko is en waar jy die minste kan seerkry.

Na my beskeie mening geld dit ook vir die lewe; dit is wys om in die middel van die pad te loop en nie die adrenalien, swier en skynbare lekkerte van die uiterste kante van die lewe na te jaag nie. In die middel sal jy die minste skade kry, ook aan jouself!

Carlton versus Hilton

’n Ander legende uit die Merinobedryf was wyle oom Richard Rubidge van die alombekende Wellwood-stoet van Graaff-Reinet. Oom Garth Cloete vertel die volgende staaltjie, ook uit daardie bloulint-tydperk.

Die staanplekke, soos vooraf genoem, was baie belangrik vir die teler en ’n baie gevoelige onderwerp by die Bloemfonteinse ramveiling. Die plek wat die beampte aldaar aan oom Richard toegeken het vir sy ramme se waterbakke, voerkrippe en ander benodigdhede – asook vir die vashouers wat die ramme moes oppas en groom – was na oom Richard se sin veels te ver van sy ramme se staanplekke af.

Oom Richard het toe die volgende skitterende en goed-deurdagte vraag aan die verantwoordelike beampte gevra: “Sal jy daarvan hou om in die Carlton Hotel te slaap, maar jou kos moet elke dag van die Hilton Hotel af kom?” Die Carlton Hotel was in daardie jare ’n bekende topklas hotel en die Hilton ’n ondergemiddelde een. Die beampte het geglimlag, vinnig ’n ander plan gemaak, en oom Richard het ’n beter plek vir sy vashouers én hul benodigdhede gekry.

Elke hond kry nóg ’n dag

Ek sluit af met ’n staaltjie van wyle oom Jan ‘Petrol’ du Toit, die legendariese skaap- en woladviseur van wie ek in die vorige artikel vertel het. Hy moes eendag gaan skaap klas daar in die Karoo by ’n tannie wie se man al oorlede is. Sy het groot vertroue in oom Jan gehad, en nadat hulle klaar die jong ooie geklas en koffie gedrink het, het sy hom gevra of hy nie vir haar ’n guns sal doen nie.

Soos dit ’n goeie adviseur betaam, was hy te gewillig. Sy het gevra of hy nie asseblief haar klein worshondjie, wat al baie oud en sieklik was, sal uitsit en hom sodoende van sy aardse lyding verlos nie. Oom Jan het ingestem, die hondjie in sy motor gelaai en die tannie gegroet. Ná ’n entjie se ry op die plaaspad het hy uiteindelik besluit om die moeilike taak uit te voer. Hy het die hond in ’n streepsak gesit, die bek van die sak met ’n tou oor die motor se uitlaatpyp vasgemaak en die motor vir ’n goeie tydjie laat luier.

Ná ’n ruk het hy gedink sy rol as doodsengel is vervul, want daar was geen beweging meer in die sak nie. Hy het die motor afgeskakel en die sak losgemaak. Groot was sy verbasing toe hierdie klein worshond ewe rats uit die sak spring en hom kordaat staan en aanskou!

Oom Jan het dié hond so jammer gekry dat hy daar en dan besluit het: Net omdat die hond hierdie hinderlaag van die lewe oorleef het, gaan hy hom maar saamneem huis toe. Die worshond het nog lank by hulle in die huis gebly en sy laaste dae vreedsaam geslyt. – Pierré Vlok

Boost young animals’ immunity before the lambing and calving season

Estimated reading time: 4 minutesVaccinating ewes and cows four to six weeks before lambing...

Klimaatslimboerdery bied kos vir die siel én die veld

Estimated reading time: 8 minutesDit het Veronica Rorich se passie geword om herwinningsboerdery aan...

AFMA Matrix September 2026 – Forum issue now available

Estimated reading time: 2 minutesThe September 2026 edition of AFMA Matrix is a special...

Green grazing: Nutritious, but incomplete

Estimated reading time: 4 minutesThe first good rains of the season always bring relief...